Vroeëkinderontwikkeling (VKO) word gesien as ’n “reddingsboei” in ’n stukkende samelewing. “Dit is deel van die oplossing, maar meer kompleks as dit, sê Riana Furniss, senior maatskaplike werker by Steinthal-kinderhuis in Tulbagh. CONETTE LE ROUX het met haar gesels oor emosionele wonde, ouers wat nie hulle kinders kán of wíl opvoed nie, en terapie.
Jy het in 2019 aan Kerkbode gesê die graad van gebrokenheid het 100% onder kinders toegeneem. Kom terapie eerste en daarna onderrig of loop die twee hand aan hand?
Dit is ’n feit dat kinders wat gevoed en versorg is beter voldoen aan akademiese eise. Al is die kind in vyfsterweelde met die beste skole tot sy beskikking sal hy steeds nie vorder as hy emosioneel gebreek is nie. Wat is nou eerste, die hoender of die eier? Dinge moet gelyklopend gebeur. Soms is dit byvoorbeeld nodig om kinders vir ’n week of twee nie te laat skoolgaan nie sodat hulle net eers emosioneel kan aanpas en die ergste trauma kan hanteer. Ons onderwysstelsel is nie gerat om dit te hanteer nie. Kleiner klasse met personeel wat opgelei is om getraumatiseerde kinders te hanteer is ’n groot behoefte.
Watter struikelblokke steek ’n stokkie voor kinders se ontwikkeling?
Ons leef in ’n siek samelewing waar kinders byna van babadag af blootgestel word aan seksuele aktiwiteite wat hulle aanskou of beleef sowel as drank- en dwelmisbruik. Vaardighede wat hulle moet baasraak in elke ontwikkelingsfase word nie bemeester nie. Hulle word dus emosioneel te vroeg oopgesluit en verwond en het nie die intellektuele of emosionele vaardigheid om dit te verwoord of te verwerk nie.
VKO word gesien as die reddingsboei. Dit is myns insiens net ’n deel van die oplossing. Die probleem is veel meer kompleks as dit. Weereens word daarop gereken dat iemand anders die verantwoordelikheid sal neem vir kinders se opvoeding. Ons sit met ’n tsoenami wat dreig om alles om hom plat te vee as ouers nie ook tot verantwoording gebring word nie. Kinders het kinders en met elke geslag word die probleem groter. Die opvoeding en opleiding van ouers is krities belangrik.
Mense praat maklik van voorafbenadeelde mense sonder om die diep impak wat dit het te besef. Ouers werk voltyds en het nie tyd om aan kinders se ontwikkeling te bestee nie. Dit is nie ingewikkelde goed nie, byvoorbeeld watter kleur is jou hempie? Watter geluid maak dié soort dier? Baie kinders word aan hulleself oorgelaat of in die sorg van ander kinders gelos. Ander kinders weer in die sorg van hulle grootouers wat nie energie het om aandag aan ’n kind se ontwikkelingsbehoeftes te gee nie. Kinders word dus oor die spektrum van ryk en arm toenemend aan TV toevertrou om hulle op te voed.
Watter terapie werk veral goed vir getraumatiseerde kinders?
Ons leun swaar op spelterapie. Spel is ’n kind se taal. ’n Mens leer meer deur ’n halfuur saam met ’n kind te speel as deur urelange verbale kommunikasie. Die rede is dat kinders soms nie die woordeskat het om emosies te beskryf of om te sê wat hulle beleef het nie. Hulle kan dit wel uitspeel. Vertroue is hier baie belangrik. ’n Kind sal net sy binnekant oopsluit binne ’n ruimte waar hy veilig voel. Teken is deel hiervan asook sandterapie wat ’n vorm van spelterapie is.
Musiekterapie is ook baie waardevol. Musiek is ook ’n universele taal. Dit ontsluit ook dikwels emosies wat nie op ’n ander manier uitkom nie.
Daar is nog nie ’n wenresep wat oral vir almal werk nie.
Ons besef ook elke keer dat om ’n stukkend gebreekte mens heel te maak nie menswerk is nie. Net die Here kan.
- Riana Furniss is ’n lid van die Wes-Kaapse Sinode se moderatuur.
