Skryfterapie: Hartseer hoef nie stom te wees

Sy het voor ’n spieël gestaan en van ’n “baie ver plek” na die vrou voor haar gekyk. “Ek het geweet sy sal nooit weer bestaan nie,” skyf Lizette Rabe in haar jongste boek Om tot verhaal te kom. “Sy sal ’n nuwe identiteit moet kry. Sy sal tussen woorde – honderde, duisende, miljoene – moet swerf om iets te probeer vind wat sin maak,” verduidelik Rabe ter inleiding tot hierdie “werkboek” met die subtitel Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie, voor sy saamvat: “Sy sal deur woorde tot verhaal moes kom.” 


Kerkbode het aan die skrywer gevra:

KB: Jy praat met weerloosheid oor die genesing wat “journaling” in jou lewe help bewerkstellig het. Hoe jy jou “toevlug tot woorde moes neem” na trauma in jou gesin. Was hierdie vir jou ’n moeilike boek om te skryf of was dit ’n voortsetting van daardie einste helende proses? 

Vir joernaliste is skryf soos asemhaal. Dit kom vanself. Ons kan nie dink sonder ’n pen in ons hand nie, en vingers op ’n toetsbord vind hul eie weg. Die boek was ’n uitvloeisel van my persoonlike poging om “verhalend tot verhaal te kom“. Ek het ná ons onvoorstelbare tragedie my asem probeer terugvind in woorde. Om met sinne sin te probeer maak van dit wat net nie sin gemaak het nie. Ek skryf steeds elke dag, in ’n steeds desperate poging, om te probeer sin maak deur sinne te maak. In my swerftogte tussen woorde het ek ontdek skryfterapie is ’n hele wetenskaplike veld, en vir sommige gelukkiges selfs die antwoord hoe jy jou amper inherent geprogrammeerd kan wend tot skryf, enige soort skryf, van dagboekhou tot dig, sou trauma jou tref. Net ’n asterisk by die woord “heling“. Dis ’n gelade woord; vir my kan daar nie sommer iets soos “heling“ wees nie. Dit beteken jy moet weer “heel“ wees – soos voorheen. Dit kan nie; jy kan nooit weer daardie mens wees nie. Ek is versigtig vir sulke woorde; dis deel van die kits van ons kitsbestaan. Dieselfde met “closure“, wat veral ons media tog so graag gebruik omdat almal so graag wil hê die trauma moet asseblief tog net aanbeweeg. Maar trauma blý. Die ander beweeg aan en wil hê jy moet ook, om weer jou ou self te wees, “heling“ te vind, “closure“ te vind; om om hemelsnaam tog net áán te beweeg omdat dit so moeilik is vir diegene rondom jou om met jou vreeslike verdriet gekonfronteer te word. Dis deel van ons brose menslike psige, en te verstane. Dis soos die mens is. Maar die verdrietiges kan nie sommer net aanbeweeg nie. En gelukkig is daar dan hulp, ook in die vorm van skryfterapie.  

KB: Jou uitgangspunt is dat skryf terapeuties is – dat dit inderwaarheid terapie is. Hoekom is dit soms vir ons so moeilik om dit te glo – vanwaar die weerstand wat mens soms beleef om net te gaan sit en neerskryf wat binne aangaan? 

Skryfterapie is soos enige ander terapie. Waar jy andersins by ’n terapeut, hetsy sielkundige of psigiater, of jou dokter, of ’n vriendin, práát oor waarmee jy in jou diepste binneste worstel, doen jy dit nou op papier of op die rekenaarskerm voor jou. Ek dink baie mense dink hulle kan nie skryf nie, terwyl hulle eintlik kan. Soos daardie Amerikaanse sportjoernalis Red Smith van lank lank gelede (hy is aan die begin van die vorige eeu gebore) gesê het: “There’s nothing to writing. All you do is sit down at a typewriter and open a vein.” Maar grappies ter syde. Natuurlik kan almal skryf, hulle moet net glo hulle kan.  

KB: Op bl 15 van jou boek is die mooi aanhaling uit Macbeth: “Gee aan jou hartseer woorde; die hartseer wat nie praat nie laat die oorval hart breek.” Dit voel asof dit op ’n manier in stryd is met ’n liedjie deur Koos du Plessis, waar hy sing
Kom kyk deur die ruite:
Die nag staan in blom.
Woorde hoort buite,
want hartseer is stom …

Dink jy dis deel van die proses om na traumatiese gebeure soos dood van ’n geliefde, egskeiding en ander skeefloopdinge, te stoei met die gevoel dat hartseer eintlik maar net stom is en stom hoort te bly?

Ek dink dis maar die paradoks van verdriet. En die paradoks van die lewe. Die jin en die jang. Hartseer móét uit, anders breek die hart daarvan. Maar hartseer is ook stom. Ons moet tussen dié twee uiterstes maniere vind om op die balanseerbalk van die lewe te bly – om die hartseer te laat uitkom, en tog te aanvaar dat dit eintlik nie moontlik nie. Byvoorbeeld, in geen taal in die ganse wêreld kan geskryf of beskryf word wat die omvang en diepte en wydte van die verdriet is om ’n kind te verloor nie. Ook so sal mense wat ander soorte verlies ervaar, maak nie saak wat dit is nie, dieselfde sê van hul verlies, want hul verlies is immers húl érgste verlies, en hulle is ook geregtig daarop om te voel hul lewe wat so traumaties van sy spore geloop het, is die ergste erg denkbaar. Verskillende verlies en verdriet is nie vergelykbaar nie – myne is nie erger as joune nie. En dis reg so. En ja, soms is dit stom. So moet dit ook wees. Maar soms moet ’n mens ook die stomheid tot uitdrukking probeer bring. Want anders breek die hart van ’n onsêbaar ondraaglike seer. 

Lizette Rabe se jongste boek.

KB: Jou akademiese ordeningsdrang kom sterk deur in die boek en deel van die wins daarvan is met hoeveel boeke, skrywers en webblaaie jy die leser verbind. Dink jy mense se bereidwilligheid om outentiek oor hulself en hul binnewêreld te skryf, hou tred met die reuse-aanwas in plekke en platforms waarop mens dit in ’n digitale wêreld sou kon doen? 

Daar’s natuurlik (gelukkig) te veel boeke en te veel platforms om by te hou met alles, ook waar om antwoorde te kry vir ons wat ons oë opslaan na die berge en nie weet waar ons hulp vandaan sal kom nie. Nou kan ons ook onder meer Dr Google probeer en kyk wat waar in die digitale universum weerklink. Ook goed so, want dit gee vir elkeen van ons ’n manier om met ons binnewêreld om te gaan. En dit maak nie saak hoe dit gestalte vind nie – om te kan skryf, of dig, of blog, of journal, of krabbel, of wat ook al. Of om op ander maniere kreatief te wees, want dit gaan eintlik maar om in en deur kreatiwiteit ’n greep te probeer kry op dit wat ons nie kan vasvat nie. Hoe anders kan die mens oorleef, of sin vind? Die millennia-oue vraag, sedert, vir ons in die Westerse tradisie, die Antieke Grieke begin vra het wie ons is, en hoekom ons is, en wat menswees nou eintlik beteken. ’n Persoonlik grootste genade en grootste troos is, godedank, dat ons nooit goeie boeke sal kan oorleef nie, want ook lees is ’n terapie en ’n smagting van die siel om te help om antwoorde te vind op vrae wat nie eens geformuleer kan word nie. En wat is ’n boek anders as om sin te soek te midde van al die onsin wat ons omgewe, veral in ons so gekke übergemedieerde wêreld? 

KB: Jy haal vir Freud aan wat sê outobiografieë se waarde word verminder deur hul blote middelmatigheid is dit ’n geldige vrees vir die dagboekhouer? Dat sy / haar storie en selfs haar / sy hartseer eenvoudig te saai is? 

Dis dalk onregverdig om Freud as maatstaf te gebruik vir mense se eie verhale en ons gewone mense moet ons nie deur hom laat afskrik nie. Hy was ’n nuwe denker wat die psigoterapie in ’n nuwe rigting gestuur het, ’n unikum vir sy tyd, en sekerlik sou hý van alle mense nie sy binneste buitetoe dop nie; netnou analiseer mense hom soos wat hy nog die heel tyd met ander gedoen het. Maar ek dink geen mens se lewe is “middelmatig“ nie. Elkeen van ons ís ’n storie – Muriel Mukeyser: die heelal bestaan nie uit atome nie, maar uit stories. En al skryf jy joune net vir jou eie familie, doen dit. Dis ’n ordening en ’n oudit en ’n verrekening én verkenning van jou dag en dae, elke nuanse daarvan.  

  • Rabe is professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Sy bied op Saterdag 7 en 14 Maart (09:00 tot 13:00) werkwinkels oor skryfterapie aan op grond van haar boek. Dit vind plaas van 09:00 tot 13:00, met registrasie van 08:30. Bespreek aanlyn by Quicket. Vir meer inligting, kontak Ithemba by ithembafoundation@mweb.co.za