Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Strydom (links) in gesprek met Eberhard Bertelsmann by die opneem van die podcast wat ook hieronder geluister kan word.

Hoogtepunte én donker dae

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ek gesels nou die dag met oud-regter Eberhard Bertelsmann oor moeilike goed, onder andere Eskom, disfunksionele stadsrade, SAL … ek vra hom wat hom nog hoop gee vir Suid-Afrika?

“Jy moet onthou ek het my geloof,” sê hy, “en ek het my eie verhaal van waar die Here my kom vat het.”

Jy sou ’n film oor sy lewe kon maak. Hy was advokaat, voorsitter van die balieraad en later hooggeregshofregter.

Maar dit is die dele tussenin, wat sy verhaal merkwaardig maak. Ek onthou hoe hy my eenkeer die storie vertel het van ’n man wat ontdek het dat die groot dinge in die lewe dikwels juis in die onderbrekings gebeur, en so was dit ook in sy eie lewe.

Eberhard is in Duitsland gebore teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in ’n tipe skuiling wat sy pa aanmekaar geslaan het uit die ruïnes van ’n huis wat afgebrand het na dit gebom is. Sy vroegste herinnering as kind is dat hulle as gesin ’n enkele saggekookte eier moes deel vir ontbyt.

Kort daarna is hy saam met sy ouers na Suid-Afrika. Hulle het ook vir ’n tyd lank in Namibië gewoon waar sy pa onder andere die redakteur was van die Duitse koerant, die Allgemeine Zeitung. Hy was sestien toe hulle verhuis na Pretoria. “Afrikaans is my taal en die NG Kerk, my kerk,” sê hy en vertel van sy voorliefde vir Afrikaanse letterkunde.

Na skool het hy besluit om regte te studeer, hy wou graag met mense werk en het ’n besondere liefde gehad vir tale.

Eberhard se eerste moeilikheid met die veiligheidspolisie het reeds op Stellenbosch in die laat 1960’s begin. Iemand het hom in sy tweede jaar genooi om saam met die digter Adam Small by ’n huis te kuier. Vieruur die volgende oggend skrik hy wakker toe lede van die veiligheidspolisie hom uit sy bed uit ruk en dreig, want wat maak hy tussen die klomp kommuniste?

Eberhard vertel dat dit hom so erg ontstel het, dat hy daardie middag vir sy pa ’n brief geskryf het: “As dít is wat nodig is om die huidige beleid te vestig en te handhaaf, sê ek nou tot siens …”

’n Mens beleef ’n rare konse­kwent­heid by Eberhard Bertelsmann. Dieselfde dinge wat hom destyds ontstel het oor ongeregtigheid van die Nasionale Party-regering, ontstel hom oor die ongeregtigheid in die ANC-regering van­dag. Al is hy van die oortuiging dat dit vandag veel beter gaan as toe. Luister gerus na die podgooi.

Vandag is dit maklik om te sê apartheid was boos, maar destyds het dit moed gevat.

Daar is meer as een keer aanslae op sy lewe beplan. Een van die mooi stories is van ’n groep BSB-lede wat aan die begin van die nuwe bedeling gevra het dat hy hulle sal verdedig.

“Maar ons het dan nog net in die hof met mekaar baklei,” sê Eberhard wat op daardie stadium ’n advokaat was.

“Ja, meneer, maar ons het nou iemand nodig wat nie met die stem van die baas praat nie,” sê die leier van die groep.

Eberhard het hulle verdedig en die saak gewen (dit het gegaan oor hulle onregverdige ontslag as werknemers). Die laaste dag by die hof vra iemand vir hom in Engels, want die laaste getuie was Engels: “Mister Bertelsmann, would you like to meet your assassin?”

Hulle verduidelik toe, hoe hulle hom ingewag het een oggend, maar dat hy ’n ander pad as gewoonlik gery het. Eberhard sê die man het gebloos en gesê, “It was not personal, sir,” waarop sy antwoord was: “Ek weet dit was nie persoonlik nie, no hard feelings!”

Hy sê die man was twee keer daarna by hom aan huis en hy het hom selfs ’n keer of wat met regsadvies gehelp.

Eberhard Bertelsmann is nie skaam om te vertel van sy eie foute nie.

Op ’n stadium het hy, deels as gevolg van ’n klomp druk, verslaaf geraak aan ’n middel wat ’n dokter voorgeskryf het en aan alkohol. Hy is opgeneem in Elim-Kliniek vir behandeling waar hy die donkerste dae van sy lewe beleef het. In daardie dae was daar nie middels om te help met onttrekking nie.

Hy vertel hoe hy een oggend met God geworstel het en afgekom het op die verhaal van die verlamde man wat deur die dak afgesak is tot by Jesus se voete. Skielik was hy daardie man. Dit was asof God vir hom gesê het, “ek gaan jou eers vergewe en jou dan genees”. Daardie ervaring het sy hele lewe ver­ander. Eberhard sê tot vandag toe vertel hy sy getuienis vir almal wat wil hoor, en selfs vir ’n paar mense wat nie wil hoor nie.

Kort na sy rehabilitasie is hy verkies as ’n direkteur van Elim-Kliniek waar hy vir jare lank betrokke was by die pasiënte asook projekte in onder andere Thembisa.

Ek onthou hoe hy my en Marina destyds, toe hy vyf en twintig jaar skoon was, genooi het na ’n erediens by Elim. Ons het saam met die personeel en pasiënte geluister na die hooggeregshof­regter se vertolking van die Goeie Nuus wat sy lewe verander het. Jy kon ’n speld hoor val, niemand kon stry nie, ’n heilige oomblik.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top