Staak sinodes, oorweeg jaarkonferensies

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ben Erasmus van Groot-Brakrivier skryf:

Dit is met groot hartseer, skaamte en teleurstelling dat ek al die berigte van kerkskeuring in Kerkbode lees. Ek wonder wat God dink as Hy hierdie fiasko in sy kerk aanskou. Die kerk is sy bruid. Dit is sy liggaam. Ons is tans besig om alles te vernietig. Sy liefde, sy kruisdood, sy enorme verdraagsaamheid, sy bruid, sy liggaam.

As ek al die berigte van groot vergaderings lees en wie wat kwyt raak en die opinies wat gelewer word deur hoofsaaklik predikante, dan weet ek net iets is besig om drasties te versleg.

Alles in oënskou geneem, is ek van mening dat die teokrasie waarbinne die kerk beheer, bestuur en regeer word nou beslis uitgedien is. Die tyd het aan­gebreek dat die sinodes kan voortbestaan vir watter doel ookal, maar nie meer as “parlement” vir die kerk kan dien nie. Daar moet ander strukture oorweeg word waar lidmate, die “eie­naars” van hulle gemeentes en die kerk, besluite kan neem. Die enorme bedrae waarmee gemeentes deur die sinode belas word, kan ook drasties afgeskaal of selfs gestaak word.

’n Jaarlikse konferensie van NG gemeentes, kan oorweeg word. Hierheen kan elke gemeente twee afgevaardiges stuur, maar nie predikante nie. Brandende sake kan hier gedebateer word nadat kundiges, maar nie noodwendig predikante nie, die konferensie oor so­danige sake toegelig het. Daar kan dan rigtinggewende besluite, maar nie bindende besluite nie, geneem word. Dit is maar een gedagte.

Wat vir my soos ’n paal bo water staan is dat die moord op God se bruid nou einde moet kry. Ons is weer op Golgota, maar nie as God se kinders nie, as die hoëpriesters, skrifgeleerdes en soldate. Amen.

8 thoughts on “Staak sinodes, oorweeg jaarkonferensies

  1. Sarel says:

    Goeiemore Broer
    Ek stem saam met u dat die huidige toestand hartseer is en daar indringend gekyk moet word na die Bestuurstyl van die Kerk en die voorbeeld wat, deur Leiers aan lidmate gestel word.
    Maar Broeder, het u al beleef wat gebeur wanneer Ouderlinge aan die stry raak. Jy kan vir ‘n week op een punt vassteek.

  2. Petrus Carstens says:

    Ek stem saam dat kerkskeuring geweldig skade doen aan die geloofwaardigheid v d evangelie van versoening en vrede. Verskille gaan nie verdwyn deur sinodale strukture af te breek nie. Die sinodale strukture is geweldig afgeskaal oor die laaste klompie jare en die sinode het hom ook herposisioneer as leidinggewend en rigtinggewend en dienend t o v gemeentes. Gaan kyk asb na die begroting v d sinode en sien dat die geld v gemeentes aan die sinode gaan grootliks vir barmhartigheidswerk en getuienis waarvan die omvang te groot is vir een of twee gemeentes. Om dit te staak sal n groter evangeliese ramp wees. Die probleem lê ongelukkig in ons eie onverdraagsame en veroordelende harte en gesindhede, wat verskille laat ontaard in geskille en verskeidenheid in geskeidenheid.

  3. W Reichert says:

    Dankie Ben!
    Amen op elke woord wat jy skryf!
    Ons het mos al in Luther se tyd weggedoen met die Pousdom!!
    Of……..het ons regtig????

  4. Francois du Preez says:

    Dis al lankal hoogtyd dat gewone lidmate se stemme en menings gehoor word.

  5. Johannes Petrus Beukman says:

    Ek wil met die broer saam stem dat Sinode sittings sowel as ringsittings nie meer die doel dien waarvoor dit bedoel is nie. Daar is gewoonlik baie min bespreekings punt wat nie eindige in onodige lang debate nie, wat gewoonlik dan ‘n onaangename en ongemaklike gevoel veroorsaak. Die finansieele druk wat op veral arm gemeentes geplaas word maak dit ook moelik vir die voortbestaan van baie gemeentes. Amen.

  6. Muller Oosthuizen says:

    1. TEOKRASIE IN DIE NG KERK: Die NG Kerk, en ook die hele kerk op aarde, kan tog nooit sonder ‘n teokrasie gaan nie? God is in beheer en niemand meer nie.

    2. GROOT VERGADERINGS: Sinodale en ringsvergaderings is die vergestalting van die verhouding tussen gemeentes. Indien gemeentes (die volle gemeente olv die kerkraad) hul regmatige rol as kerk van Christus op plaaslike speel, behoort rings- en sinodale vergaderings volgens hul rol en aard presies te doen waarvoor hul daargestel is – om die onderlinge verhouding en geloofsoortuigings te kan deel en bou, en daarmee saam hul besluite van gemeenskaplike belang te kan neem (wat die groter verband behoort te neem).
    Ek vermoed dat hier ‘n groter leemte is as wat algemeen erken word – leraars, kerkrade en gemeentes se verantwoordelikheid tov geestelike en teologiese groei en rypheid / volwassenheid van die hele liggaam word waarskynlik meesal opgeoffer by gebrek aan ‘n gesonde kerkbeskouing (ekklesiologie).
    Indien sinodale en ringsbyeenkomste (asook konferensies op alternatiewe jare) egter geoffer word, sal dit m.i. bitter duur kos aan verhoudingskapitaal.
    Meerdere byeenkomste se aard en verhoudingstyl is juis om die verband as Jesus liggaam uit te beeld en te vier. Die byeenkomste as “parlement” (gesagsliggaam) ipv dienaar spruit heel waarskynlik ook uit ‘n gebrek aan ‘n gesonde kerkbeskouing.

    3. ANDER STRUKTURE & LIDMATE AS EIENAARS: Gemeentes is ten volle kerk, maar moet nooit onafhanklike kerke word nie – dan is die liggaam van Christus net onderdele. Dieselfde geld van kleingroepe en individue in plaaslike gemeentes.
    Lidmate is nie eienaars van die gemeente nie – so soort demokrasie hoort nie in die kerklike (geestelike) wêreld nie. God is die eienaar en Christus is die hoof – die kerk in al haar gestaltes moet hieraan uiting gee.
    Leraars en leiers van gemeentes en meerdere gestaltes se uitsprake en opinies wat nie dié is van die liggaam nie, is weliswaar ‘n krisis. Dit word gewoonlik gevind dat hulle individualiste en entrepreneurs is wat vanuit redelik onafhanklike posisies opereer. Die kerkrade en ander leiersgroeperinge se disfunksionering is m.i. hier die probleem – sulke persone en groepe behoort al meer tot orde geroep en gemuilband te word.

    4. BELASTING: Daar kan tereg op geweldig baie maniere bespaar word, waarvan reis- en verblyfkostes vir kommissie en taakspanne met naby aan 100% gesny kan word, veral in plattelandse sinodale gebiede.
    Sinodale “belasting” word verder feitlik uitsluitlik aangewend vir gemeenskaplike bediening soos maatskaplike werk. Dit sal bitterlik hartseer wees indien hierdie werk gestaak word (hoewel dit op die platteland feitlik geheel en al opgeoffer is).

    Gesonde kerkwees en die uitklaring van die kerk se roeping deur begronde teologiese koördinate is nou net so nodig soos altyd voorheen.

  7. bart vosloo says:

    Die probleem le in die feit dat baie lidmate geen vertroue in die Sinode het nie. Op die Sinode- bestuur dien predikante wie se opregtheid en suiwer verkondiging van die Woord in twyfel getrek word. Hulle siening van dieselfde geslag verhoudings het n ernstige breek in ons NG Kerk laat ontstaan asook hulle ontsag/twyfel vir dit wat in die Bybel geskrywe staan.

  8. Ben Erasmus says:

    Aan Muller Oosthuizen, Ek het jou hele relaas goed deurgelees. Jy maak die stelling dat die kerk aan God behoort en dat Christus die Hoof is. Ek sien niks verkeerds met hierdie stelling nie en stem heelhartig saam. Net soos jou huis, jou motor, jou plaas, jou alles aan die Here behoort, so behoort die kerk ook aan Hom. Maar as jy Psalm 8 mooi en weer gaan lees, sal jy sien dat God alles wat Hy geskape het in die hande van die mens gelaat het om daaroor te heers.
    My vraag os nou: Hoe heers die huidige orde oor die kerk van die Here? Na my mening is die huidige orde net besig om die kerk van die Here uitmekaar te skeur, te verjaag en te verstrooi met die huidige teokratiese orde. Daaroor is daar nie twyfel nie. So ek staan by my standpunt dat daar drastiese veranderinge nodig is om die kerk in die hande van sy aardse eienaars te plaas, naamlik die gemeentes en weg met die al die sinodes, wetsgeleerdes en hoë Priesters.

Comments are closed.