Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In ’n onlangse tekenprent wat wyd op sosiale media versprei is, word Jesus met ’n magdom volgelinge agter Hom uitgebeeld waar Hy die kerk vingerswaaiend teregwys: “Hou op om my kinders te boelie,” kom die woorde uit sy mond. Hierdie skets verteenwoordig ’n narratief wat ook in die NG Kerk algemeen geword het. Dit het mode geword om die kerk te verwyt en te beskuldig. “Die kerk is liefdeloos”; “Die kerk is rassisties”; “Die kerk is eksklusief en gender-onsensitief”; “Die kerk beskerm ’n uitgediende patriargale sisteem” en so word die een beskuldiging na die ander na die kerk geslinger – natuurlik altyd in die grootste liefde!
Die tragedie van hierdie narratief is dat dit met ’n verskraalde beeld van die werklikheid en die geskiedenis werk. Natuurlik is en was die kerk en met name die NG Kerk nog nooit “sonder sonde” nie. Wie die kerk egter as ’n boelie beskou, vergeet gerieflikheidshalwe van die positiewe bydrae wat die kerk in Suid-Afrika deur die geskiedenis van hierdie land gemaak het.
Dit is die kerk wat vir meer as 300 jaar ’n geestelike tuiste vir miljoene lidmate gebied het. Dit is die plek waar hulle kon sing en bid, waar hulle vertroosting en hoop kon vind, waar hulle kon dien en bou en leer.
Dit is die kerk wat hospitale, skole, kinderhuise en tehuise vir bejaardes gebou het. Dit is die kerk wat in tye van nood maatskaplike dienste aan almal in die samelewing gelewer het. Dit is die kerk wat die evangelie in Suidelike Afrika ingedra het. Dit is die kerk wat geld gegee het vir Bybelvertalings en Bybelverspreiding. Dit is die kerk wat in 2020 steeds ’n hawe bied aan doodgewone lidmate wat week na week die storms van die samelewing moet trotseer.
Miskien is dit tyd om ’n beter tekenprent te teken en te versprei: ’n Prent van Christus die Oorwinnaar wat sy kerk vashou en wat vir dié wat net vir Jesus wil volg en vir die wêreld sê: “Hou op om my bruid te boelie!” Miskien sal so ’n prent ons ook opnuut herinner aan wie en wat die kerk is – dat dit “’n heilige vergadering is van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en wat in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees” (NGB 27). Miskien sal ons onthou dat dit ook van die NG Kerk waar is.
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
