“Die voortslepende droogte waar mens en dier op hulle knieë gedwing is, bring verhale van mense wat juis in hierdie onuitspreeklike omstandighede hoop en selfs ook nuwe hoop gevind het. Nuwe lewe, so te sê, in hulleself, in hulle verhouding met ander, met God,” skryf Anoeschka von Meck in die voorwoord van dié boek. Hier kuier sy by alleenboervrou Lee Laubsher en haar “veegoed” in Brandvlei.
“My boerdery is maar eenvoudig,” vertel Lee my in haar sitkamer by haar swaar houttafel van dwarslêers waar daar al heerlik voor die vuurmaakplek gekuier is. “Jy kan my nie vergelyk met die vroue wat groot kommersieel en wetenskaplik boer nie. Ek is ’n bestaansboer.”
Destyds toe ek Lee ontmoet het, onthou ek hoe verstom ek was dat ’n vrou in hierdie dag en tyd nog sou kies om te boer. En dit, vingeralleen. Intussen het ek baie wyser geword. Daar is heelwat van hierdie boere wat hulle deur niks en niemand laat afsit nie.
“Al was ek op ’n tyd in die polisie en het ek dit baie geniet, was boer nog maar altyd deel van my,” vra ek haar uit oor hoekom sy hierdie lewe kies terwyl sy weet hoe gevaarlik dit nou vir boere is. “Van kleins af het ek met plastiekdiertjies plaas-plaas gespeel. Ek het ’n hele koekblik vol van hulle gehad,” onthou sy.
Lee was op haar dag ’n luitenant-kolonel.
Ek ken twee Lee’s. Lee op haar plaas en Lee in die dorp. Op haar plaas kan jy sien sy is aan die werk. Sy dra dikwels ’n snaakse hoedjie, growwe skoene en ’n veehaakkierie. Daar is nie tyd vir fieterjasies nie. Dit is in en uit by die voordeur, honde agterna. Op die stoof staan ’n groot kastrol waarin die hansies se melk en rooibostee geroer word. Maar kom Lee op die dorp, hou sy daarvan dat haar kapsel reg ingedraai moet wees, die klere smaakvol en altyd oorbelle vir afronding.
Dat sy hulle byna altyd ook verloor, is ook ’n feit.
Lee praat van haar “veegoed”. Sy boer al 25 jaar. Lee ken haar diere en wanneer daar niemand byderhand is om haar koei te melk nie, doen sy dit self.
“Ek was nog altyd baie lief vir die bontskaap, want dit is ’n vrugbare skaap en gehard in die veld. Ek is lief vir bont goed! En vir bokke en vir beeste!”
Ek vra oor die droogte en waterbronne. Lee se grond val onder somerreëns. Sy teken haar reënvalsyfers voor in haar Bybel aan.
“Ons probeer tot so Februarie uithou, dan weet ons, ons het nou ’n lekker groen winter. As ek net so twee duim harde reën in die seisoen kan kry. Die gronddam hier agter, as hy nou lekker vol is, kan ek my ander dammetjies uit hom vol maak. Die dam se water kom uit die buiteveld. Ek is so gelukkig dat nog nie een van my boorgate opgedroog het nie. Dan het ek ook nog die riviergrond. Dit help nou ook. Ek het nou my skapies soontoe geskuif, maar dan word hulle daar weer deur die jakkalse en die katte gevang.”
Die eerste keer wat ek daarvan gehoor het – van varke wat skape vang – kon ek dit moeilik glo. Lee vertel sy het groter las van hierdie wilde varke, wat eens aan iemand behoort het, as rooikatte of jakkalse.
“O, die varke! Iewers het daar ’n duisternis varke in die veld gekom wat ons skape se kos vreet. Dit was aanvanklik mak varke wat hier in die rivier afgekom het. Hulle teel mos aan by die hordes en ’n mens kry hulle eenvoudig net nie uitgeroei nie. Hulle disintegreer in die erdvarkgate in. Nou maak jy jou draad reg tussen jou en jou buurman en môre is daardie pale deur die varke omgedruk.”
Lee vertel sy het al een van die varke met ’n lam in die bek gesien.
“En ek sê net gou vir jou hulle is uitgeleerd. Ons het al probeer vang van hulle. My werksmense is mos mal oor die varkvleis. Dis ’n groot probleem. As die rivier droog is, gaan hulle ook na die suipdammetjies. Party so groot soos beeskalwers.”
Hoe het die droogte ’n impak op haar finansies?
“Ek kan nie net sommer meer besluit om Kaap toe te ry nie, want jy moet nou net eenvoudig elke sent omdraai. As ek nou iets begeer soos ’n paar skoene, dan meet ek dit aan die waarde van ’n sak mielies vir my diere.”
Die eensaamheid vang Lee soms oor naweke en oor Desembermaande.
Sy verwys na haar plaas as “Alleentjies” en stuur saans ’n aandboodskappie vir haar vriende op die dorp.
“Ek sê ook vir mense, moet nie Desembermaande kom kuier nie, want dit is nie lekker hier nie.”
Haar sonkrag is te swak om waaiers te kan gebruik. Jy leer maar so om met die hitte, wat dan op sy ergste is, saam te leef. Gelukkig maak sommige van haar vriende plan en wanneer hulle op pad see toe langs die grootpad verby kom, wag hulle eers daar vir haar. Lee ry af om hulle daar te kry en daar word piekniek gehou langs die pad voor almal weer hulle eie rigting kry.
“Dit troos darem ’n bietjie. Dat ek ook mens sien.”
Op Kersdag is sy gewoonlik stoksielalleen.
“Ek bly by my huis om na my goed te kyk, want niemand kan beter na jou goed kyk as jyself nie, maar dit is nie lekker nie. Maar jy raak mos maar gewoond aan goed. Dit is my tradisie.”
Lee sê sy hou nooit op na haar twee volwasse kinders verlang nie.
“Toe my dogter in die Kaap begin werk het, en ek ry Vrydae van die dorp af plaas toe, was dit erg om te besef die plek hier langs my in die bakkie is leeg.”
Wat is spesiaal hier?
“As ek saans gaan lê, die rustigheid. En smôrens is dit mos ’n koor.
“Dis heerlik om met my tablet in die kooi te gaan sit en dit is doodstil.
“En as my hartsmense vir my kom kuier op die plaas. Van Hermanus byvoorbeeld. Ons maak pot op die vuurtjie. Dit is die prima-tyd in my lewe. Ek hou van mense en wil nie op my eie wees nie.”
Lee kyk oor my skouer oor haar erf uit wanneer sy hardop wonder oor hierdie droogte.
“Calvinia se mense dink partykeer as hulle reën kry, kry ek ook reën. Ons ken mos maar die droogte van hierdie wêreld, maar hierdie droogte, kan ek vir jou sê – ek ken dit nie.”
Lee ry gereeld van haar veegoed terug huis toe aan.
“Ek ry maar kort-kort ‘draadkarre’ huis toe en gee vir hulle ’n ekstra voertjie. Ek kan ’n ooi met ’n tweeling nie weerstaan nie. Dan hou ek hulle hier om die huis in ’n kampie tot hulle weer sterk genoeg is.”
- ’n Verkorte en geredigeerde uittreksel uit Net voor die droogte my breek (Christelike Lektuurfonds).