Pas God veilig in ons monde?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tristán Kapp skryf: Dis ’n Dinsdag-oggend, en ek word wakker nadat ek gisteraand ’n paar lesings van Alan Watts geluister het. Die een wat spesifiek in my kop sal vassteek is “The Nature of God”. Watts begin met ’n storie van ’n ruimtevaarder wat die ruimte in vertoef en terugkom: Die mense, toe hy terugkeer, vra toe: “Ons het gehoor jy was hemel en het vir God gesien. Vertel?” Die ruimtevaarder antwoord net, “sy is swart”. Die gehoor giggel in die agtergrond, maar Watts benut hierdie vir ’n dieper diskoers oor ons algehele ervaring van God as die Vader-figuur. Hy begin te sê; dié God van oer-tradisie word as ’n aaklige wit-baard tiran, wat straf en seën soos hy lus kry, uitgebeeld. En hy vra dan, Is dit werklik hoe God ervaar moet word? Ek dink meeste kan meteens sê, -“nee”. En so wonder ek, hoekom sekeres dan so optree teenoor mekaar: tirannies en ongenaakbaar? Ons treur oor Skrifgesag, en nie oor ons onreg? En kyk, ek is nie ’n kundige oor enigeiets nie – ek voel ek sit maar net en dink baie oor ’n klomp goed wat vir my nie sin maak nie. Hierdie is een: Is God veilig in ons monde? Ek sit noudiedag in ’n lesing, waar daar vertel is van Dr. Chris Barnard wat vir ’n groep mense gesê het; die hart is net ’n “pomp-orgaan”. Dadelik, steek ’n man met beswaar sy hand op terwyl die gesprek nog aan die gang is. Barnard gee hom toe ’n spreekbeurt waarin die man van agter in die gemeenskapsaal kwaai skree, “sê jy nou vir my ek het my vrou lief met my pomp-orgaan?!” – Die hart klop vir ’n rede, waarvan die rede nie eers bewus is nie, is toe op hierdie storie gebou. Ek ervaar dieselfde soort selektiewe “hiper-literalisme”, as dit kom by iets só kompleks soos Skrifgesag. Wat is die rede agter die konsep? Wat wil ons bereik daarmee? Wat beteken dit? Wil ons mense vertel van die tiranie van God as sogenaamde “geregtigheid”, of van sy “antroposentriese liefde” (liefde vir die mens)? Tiranie strook nie so lekker met my ervaring nie, maar daar’s een wat wel. Die een waarmee al ons name veilig in Sy mond is: -Liefde! Jesus het mos gesê, deur lief te wees vir mekaar vervul ons die geregtigheid van ‘die wet’. So, waarom sal sommiges aspris die onbekende liefde uit die kerk jaag? God is tog verteenwoordigend van die groot onbekende liefde. Ons sê, “God se liefde gaan ons verstande te bowe”. Dus kan ons hom nie in ons beperkte liefde-boksies inforseer nie, want dis mos teenstrydig met ons interpretasie van sy onbeperktheid. Nou vra ek, ‘waar het Dawid die wortels (van Skrifgesag) begrawe?’ Daar is ’n roepstem uit die see, soos Langenhoven skryf. Die see van onstuimigheid, pyn en lyding wat geregtig is op die gemeenskap en genade wat die kerk bied – dis al. En toe die roepstem anders is as ons boksies, toe word ’n harte hard, en daar word’ in sak en as gaan sit’ ná daar besef is dat roepstemme besig is om te verdrink, en ons “Missio Dei” is om sulke stemme uit te help en in te nooi, maar ons klap ons deure toe; dit pas mos nie in ons boksies nie. En so, pas God óók nie meer in nie…?