Leierskap in ’n tyd van krisis – verleentheid of geleentheid? 

In krisistye is dit ’n kwessie van aanpas en innoveer, of uitsterf, skryf Jurie Vermeulen. 

Mense word tans wêreldwyd gyselaar gehou deur ’n kwaadwillige vyand wat so mikroskopies klein is, dat dit onsigbaar is met die blote oog. Daar word beraam dat 30% van die wêreld se bevolking tans een of ander vorm van kwarantyn of staat van inperking verduur. Skielik duik die woord “lockdown” (inperking) oral op waar jy ook al in die wêreld kyk. Ek sien deesdae artikels oor lockdown cooking, lockdown exercise, lockdown working, lockdown living, lockdown entertainment en selfs, lockdown traveling

Buitengewone tye verg buitengewone leierskap 

Omdat ek self in uitvoerende leierskap funksioneer en internasionaal by leierskapsontwikkeling en -opleiding betrokke is, het dit my natuurlik laat dink aan lockdown leadership – leierskap tydens die staat van inperking! Die mensdom bevind hom tans in uiters buitengewone omstandighede; ’n uitdaging waarmee ons nie sedert die vorige wêreldoorlog te kampe gehad het nie. Dit is ’n feit dat “buitengewone tye, buitengewone leierskap verg”. Dit lei tot die vraag: Hoe kan ons buitengewone leiers wees in ’n krisistyd soos hierdie? 

Onvoorbereid en ontnugter 

As ’n Christen en ’n leier wend ek my tot die Bybel. Die psige van die twee Emmaus-dissipels wat in Lukas 24 beskryf word, fassineer my, want hulle skilder die tipiese prentjie van mense wat totaal onkant gevang is deur ‘n skielike ramp en heeltemal oorweldig is deur die ontwrigting van hul lewens. Ondanks die feit dat hulle deel was van die dissipels in Jerusalem se binnekring, tref ons hulle koersloos, sonder insig en sonder enige hoop aan. En dít op die aand van die Opstanding-Sondag – waarskynlik dié belangrikste dag in die geskiedenis van die wêreld! Dit is ook nie asof Jesus nie probeer het om sy dissipels op hierdie ingrypende veranderinge voor te berei nie. Hulle aandag was egter so in beslag geneem deur irrelevante sake, soos die gekibbel oor wie die vernaamste onder hulle is, en, wanneer breek die tyd nou aan dat hulle Jerusalem triomfantelik, in gelid met Jesus, sou binneval en van die gehate Romeine bevry! Dus, wanneer die stof op Golgota gaan lê, tref ons die ontnugterde dissipels aan waar hulle ontredderd, teleurgesteld en verleë op pad terug is huis toe – om weer hul ou lewens te hervat. 

Hoe behoort leiers te reageer in Krisistye? 

Die vraag waarmee ons gekonfronteer word, is: Hoe moet ons as leiers op COVID-19, of enige ander ernstige toekomstige krisis reageer? Is daar leierskapbeginsels wat ons moet volg, wat ons kan help om nie ook dalk ons eie Emmaus-scenario te skep in hierdie krisistyd nie? 

Omdat dit onmoontlik is om ’n volledige lys van beginsels in hierdie ruimte te bespreek, sal ek slegs die belangrikste hier noem. 

  1. Hou ingedagte dat een van leiers se hooftake behels dat hul insig en betekenis verskaf. 

Leiers se unieke gawe om insig te gee en om ander te help sin maak van ‘n komplekse situasie, is krities belangrik ten tyde van ’n krisis soos COVID-19. Om insig of begrip te kan gee, behels dat ekself as leier ‘n helder begrip moet hê van die aard van hierdie uitdaging, asook die moontlike nagevolge daarvan. As ons, as leiers, in die duister is, sal ons organisasies ook in verwarring wees. Dit kan tot groot verliese en pyn lei – soos ons in Lukas 24 sien. 2 

Die kring van insig, helderheid en wysheid 

Doeltreffende leiers kan sin maak van omstandighede omdat hulle daagliks leef in, wat ek noem, die “kring van helderheid”. As gevolg van hierdie vermoë kan leiers ander inspireer wat ook na insig en betekenis op soek is. Christen-leiers het die verdere voordeel dat hulle God se stem kan hoor en deel in Sy wysheid, omdat die Gees van God in hulle woon. Omdat wysheid ál die verskil maak in ’n krisis, moedig die Bybel ons deurgaans aan om wysheid bo alles te soek – dis selfs meer kosbaar as goud en silwer (Spreuke 2:1-7). 

Skeppers en bestuurders van betekenis 

In dieselfde trant beskryf Bernard Bass leiers as “bestuurders van betekenis”. Anders gestel, omdat leiers oor ’n innerlike helderheid en insig beskik, skep en bestuur hulle betekenis vir ander. Leiers definieer die werklikheid vir hulle personeel en organisasies en help hulle om te verstaan, wie hulle is, waarmee hulle besig is en wat hulle in die toekoms moet wees. Leiers verduidelik aan hul organisasies hul plek in hierdie wêreld. Hierdie leierskapvermoë was nog nooit van meer kritieke belang as juis nou nie – in hierdie huidige toestand van wêreldwye krisis. Kenners van pandemies waarsku dat ons as leiers, ons personeel en ons organisasies gereed moet wees vir ’n maande-lange ingeperkte manier van lewe en werk. Daarom behoort alle leiers nou daarop te fokus om in daardie kring van helder insig te kom. 

  1. Die tweede leierskapbeginsel vereis dat ons ’n duidelike operasionele strategie sal ontwikkel en handhaaf, veral in krisistye. 

Hoewel wêreldwye uitdagings soos COVID-19 ons in skuimende stroomversnellings laat beland wat dreig om ons te laat verdrink, moet leiers steeds daarop fokus om duidelike prioriteite skep en te kommunikeer rakende hul organisasies se daaglikse bedrywighede. Dit sluit duidelike doelwitte in, kompleet met die toekenning van hulpbronne soos geld, tegnologie, personeel en tyd. Ons moenie hier laat slap lê nie, want in krisistye is die gevaar dat ons só gefokus raak op daaglikse oorlewing dat ons suiwer reaktief begin lei, in plaas van proaktief. Doeltreffende leiers is grotendeels proaktief. Ons moet dus nie nou ons fokus verslap nie, maar voortgaan om ons organisasies deurgaans op ’n bekwame en akkurate wyse te bestuur. Hierdie krisis verminder nie die behoefte daaraan nie. In die toekoms sal daar ’n nuwe “normaal” wees en dit bring ons by die derde beginsel. 

  1. Die derde beginsel stel ons voor aan die leier se beste vriend – die Toekoms. 

Omdat doeltreffende leiers visioenêr is, is hulle “mense van môre”. Hulle leun vorentoe, in die toekoms in. Met een voet reeds in die toekoms, is dit vir hulle natuurlik om die ware strategiese, finansiële en operasionele gevolge van krisisse en uitdagings te bereken. Moet dit leiers noodwendig ontstel en selfs beangs maak? Hopelik nie! Vrees is nie die beste langtermyn-leierskapstrategie of -motivering nie – veral nie as jy ’n Christen-leier is nie. As Christen-leiers glo ons juis dat God ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7). Verder ken ons Paulus se aanmaning om oor niks besorg te wees nie, maar in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend te maak, sodat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag kan hou in Christus Jesus (Filippense 4:6,7).  

Ek stel voor dat ons eerder, 

(1) ons vertroue in God bly handhaaf – ongeag wat Hy ook al op ons pad toelaat, 

(2) die onsigbare Vyand in gebed en aksie sal weerstaan omdat hy hierdie krisis sal uitbuit as ’n geleentheid om verder te roof, te steel en te vernietig, 

(3) ons elke dag van nou af so hard as moontlik werk om die nagevolge van hierdie krisis, wat basies onafwendbaar is, te verminder. 

(4) terwyl ons daagliks fokus op die innovering en her-ontwerping van ons bedienings en besighede soos nog nooit tevore.

Buiten die feit dat ons op God moet vertrou, vereis die toekoms ook dat ons baie meer innoverend, kreatief en aanpasbaar in ons denke en metodes sal wees. Dit is waarskynlik ’n feit dat ons werksomgewing, wanneer hierdie spesifieke uitdaging verby is, nooit weer dieselfde sal wees as vantevore nie. In die organisasie waaraan ek behoort, is daar reeds ’n groot uitwerking op ons operasionele praktyke, soos fondsinsameling, bemarking, begroting en tyd- en personeelbestuur. As ’n mediabediening het dinge soos personeelskofte, oorslaap in kantore, werk van huise af, vloeibaarheid ten opsigte van radio inhoud en uitsaai-ure, asook drastiese finansiële inkrimping, alles skielik ’n werklikheid geword. Leiers wat skop teen verandering en hardnekkig volhard om dinge op die ou manier te doen, sal doodgewoon misluk. In krisistye is dit ’n kwessie van aanpas en innoveer, of uitsterf! 

  1. Die laaste beginsel wat ek hier wil noem, is die noodsaaklikheid van ’n duidelike, akkurate, empatiese, liefdevolle kommunikasiestrategie. 

Aangesien ons as leiers insig bring en betekenis skep namens ons personeel en organisasies, is duidelike, eerlike, relevante, liefdevolle kommunikasie van kritiese belang in krisistye. Swak kommunikasie is een van die hoofoorsake, indien nie dié grootste oorsaak nie, van wantroue, verwarring, vrees en mislukking. Jy kan verseker weet dat ons ou Vyand daardie mislukking soos blits en met groot vernuf sal uitbuit! As leiers skep ons die werklikheid vir ons personeel en organisasies deur middel van ons kommunikasie. Daarom moet ons die werklike omvang van ’n krisis soos dié eerlik, dog liefdevol, empaties, en op ’n hoopvolle wyse aan ons personeel oordra. Ons moet dit duidelik maak dat ons almal in dieselfde bootjie is. Natuurlik sal ons personeel ’n mate van angs ervaar, maar voorkennis maak voorsorg – ons mense het verstommende deursettingsvermoë – veral wanneer ons ten minste weet wat ons in die gesig staar. 

Om hierdie reus, COVID-19, of enige ander groot uitdaging wat nog in die toekoms lê en wag, te verslaan, sal vereis dat ons sterk, positiewe mense en organisasies propvol hoop skep, omdat die wanhopiges sekerlik sal vergaan. 

Terug by die Emmaus-dissipels op daardie stil aand, 2000 jaar gelede, sien ons hoe Jesus op kragtige wyse, heldere insig, betekenis, hoop en lewe voorbring uit die grys, koue as van sy kruis. Danksy hierdie krag-boodskap van hoop; van opstanding uit die dood, het ons, as leiers, 2000 jaar later dieselfde ewige hoop. En ons kan hierdie hoop laat groei, hierdie hoop wyd en syd versprei deur dit in ons personeel en organisasies in te bou. As ons as leiers wanhopig is, sal ons organisasies ons voorbeeld volg, maar as ons hoopvol bly, sterk in die geloof, oortuig daarvan dat God alle dinge ten goede sal laat meewerk– selfs hierdie krisis – sal ons dit met ’n vaste oortuiging en passie kommunikeer! Ons het almal die getrouheid van God ervaar; laat ons as leiers nie juis nou struikel in ons taak om ander te inspireer om ook by die skaar van hoopvolles aan te sluit nie! 

  • Dr Jurie Vermeulen is nasionale direkteur: FEBA Radio SA
  • Vir meer inligting, kontak gerus: www.febaradio.co.za; jvermeulen@febaradio.co.za