Só lyk die ‘deur’ wat grendeltyd oopsluit

Politici wat hulpverlening on­nodig wil inperk, oorspeel hulle hand, skryf BARRY TOLMAY.


Vanaf die vroegste tyd is daar vraagtekens oor die funksie van die kerk en die funksie van die staat in ’n samelewing. Mag het hierdie fyn balans op direkte of indirekte wyse oor al die eeue beïnvloed. Die Romeinse Ryk het die vroeë kerk vervolg en so sy mag misbruik. Tydens die Middeleeue sien ons hoe ’n magspel tussen die kei­ser en die pous dikwels chaos veroorsaak het. Tydens die Reformasie het die Protestante dikwels ’n opdraande stryd gevoer omdat die Katolieke kerk en die koning saamgespan het.

Met die totstandkoming van die moderne staat in 1648 vind ons ’n dui­de­like nuwe fase. Binne die beginfase van die moderne demokrasie is samelewingsfunksies uitgekarteer om harmonie te vind. So kon kerk en staat ’n nuwe ritme vind.

Duidelike fuksies is aan kerke toegeken wat met geloof en geloofsgemeen­skappe verband hou. Indien kerke dan nie hulle ontiese funksie (met ander woorde dit wat tot hulle wesenlike kenmerke behoort) oorskry nie, en die staat sy regs-ontiese funksie vervul, werk sake goed uit in ’n samelewing.

Die regsbank het ook ’n skeidsregterrol indien enige van die twee partye sy terrein sou oorskry. Die onafhanklikheid van die regsbank is noodsaaklik en hierdie funksie noem ons “the rule of law”.
In Suid-Afrika vind ons dat daar ’n konstitusionele hof is en dat die Hand­ves van Menseregte so grondwetlike regte beoordeel. In die Liberale demo­krasie is daar veral drie ankers waarbinne Suid-Afrika funksioneer:

  • Vryheid: Hiervolgens is mense vry om te funksioneer solank hulle nie die vryheid van die staat of ander mense beperk nie. Godsdiensvryheid gee dan vir mense in Suid-Afrika kans om vry te aanbid en te funksioneer.
  • Gelykheid: Hiervolgens is almal gelyk in die land. Kerke en ander geloofsgroepe het ook ’n gelyke posisie in die samelewing. Mense het ook gevolglik die reg om nie geloof te beoefen nie.
  • Menswaardigheid: Elke mens moet te alle tye menswaardig behandel word. Dit is daarom nie billik as ’n pastoor “Doom” in sy lidmate se gesig spuit nie …

Die owerheid in Suid-Afrika kan wette maak om geloofsbyeenkomste te beperk tydens die Covid-19-tydperk. Dit is egter ’n noodmaatreël en behoort alleen plaas te vind na konsultasie met ekumeniese liggame, byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Dit moet altyd aan die beginsel van billikheid voldoen en slegs ’n tydelike maatreël wees. Dit kan ook nie onnodig lank plaasvind nie.

Tot die wese van die kerk behoort die godsdienstige versorging van haar lidmate. Liefde staan in die Christelike geloof sentraal. Ons predik oor baie jare dat liefde vir God en liefde vir ons naaste nie net ’n emosie is nie, maar in dade moet oorgaan. Die onlangse rolprent Dominee Tienie toon juis hierdie aspek aan. Ds Tienie het gesien hoe minder en minder lidmate Sondae sy eredienste bywoon. Dit het hom ver­vreem van sy eie menswees om net sy eie kudde te bedien. Hy was vasgevang in hulle grille en giere. Die deurbraak kom as ds Tienie juis die kerk na die gemeenskap en na alle mense (ook straatmense) toe neem.

Dit lê aan die hart van die NG Kerk se dryf in haar missionale diakonaat. Hiervolgens moet ons juis ons breër samelewing bedien en ’n liefdesverskil maak deur ons geloof sowel as dit wat ons in die samelewing daar buite doen. Dit behoort tot die ontiese taak van die kerk. Binne die ekumeniese beweging vind hierdie lief­desdade en versorging saam met ander kerke en gemeenskapsorga­nisasies plaas. Daar is tans soveel gemeentes wat deel is van hierdie lief­desgolf en fantas­tiese werk doen in hierdie tyd van Co­vid-19.

Daar was die afgelope week baie gerugte dat sekere politici vir kerke en gemeenskapsorganisasies met regulasies wil beperk om ons eie lidmate en ook kinders en brose mense in die gemeenskap te help in die tydperk van hongersnood. Daardie politici is enkelinge wat hulle hand oorspeel. Die staat kan wel toesien dat daar billike verspreiding van hulp na gemeenskappe is, en dat mense nie die Covid-19-pandemie verder versprei nie.

Covid-19 bied vir die NG Kerk en elke gemeente die geleentheid om van­uit die hart van sy liefdesdiens juis nou uit te reik en goed te doen in die krisistyd. Die vroeë kerk het juis liefde prakties uitgeleef, hoewel hulle vervolg is. Hulle het nie gehuiwer om ook die bie­tjie wat hulle gehad het, met mekaar en ook met mense buite die kerk te deel nie. So was hulle ’n ware Liefdesgemeenskap en het die Heilige Gees volgens Handelinge juis die kerk ongekende groei laat beleef.

Laat ons dan nie huiwer om juis nou ons lidmate en gemeenskappe buite die kerk met liefde te voed en te versorg nie. Dit is die deur wat grendeltyd juis nou vir ons oopmaak.

Dr Barry Tolmay is moderator van die NG Kerk in Kwa­Zulu-Natal.