Om die lewe te geniet ten spyte van …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

As ek op die stoep sit en om my kyk dan sien ek mense wat onder druk lewe.

Ek sien predikante wat soms knak onder die swaar vrag wat op hulle ge­plaas word deur lidmate wat self
swaar dra.

Ek lees in Psalm 90 vers 12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” En ek bid ’n gebed wat ek gelees het: “O God, ek roep na U vroeg in die môre. Help my om te bid en om my ge­dagtes op U te rig: Ek kan dit nie alleen doen nie. As daar duisternis in my is, is daar lig vir my by U; ek is alleen, maar U verlaat my nie; ek is broos, maar by U is daar hulp; ek is rusteloos, maar U gee my vrede; ek is vol bitterheid, maar by U vind ek berusting; ek verstaan nie u weë nie, maar U ken my pad … Maak my vry, en gee dat ek so sal lewe dat ek aan U van myself kan rekenskap gee … Amen”.

Psalm 90 is Moses se gebed as hy oor sy lewe terugdink en sug dat ’n mens maar sewentig of dalk as jy sterk is 80 jaar oud word en die tyd vlieg soos ’n ge­dagte verby. Dan kom hy met ’n slim antwoord. Hy sê ons moet ons lewe nie in jare tel nie maar in dae. Ek dink dit maak sin want die Here gee nie vir ons jare op ’n slag nie. Hy gee vir ons ’n dag op ’n slag.

Julle sien, dit is ’n wesenlike gevaar dat ons lewe so vinnig by ons verbygaan want ons vergeet die dae in die jare. Daarom sê Moses in vers 14: “Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.” Here gee vir ons u liefde elke dag so in oorvloed dat ons daardie dag so geniet dat die dag nie sommer by ons verby­vlieg nie. Moses wil sy lewe in dae tel en elke dag voluit gebruik.

Interessant dat ons dikwels ’n jaar lewe waarvan ons min dae regtig kan onthou, maar dan vir ’n paar dae met verlof gaan en ons kan feitlik van elke uur verslag lewer.

Hoekom is dit so? Dit is omdat ons met die genade van die Here dan in die oomblik lewe.

Hier waar ek op die stoep sit wil ek dus vir jou die raad gee: “Wees in die oomblik.” Iemand het gesê ’n pelgrim op die lewenspad is iemand wat bewus is van die buitelandskap en die binne-landskap. Jy is bewus van jou liggaam want jy moet die liggaam oppas. Jy moet jouself oppas en van jouself bewus wees. Wie is jy en waar is jy moet ’n bewuste denke wees elke dag.

Hoe doen ’n mens dit? Ek dink die vyf sintuie wat die Here vir ons gegee het moet ons weer begin waardeer en gebruik.

Kyk, luister, hoor, voel en proe wat om jou aangaan. Wees dankbaar vir die klein dingetjies en tevrede met waar jy is en wie jy is. Geniet die lewe ten spyte van …

Ds Johan Brink is voorsitter van Goudland-sinode.