Dink só kreatief oor oorgange

Anandie Greyling en Cas Wepener is die redakteurs van Ongekaart – ’n Bronboek met roetemer­kers vir oorgange (Bybelkor, 2019), vanjaar se wenboek vir die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir Debuutwerk. CARIKE NOETH het met hulle gesels.


Carike: Wat het julle laat besluit om hierdie boek saam te stel?

Cas: Toe ek 20 jaar gelede Ronald Grimes se boek Deeply into the bone: Re-inventing rites of passage gelees het, is ʼn saadjie (droom) by my geplant dat ’n meer praktiese boek oor oorgangs­ritue­le in Afrikaans eendag sal verskyn.
Anandie: Ek het my MDiv en MTh by Cas gedoen oor belydenisaflegging. Dit het in die rigting van oorgangsrituele beweeg en later ’n tema en passie van my geword. Cas het my genooi om saam te werk aan ’n Afrikaanse publikasie oor “ongekarteerde oorgange” na aanleiding van Grimes se boek.

Carike: Wat wil julle bereik met hierdie boek?

Anandie: Ons wou ’n bydrae maak om mense te kan begelei om sinvol deur oorgange te beweeg, maar ook bewus te maak dat daar meer oorgange in die lewe is as geboorte, volwassewording, vind van ’n maat of die dood (die tradisionele vier oorgange). Verder het ons doelbewus kenners op verskillende gebiede genader om ’n belangrike inleidende hoofstuk te skryf (ons wou doel­bewus nie net ’n liturgie/ritueel voorstel nie), asook hoe hulle so ’n liturgie/ri­tueel vanuit hulle ervaring sou benader.

Carike: Wie is julle teikengehoor?

Anadie Greyling

Anandie: Aanvanklik predikante/ beraders / jeugwerkers. Dit is ongekarteerde oorgange, maar definitief oorgange waarmee hulle te doen kry. Ons wou graag goeie teologiese en teoretiese kennis in die inleidende hoofstukke deel, maar veral kreatiwiteit stimuleer om hierdie oorgansrituele en liturgieë sinvol te benader en begelei. Ek vermoed wel dat die individu vanuit verskillende hoofstukke ook baat sal vind, hetsy of hy/sy self deur die oorgang beweeg of dalk ’n geliefde het wat daardeur beweeg.

Carike: Hoekom is Ongekaart juis in vandag se (Suid-Afrikaanse) konteks ’n relevante boek?

Anandie: Mense gaan deur soveel verskillende oorgange. Oorgange waardeur almal ook nie noodwendig beweeg nie en wat nog ongekaart is. Ongekaart help my byvoorbeeld om iemand te begelei deur ’n oorgang wat aan my onbekend is. Ek vermoed daar is ook meer ruimte vir verskillende oorgange as ’n paar jaar gelede, soos byvoorbeeld egskeiding. Die ongekarteerde oorgange in die boek is ook aktueel en oorgange wat in vandag se tyd plaasvind: sluiting van ’n kerkgebou, werksverlies, miskrame en selfs die paartjies wat besluit om nie te skei nie en versoen.
Cas: Persoonlik glo ek dit was jare gelede al relevant, maar destyds kon prof Daniël Louw byvoorbeeld nie sy egskeidingsliturgie publiseer nie, al het mense geskei en was die behoefte dus daar. Dit is myns insiens baie jammer dat so ’n boek nou eers die lig kon sien, al was daar al jare lank hierdie behoeftes.

Carike: Enige persoonlike opmerkings oor die boek?

Anandie: Ons droom was dat mense kreatief oor oorgangsrituele wat onge­kaart is sal dink, asook die waarde van oorgangsrituele sal raaksien. Hierdie is nie die enigste oorgange nie en die voorstelle in die boek is nie “set in stone” nie. Ongekaart as eindproduk het my verwagtinge oortref en dit is te danke aan elke skrywer wat moeite met hulle bydrae(s) gemaak het.

Dr Carike Noeth is ’n navorsingsgenoot in Sistematiese Teologie by die Universiteit Stellenbosch.


Taal wat onreg teenstaan

Die Suid-Afrikaanse teoloog Rachel S Baard is dosent by Union Presbyterian Seminary in Richmond, Virginia, in die VSA. Haar boek Sexism and sin-talk: Feminist conversations on the human condition (2019, Westminster John Knox Press) was vanjaar die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Teologiese Publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika. MICHELLE BOONZAAIER het met Rachel gesels.

Michelle: Wat het aanleiding gegee tot jou fokus op die kwessie van taalkonstruksies oor sonde?

Rachel S Baard

Rachel: Al werk ek in die VSA, is my teologie gewortel in my ervaring van die skeuringe wat in Suid-Afrika veroorsaak is deur apartheid, patriargie en homofobie. Die wyses waarop hierdie strukturele sondes op allerlei teologiese maniere geregverdig is, noop my om te soek na teologiese taal wat lewegewend is en nie onderdrukkend nie.

Michelle: Jou boek wys op die verband tussen sondespraak en geslagsgeweld. Hoe kan geloofsgemeenskappe geslagsgeweld aanspreek?
Rachel: Kerke moet selfondersoek doen oor die wyses waarop ons teologiese taal bydra tot geslagsgeweld: Die idee van onderdanigheid van die vrou skep byvoorbeeld ’n kultuur van magsbeheer waarin geslagsgeweld genormaliseer word. Ons moet voorts ’n vorm van sondespraak ontwikkel wat ongeregtigheid teenstaan en fokus op die idee dat God ook in ons aardse lewe die goeie vir ons gun.

Michelle: Wie het jou teologiese pad beïnvloed?
Rachel: Dosente soos Dirkie Smit op Stellenbosch en Mark Taylor en Nancy Duff by Princeton het ’n belangrike rol in my teologiese pad gespeel. Die fe­mi­nistiese teoloog Elizabeth A Johnson het my denke baie beïnvloed, veral in die wyse waarop sy beide skerp kritiek op en diep herwinning van die klas­sieke Christelike tradisie kombineer. Ek leer ook by ’n verskeidenheid ander teoloë, van Calvyn tot Tillich tot be­vrydingsteoloë tot Joodse denkers, om aards en konkreet te bly in my teologiese werk.

Michelle: Wat sou jy vir jou jonger self wou sê?
Rachel: Moenie bang wees nie. Vertrou op God om jou pad te rig.

Ds Michelle Boonzaaier is ’n programbestuurder by IAM Ministries en predikant in Brackenfell.


Dogter help teks herleef

Wyle dr Nico Smith se boek In Mamelodi het ek my God ge­vind (heruitgawe 2018, Lux Verbi) was vanjaar die wen­ner van die Andrew Murrayprys vir Christelike Pu­­bli­kasies in Afrikaans. RETHIE VAN NIEKERK het met Maretha Laubscher, Smith se dogter, gesels. Maretha het haar pa se aanvanklike boek hersien en uitgebrei vir die 2018-heruitgawe.

Rethie: Wat het jou laat besluit om die heruitgawe te doen?
Maretha: My pa het in die laaste jare voor sy dood flink geskryf en sy lewensverhaal gedokumenteer. Twee van sy boeke, een oor die Broederbond en die ander Mosaïek van mense, waarin hy sy ontmoetings met verskillende mense wat hom beïnvloed het gedeel het, het voor sy dood verskyn.
Die derde boek oor sy belewenisse in Mamelodi het ongelukkig kort na sy dood in 2010 eers op die rak gekom. Dit het saamgeval met die dood van die uitgewer Hendrik Venter van Griffel Media en so is die boek nooit bekendgestel nie.
Ek het gevoel dat die boek se boodskap ’n leserskring behoort te vind, maar was nie by magte om veel aan die saak te doen nie. Gelukkig het ’n vriend, Coenie Nolte, 50 boeke vir ’n klein gehoor laat druk en een van die boeke het in Susan Jordaan van Lux Verbi se hande beland. Sy was dadelik gretig dat die boek herdruk word met foto’s en die toevoeging van ’n laaste hoofstuk om die afloop van die gebeure te beskryf en so het die nuwe weergawe ontstaan.

Uittreksel uit In Mamelodi het ek God gevind.

Rethie: Dink jy die kerk is nou meer gereed om die inhoud van die boek te hoor as voorheen?
Maretha: My pa was baie dankbaar dat hy 1994 en die eerste demokratiese verkiesing beleef het. Mettertyd het hy die ontkenningsmeganisme van mense wat die ongemak van apartheid wou wegpraat as ’n gevaar begin sien vir versoeningsgeleenthede in Suid-Afrika. Vergifnis is alleenlik moontlik met werklike berou, was sy standpunt. Hy het gevoel dat die NG Kerk daarin die leiding moes neem.
Hy het verwys na die Duitsers se onvermoë om te treur direk na die Tweede Wêreldoorlog. Hier in Suid-Afrika het hy gereken was dieselfde fenomeen besig om te gebeur.
Ons is, tien jaar na sy dood, steeds besig met die proses van verwerking. Vir sommige mense is dit steeds moeilik om apartheid as ’n “crime against humanity” te sien. Ek hoop dat my pa se verhaal die brutaliteit van die gebeure destyds sal help ontbloot en aan mense se hart sal klop om te sê: Nooit weer nie.

Rethie: Wat beteken dit vir jou dat die boek die prys gewen het?
Maretha: Erkenning. Erkenning dat wat my ouers (en ons as familie in die agtergrond) beleef het, nie ’n opgemaakte storie was nie. Soveel van dit wat gebeur het of waarvan ons geweet het, was nie bekend nie. Mense wou ook nie weet nie. Voor my pa se dood het ek geleer om vroeg reeds in bekendstel­lings te sê dat my pa Nico Smith is om die ongemak wat gewoonlik gevolg het, verby te kry. Dit het mense kans gegee om òf niks polities te sê nie òf, getemper deur ordentlikheid, weg te beweeg van die “kommunis” se dogter.

Rethie: Wat is die belangrikste ding wat jy dink lesers vandag uit jou pa se verhaal moet hoor?
Maretha: Ek is bly dat die boodskap van versoening nou weer ’n kans kry. Gelukkig is daar ’n jonger geslag wat deur ’n ander lens na die wêreld kyk. Dalk is die boodskap iets wat hulle ter harte wil neem.

Rethie: Wat dink jy is jou pa se belang­rikste nalatenskap?
Maretha: My ouers het die boodskap van aanvaarding en respek teenoor jou medemens uitgeleef. Deur in ’n swart woonbuurt te woon, het hulle in die voetspore van dié wat ly gestap. Hulle kon nie die omstandighede van hulle gemeentelede verander nie, maar hulle kon saam met hulle wees. Vir die gemeentelede was dit erkenning van hulle menswaardigheid.

Dr Rethie van Niekerk is ’n leraar in Port Elizabeth.