“Hierdie bediening gee ’n mens die geleentheid om in die gemak van jou eie huis die evangelie te deel,” skryf dr Daléne Flynn.
Crossroads Prison Ministries bestaan sedert 2011 in Suid-Afrika. Dit is egter al in die tagtigerjare deur Tom de Vries, ’n eiendomsagent, in die VSA (Amerika) begin.
Die bediening werk op ’n mentorsisteem en Chris en Noëlla Semmelink is twee mentors wat hulle ervaring van hierdie bediening met ons deel.
Chris het die lewensverhaal van Charles Colson, Life sentence, gelees waarin hy van sy eie tronkervaring vertel na aanleiding van die Watergate-skandaal en hoe hy tot inkeer gekom het in die tronk. Hy het ’n gevangenisbediening begin wat vandag wêreldwyd strek. Colson se aangrypende verhaal en die teks in Matteus 25 waar Jesus gesê het: “Ek was in die tronk en julle het My besoek,” het Chris aangespreek om by gevangenisbediening betrokke te raak. Hy het gesoek na ’n soortgelyke lekebediening in Suid-Afrika. So het hy by Crossroads Prison Ministries (CPM) betrokke geraak.
Chris is in 2011 deur ’n CPM-sendeling uitgenooi om saam met hom Baviaanspoort-gevangenis toe te gaan. Daar was ’n sertifikaatseremonie vir die eerste voltooiers van die eerste vlak-kursus (Great Truths of the Bible). “Ek was verras om te sien dat die gevangenes gewone mense is wat opgewonde en trots was om hulle sertifikate te ontvang,” sê Chris.
Daar was ’n keuringsproses en Chris en Noëlla moes getuigskrifte van hulle eie predikant inhandig en gekeur word. Die CPM-kantoor is baie ondersteunend en bied van tyd tot tyd toerustingseminare vir die mentors aan.
“Hierdie bediening het ons lewe ontsettend verryk.”
Die gevangenes wat inskryf vir die kursus ontvang Bybelstudies wat hulle moet voltooi. Dit word dan aan die mentors gestuur om te merk en die gemerkte Bybelstudies word met ’n bemoedigende brief aan die gevangenes teruggestuur.
“Die briefskrywery is ons grootste uitdaging, maar ook ’n wonderlike versterking van ons eie geloof”.
In die brief aan die gevangene moet hulle toesien dat hulle veral bemoedigend en opbouend skryf, want die gevangene se omgewing is baie afbrekend.
“Ek weet soms glad nie wat ek gaan skryf nie en dink die uitdaging is net te groot. Die Here het my egter nog nooit in die steek gelaat nie. Na ernstige gebed en stil word voor die Here het ek dit op die ou end nog altyd reggekry om wel die brief te kon skryf,” sê Noëlla.
Chris sê dat die brief hom help om sy eie geloof te verwoord. “Jy hoef nie ’n straathoek-evangelis te wees nie. Deur hierdie bediening kan jy jou geloof deel in die gemak van jou huis. Jy kry die geleentheid om te saai in die lewe van ’n ander persoon.” Dit maak hulle baie opgewonde. Ook die feit dat hierdie bediening geen ouderdomsbeperking het nie. Jonk en oud kan hieraan deel hê. Jy kan dit selfs doen al kan jy nie meer beweeg nie. Solank jy kan skryf en kan bid kan jy ’n bydrae lewer!
Sommige gevangenes kry geen ander briewe behalwe dié van hulle mentors af nie. Dit is vir hulle ’n kleinood en hulle vertel dat dit vir hulle ontsettend baie beteken. Sommige van die gevangenes word gespot en verkleineer omdat hulle die CPM-kursusse (twee vlakke) doen. Dit verander egter hulle lewe en baie kies om te getuig ten spyte van die vervolging. Heelwat mense kom juis in die tronk tot bekering waar hulle besef dat hulle lewe in ’n doodloopstraat is.
Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Some fragrance always lingers in the hand that gives roses.” Hier is dit werklik die geval. Hierdie bediening beteken vir die gevangenes wat inskryf vir die kursus ontsettend baie. Menige van hulle lewens word vir altyd verander. Tog beteken dit net soveel vir die mentors. Noëlla sê dat dit haar geleer het van onvoorwaardelike liefde. Vir Chris help dit om sy geloof te verwoord en so die evangelie uit te dra.
Gelowiges wat die wêreld verander, een gevangene op ’n slag!
- Kontak Crossroads Prison Ministries by https://cpministries.org/international/south-africa
