Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Drie vrae is gevra: Hoe red ons die skool, hoe bou ons een gemeenskap en hoe hou ons as kerk die plaaslike regering verantwoordbaar? Só berig Braam Hanekom uit Victoria-Wes as deel van die #100DorpeDialoog. Foto: SPG

Wat seerder as droogte kan maak …

Daar is inderdaad dinge wat ’n gemeenskap seerder as die droogte kan maak, berig Braam Hanekom uit Victoria-Wes. 

Dit was een van die vernaamste punte wat uitgekom het in ’n gesprek wat die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) onlangs tussen ’n aantal kerke en gemeenskapsleiers op dié dorp fasiliteer het. Terwyl die droogte ’n soort kollektiewe trauma veroorsaak, is dit die voortgaande gebrek aan eenheid en verdeeldheid wat gemeenskappe nog seerder maak. Dit sluit dinge soos wantroue en agterdog, vooroordele, gebrek aan wedersydse respek en rassisme in.

Drie vrae is veral gevra. Hoe red ons die skool, hoe bou ons een gemeenskap en hoe hou ons as kerk die plaaslike regering verantwoordbaar?

Terwyl daar ook gepraat is oor individuele projekte, wat veral op vaardigheidsontwikkeling gerig is, was die konsensus dat as die gemeenskap nie verenig nie, die kans soveel swakker is dat die projekte gaan slaag. Daar was verder die konsensus dat die heraktivering van die leraarkring (fraternal) van kardinale belang is. Nuwe ywer bestaan daaroor. Hierdie kring van leraars kan saam met ander gemeenskapsleiers dan in konstruktiewe gesprek met die munisipaliteit en die skool tree.

Intussen verstaan al meer mense dat die uitdagings wat ons tans op die platteland ervaar nie oornag en met goedkoop antwoorde reggemaak kan word nie. Die belang van gesamentlike, volhardende gebed en verootmoediging is daarom ook onderstreep.

 

 

 

Raak betrokke

Daar is heelwat geleenthede om te help op Victoria-Wes. Daar is reeds twee inisiatiewe wat met vrymoedigheid ondersteun kan word. Die rolprentteater, die Apollo, is in sy ou glorie gerestoureer en daar word tans vaardigheidsklasse en talentkompetisies vir die gemeenskap aangebied. Alhoewel die Apollo in die ou dae onder die apartheidswette ’n geskeide teater was, het die gemeenskap tog daar bymekaar gekom. Die gerestoureerde gebou kan tog ’n nuwe simbool van hoop vir ’n nuwe gemeenskap word.

Genadelandvaardigheidsentrum keur elke jaar 10 leerlinge om vir ’n jaar ná matriek opleiding in dissipelskap, lewensoriëntering, praktiese vaardighede en begeleiding ten opsigte van hul toekoms (studies en so meer) te ontvang. Alhoewel die getalle klein is, word daar kwaliteitsverskil in leerders se lewens gemaak.

Beide die projekte kan ondersteun word deur die kerkkantoor op Victoria-Wes by (053) 621 0268 of ngkerkvicwes@gmail.com te kontak.

Waaroor gaan #100DORPEDIALOOG?

By die SPG glo ons vas dat een van die grootste foute wat ons ná 1994 gemaak het, was om nie genoeg tyd en aandag aan die herstel van die netwerk van verhoudinge op voetsoolvlak spandeer is nie. Daarom het ons vir onsself die ideaal gestel om in ten minste 100 dorpe regoor Suid-Afrika gesprekke te fasiliteer waar kerkleiers en gemeenskapsleiers saam oor die toekoms van hul dorp kan praat. Dit is nie maklike gesprekke nie, maar die resultaat is elke keer fassinerend. Daar is reeds meer as 40 sulke gesprekke gevoer. Ons aanvaar egter dat daar ook al meer gesprekke plaasgevind het waarvan ons nie bewus is nie en wat nie deur die SPG geïnisieer is nie. Dit maak nie saak nie. Oor elke gesprek is ons dankbaar. Vir meer inligting, kan die kantoor egter by (021) 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za gekontak word.

  • Die SPG is ʼn gesamentlike inisiatief van die NGK (Wes-Kaap) en VGK (Kaapland).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top