Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Om verlies te probeer systap, bring nuwe gif van sy eie’

Gif deur Anna Emm
Uitgewer: Anna Emm Boeke, 2019


Party van ons hou daarvan om te lees voordat ons gaan slaap. Moet dit egter nie met Gif probeer nie. Jy sal òf klaar lees tot vroegoggend, òf wakker lê omdat jy wonder wat gebeur verder.

Gif is Anna Emm se eerste fanta­sieverhaal vir volwassenes. Dit is ’n lek­kerlees, adrenalien-gevulde sto­­­rie vol raaisels en intriges wat jou aan­geskakel hou om aan te hou uit­vind wat gebeur.

Soos dit ’n goeie fantasie betaam, is daar heelwat metafore in die storie te vinde wat die potensiaal het om te resoneer met temas in ons eie lewe. Die vernaamste van hierdie metafore, is natuurlik die titel van die boek self. Ons eie teleurstellings, verliese en mislukkings kan gif raak wat ons binneaars aan onsself toedien.

Gif het my laat dink oor die dinge waaroor ek bid. Wat is my ver­antwoordelikheid as ek iets vra? Wat het ek gedoen wat die vra nodig gemaak het? Ek vra nou dinge van God – maar wat word eintlik van my gevra?

Enige mens sal seker die kans aangryp as iemand vir jou vra: Watter een ding sal jy graag in jou lewe wil anders hê? Meeste van ons sal vir ’n ander lewe of ander omstandighede wil wens. Anna Emm skryf nie net oor die uitwerking van gif nie. Ons ontdek saam met haar watter kragtige teengif teen vrees bestaan: Om deur verlies te beweeg is die enigste opsie. Om verlies te probeer systap, bring nuwe gif van sy eie.

Die boek lees baie maklik. Dit is feitlik in dubbelspasiëring geset en in lekker praattaal geskryf. Moet egter nie “eenvoud” verwar met “opper­vlak­kig” nie. Selfs die hoofkarakter se naam, Geo, het ietsie oor die werklikheid te sê, as jy lank genoeg daaroor wil dink. Maar jy hoef ook nie.

▶ Dr Siegfried Louw is ’n predikant by die NG gemeente Proteahoogte.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top