The language of faith in Southern Africa – Spirit world, power, community, holism
Hermen Kroesbergen
Uitgewer: AOSIS, 2019
Dis wyd bekend dat daar ’n skuif in Christenskap van die globale Noorde na die Suide plaasgevind het. Tog is daar nog bitter min besin oor wat dit beteken. Veral siende dat die houding bestaan dat Afrika-Christene “nog steeds” in geeste glo. Hermen Kroesbergen werp lig op hierdie saak. Hy vra die ongemaklike vraag oor hoe ons dan nou praat oor Christenskap. Hoe praat ons oor geloof as ons dieselfde God aanbid, maar nie ruimte vir ’n ander persoon se verstaan van die spirituele het nie? Nie omdat daar nie belangstelling is nie, maar omdat dit bloot nie ’n werklikheid in Westerse denke is nie. Dit is ’n omvattende boek wat erns maak met gemeenskap, wat nadink oor wat kerk in Afrika beteken en die implikasies van ’n holistiese wêreldsiening beredeneer.
Die boek dekonstrueer Westerse vooropgestelde idees en bied praktiese vertrekpunte waarmee ’n mens sinvol jou eie geloofstaal kan ontleed. ’n Hoogtepunt is Kroesbergen se refleksie op sy eie belewenis en ervaring van Afrika. Die feit dat Kroesbergen self ’n Nederlander met ’n Westerse denkraamwerk is, bied die leser die geleentheid om op ’n nie-konfronterende manier jou eie vooroordele raak te sien en nuwe moontlikhede rondom geloofstaal waar te neem. Dit is ’n boek bedoel vir teoloë en belangstellendes wat wil praat en dink oor kontemporêre Afrika-teologie.
’n Ekstra bonus is dat Kroesbergen se boek gratis en aanlyn op AOSIS beskikbaar is.
▶ Dr Annette Potgieter is ’n dosent by Hugenote Kollege.