Wenke vir die werkplek (en lewe) na Covid-19

Dalk het jy nog altyd gereken dat jy aanpasbaar en redelik plooi­baar is. In menige situasies in jou loopbaan kan jy voorbeelde uitlig van hoe jy nooit teen nodige (of selfs onnodige!) verandering geskop het nie. Jy’t nie gaan staan en molshope in berge verander nie. Jy kon in moeilike om­stan­­dighede uithou en aanhou en oplossings vind.

Maar nou is jy uitgeboul.

Die impak van die Koronavirus op ons samelewing en ons interaksie met mekaar is omvattend. Dit is indringend en skielik besef jy: Ek het inderdaad ’n diepgesetelde afkeer van verandering.

In die konsultasie-maatskappy KPMG se jaarlikse meningspeiling van uitvoe­rende hoofde van maatskappye (wat verlede jaar in Mei gepubliseer is), het die respondente dit duidelik gestel: Jy moet behendig en rats op konstante verandering kan reageer, óf jy staan die kans om irrelevant te word. En toe tref die pandemie die wêreld.

So te midde van onsekerheid is dit veilig om te sê dat ’n weersin in veran­dering onder die probleemeienskappe tel wat die post-Covidlewe moeilik gaan maak. Hieronder is nog ’n paar.

Probleem-eienskap 1: Jy het ’n afkeer van ver­andering

Lisa Garson, uitvoerende direkteur van Action Appointments, ’n werwings­maat­skappy met ervaring in die ontwikkelingsektor, wys daarop dat organisasies al eintlik voor die Covid-19-pandemie werk­nemers gesoek het wat oopkop op verandering kon reageer, of selfs die voortou kon neem om die verandering te rig en te stuur.

“As jy vanuit die staanspoor reken dat jy dit net eenvoudig nie kan doen nie, jy kan nie hierdie verandering in jou lewe inkorporeer nie … Daardie aversie gaan jou in die moeilikheid kry,” sê Garson.

Die pas van verandering was reeds blitsig vóór die pandemie ons getref het, maar dit is selfs nou nog meer versnel. ’n Voorbeeld van hierdie tempo kan in die navorsingsmaatskappy Raconteur se navorsing gesien word. Dit gebruik die skep van data as ’n aanwyser. In die laaste jaar is daar, per dag, 500 miljoen twiets uitgestuur, 306 miljard e-posse wat heen en weer gezoem het en 44 zettagrepe data altesaam in die data-heelal opgegaar.

Dr Jean Cooper, bedryfs- en onder­ne­mingsielkundige wat leierskaps­advies vir verskeie maatskappye bied, sê die im­pak van die pandemie is beslis on­gekend.

“Ek dink die moderne mens van die laaste 100 jaar het dalk begin dink ons het alles onder beheer. Akademies het ons waarskynlik geweet dat iets soos die pan­demie moontlik is, maar ons was nie daarop voorbereid nie. Die realiteit is nou dat ons nie weet wat die dag van môre bring nie,” sê hy.

Probleem-eienskap 2: Jy het min empatie in voorraad

Cooper sê ons het nou leiers en werknemers nodig wat die vermoë tot empatie het.

“Jy moet kan voel wat iemand anders voel. Jy moet bereid wees om kwesbaar en outentiek op te tree. Ons hoef werklik nie voor te gee dat ons alles weet en die toekoms kan sien nie,” sê hy.

Garson reken mense met emosionele bewustheid is al geruime tyd in aanvraag. Dit gaan nou nóg meer nodig wees. “As jy jouself in iemand anders se skoene kan plaas en ’n omgewing skep waar ander veilig voel, gaan jy goeie resultate kry,” sê sy.

Aan die einde van Januarie hierdie jaar het die platform LinkedIn hulle werks­geleenthede-verslag van 2020 vrygestel. Die boodskap was duidelik: “Die 2020’s gaan beslis daaroor gaan om mense eerste te stel.” Min het hulle geweet juis hóé belangrik dit gaan word in ’n tyd waar alle mense tans deur ’n traumatiese ervaring beweeg.

As jy apaties gaan staan teenoor ander en hulle ervarings in hierdie tyd, gaan dit knor om ’n doeltreffende span te bou wat die aanslag van verandering kan weerstaan.

Probleem-eienskap 3: Jy neem alles per­soonlik op, glo jy moet reg wees en tree konstant verdedigend op.

“Niemand kan nou voorgee hulle het al die antwoorde nie,” sê Cooper. Volgens hom was die vermoë om kwesbaar te wees nog altyd ’n kernwaarde van goeie leierskap, maar dit is nou net meer duidelik.

Dus moet elke werknemer in sy in­vloedsfeer besef dat maniere van doen, voorstelle vir oplossings en idees van alle kante kán en móét kom. En as joune nie uitgewerk het nie, of afgeskiet word, moet jy jouself kan afskud, opstaan en aangaan. In sportkringe is die Engelse term bouncebackability vir die eerste keer deur sokkerbestuurder Ian Dowie gebruik om hier­die eienskap te be­skryf.

Cooper sê die ingeburgerde patriargale ma­nier van dink, dat die een in beheer nou al die antwoorde moet hê en moet reg wees, gaan nie nou die mas opkom nie.

“Leiers moet nog altyd eintlik van mense vereis om nie hulle eie besluitnemingsvermoë en gesonde verstand te abdikeer nie. Jy moet kan toelaat dat ander met teenvrae en teenargumente kom. Dit is nie die maklike benadering nie, dit beteken jou eie voorstelle gaan gekritiseer word. Maar dan, net dalk dan, vestig jy ’n sisteem wat kan dink,” sê Cooper.

“Die mense wat in aanvraag gaan wees, moet hierdie vermoë hê om nie goed persoonlik te vat nie. Ons kort mense wat lateraal kan dink en saam op­lossings kan skep,” stem Garson saam.

Posisioneer jouself nou vir die volgende stap

Dit is nie nodig om voor te gee dat alles tans goed gaan nie, want dit is redelik duidelik dat dit nie die geval is nie. Daar is enorme uitdagings waarvoor die hele wêreld staan.

Wat jy wel in hierdie tyd kan en moet doen is om jouself in die beste posisie te plaas om terug te bons ná die impak van die virus. Jy kan begin deur te kyk hoe om die bogenoemde drie probleemeienskappe in jouself aan te spreek as hulle teenwoordig is.

Jeanette Clark is ’n vryskutjoernalis.