“Seksopvoeding” het te doen met die fisieke aspekte van hoe om seks te hê en word nie in Suid-Afrikaanse skole aangebied nie. “Seksualiteitsopvoeding”, daarenteen, fokus op verhoudings, ontwikkeling en ouderdomsgepaste inligting en is wel deel van die leerplan.
Die bogenoemde onderskeid is een van die kernpunte wat leiers in die Departement van Basiese Onderwys vanjaar met hernieude ywer probeer duidelik maak sedert hulle in die spervuur beland het oor omvattende seksualiteitsonderrig in skole, of soos amptelik na verwys word: Comprehensive Sexuality Education (CSE).
Die department het in Januarie ’n reeks “konsultasies” gereël om, in hulle eie beskrywing, misleidende inligting, “fopnuus” en wanopvattings op te klaar. Op 23 Januarie was dit geestelike en tradisionele leiers se beurt om in Pretoria aan die gesprek deel te neem. Dr Granville Whittle, die adjunk-direkteurgeneraal: versorging en ondersteuningsdienste van die Departement van Basiese Onderwys, het geestelike leiers uitgedaag: “You cannot object to CSE if you did not read the curriculum. So read it and let’s have an informed discussion. This does not have to be the end of the conversation.”
Ds Nioma Venter, PSD Diaconia en ondervoorsitter van die Algemene Sinode, meen die kerk word uitgedaag om in die lig van Suid-Afrikaanse realiteite rondom seksuele geweld, MIV-syfers en tienerswangerskappe toenemend by waardevorming betrokke te raak en in die besonder jong kinders hierin te begelei. “As waarnemer (by die konsultasie) was dit vir my duidelik dat die aanvanklike reaksie baie emosioneel was, met geen of baie min insae in die inhoud van die kurrikulum, hoe dit aangebied word en ’n klomp mites of mistastings oor sekere temas van CSE,” aldus Venter.
CSE was reeds sedert 2000 ingesluit in die vakke Lewensorïentering en Lewensvaardighede van die CAPS-kurrikulum. Wat intussen verander het, is dat die Departement in 2015 uitgewerkte lesplanne ontwikkel het om opvoeders en leerders te help om hierdie belangrike onderwerpe op ’n sistematiese manier te dek.
Badisa is ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaap) en die VGKSA (Kaapland) wat fokus op maatskaplike nood. In hulle kapasiteit as geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie wat verbind is tot die beste belang van die kind, het drie van hulle kinderbeskermingspesialiste gevra om die hele CSE-kurrikulum te bestudeer en daaroor terugvoer te gee. Hierdie terugvoer sluit in:
- Die kurrikulum is wetenskaplik akkuraat en leer kinders om korrekte terminologie te gebruik. Dit is van kritieke belang aangesien seksuele misbruik so gereeld ongesiens verbygaan en kinders nie weet hoe om te praat oor wat met hulle gebeur nie.
- In die meeste gevalle is die materiaal ouderdomsgepas en dit spreek kritieke scenario’s aan waarin kinders die geleentheid het om te oefen om positiewe keuses te maak en begrip te ontwikkel vir die gevolge van hulle keuses.
Me Buyiswa Mpini, Nasionale Programbeampte van UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization), het in haar voorlegging klem gelê op die doelwit van CSE as synde om:
- Seksuele misbruik te kan identifiseer en aanmeld.
- Nie met MIV geïnfekteer word nie, en indien reeds MIV-positief is, op behandeling sal bly.
- Swangerskap te kan voorkom.
- Die afknouery van boelies en negatiewe portuurdruk te kan hanteer.
- Te weet waar om hulp te vind in die geval van verkragting, TB, antiretrovirale medikasie, voorbehoeding en alkohol- en dwelmmisbruik.
- Graad 12 te voltooi.
Wat is CSE?
Volgens die Departement van Basiese Onderwys is dit ’n kurrikulum-gebaseerde proses van onderrig en die aanleer van die kognitiewe, emosionele, fisiese en sosiale aspekte van seksualiteit.
Dit poog om kinders en die jeug te bemagtig met kennis, vaardighede, gesindhede en waardes om hulle te help sin maak en veilig deur die oorgang van kinderjare na volwassenheid te beweeg sodat hulle:
- hulle eie gesondheid, welstand en waardigheid kan laat realiseer;
- respekvolle sosiale en seksuele verhoudings ontwikkel;
- nadink oor hoe hulle keuses, hulle eie welstand en dié van ander, beïnvloed; en,
- te laat verstaan en te verseker dat hulle regte regdeur hulle lewe, beskerm word.
BRON: Departement van Basiese Onderwys-inligtingstuk.

Hierdie uiters kontroversiële CSE-programme strek veel verder as tradisionele seksopvoeding, aangesien dit die jeug indoktrineer om radikale seksuele en geslagsideologieë te omhels, seksuele regte en aborsie te bevorder en promiskuïteit, hoërisiko-seksuele gedrag en seksuele plesier aan te moedig, selfs tot die jongste van kinders. Kortom, hierdie programme is ontwerp om die seksuele en geslagsnorme van die samelewing dramaties te verander. Dit is vir my teleurstellend dat my kerk so onkrities met die saak omgaan en blykbaar niks te sê het oor hoe die besware van Christene by vergaderings hanteer word nie.
Teleurstellend, Pieter maar nie onverwags nie. Ons kerk (ten minste die Algemene Sinode) weet dan nie meer wat ‘n huwelik is nie!