Lesse weerklink tot in SA toe kerk bely oor Nazi-tyd

Ter herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog 75 jaar gelede het die Duitse Katolieke Biskoppekonferensie ’n opmerklike skuldbekentenis afgelê. LEOPOLD SCHOLTZ kyk na die betekenis daarvan.


Sedert die Christelike geloof in die jaar 380 die amptelike staatsgeloof in die Romeinse Ryk geword het, was die kerk alte dikwels ’n stutorganisasie van die regering van die dag en ’n weerspieëling van die kultuur van die samelewing, pleks van ’n onafhanklike instituut wat die Woord van God suiwer probeer verkondig.

Die rol van die kerke – Protestants sowel as Katoliek – tydens die Nazi-heerskappy in Duitsland (1933-1945) illustreer dit baie goed.

Die meeste Protestante (met die uitsondering van die klein Bekennende Kirche) het Adolf Hitler entoesiasties gesteun. Dieselfde geld vir die meeste Katolieke, al was die rol van die Vatikaan in Rome meer ambivalent.

Onlangs het die Duitse biskoppekonferensie (losweg vergelykbaar met ’n protestantse sinode) ewenwel ’n knieval in ’n opmerklike dokument gedoen. Dit is ’n studie met die titel Deutsche Bischöfe im Weltkrieg (“Duitse biskoppe in die Wêreldoorlog”), waarin hulle bely dat die kerk in die Nazi-tyd ver te kort geskiet het.

Op die perskonferensie waar die studie uitgereik is, het die voorsitter van die biskoppekonferensie, dr Georg Bätzing, verwys na die “herinneringstekort” by die Duitsers oor hulle eie verlede, wat egter in die geval van die kerk ’n “belydenistekort” is.

“Ons weet dat die oordeel van die Regter [bedoelende God] oor ons voorgangers nie positief is nie. Geen geslag is vry van tydgebonde oordele en vooroordele nie. Tog moet die nageslag na die geskiedenis kyk om daaruit te leer vir die hede en die toekoms.”

Die voorsitter van die Duitse Kerklike Kommissie vir Geregtigheid en Vrede, dr Heiner Wilmer, het bygevoeg dat die “Katolieke Kerk in Duitsland deel van die oorlogsgemeenskap was”. En: “In soverre die biskoppe geen onmiskenbare ‘nee’ teenoor die oorlog uitgespreek het nie, maar die wil van die meeste om voort te gaan versterk het, was ons medeskuldig aan die oorlog.”

Die dokument val saam met nuwe studies wat tans oor die rol van pous Pius XII in die oorlog gedoen word. Die huidige pous, Franciskus, het onlangs die Vatikaan-argiewe uit die tyd van die oorlog vir die eerste keer vir navorsers oopgestel, en verskeie historici het te kenne gegee dat hulle die yslike hoeveelheid dokumente wil deurgaan.

Pius het regdeur die oorlog oor die Nazi’s se massamoord op ’n geskatte ses miljoen Jode geswyg. Individuele Katolieke, biskoppe en kardinaals het weliswaar heelparty Jode van ’n gewisse dood gered, maar die pous het geen woord geuiter nie.

Die Duitse kerkhistorikus dr Hubert Wolf, wat talle boeke en akademiese artikels oor die rol van die kerk in die oorlog geskryf het, het aan die BBC gesê: “Daar is geen twyfel dat die pous bewus was van die Nazi’s se moorde op die Jode nie.”

Toe Franciskus die argiewe oopgestel het, was sy kommentaar: “Die kerk is nie bang vir die geskiedenis nie.”

Tot dusver was daar verskeie teorieë oor waarom Pius so stil was. Sommige meen hy was bang dat Hitler die onafhanklikheid van die Katolieke Kerk sou aantas; ander dat hy die kommunisme as ’n groter gevaar as Hitler se nasionaal-sosialisme gesien het.

In die biskoppe se dokument word geskryf dat die kerk se stem teen die “nasionaal-sosialistiese vernietigingsoorlog” stil was. “Ook teen die verskriklike misdade teen die as ‘rassevreemd’ gediskrimineerdes en vervolgdes, veral die Jode, is in die kerk in Duitsland skaars ’n stem verhef.”

Eers in Augustus 1943 het die destydse biskoppekonferensie ’n verklaring uitgereik wat by implikasie die beleid van die Nazi’s veroordeel het. Maar terselfdertyd is die soldate opgeroep om verder in die stryd te volhard.

Die dokument word só afgesluit: “Vandag stel ons dankbaar vas dat die bereidheid om met lastige vrae en dringende probleme om te gaan ons nader aan Christus en ’n dieper begrip van die evangelie gebring het. ’n Besondere betekenis kom daarby toe aan die memoria passionis, die herinnering aan die lyding van die slagoffers. In hulle ontmoet ons Christus.”

Die biskoppe se dokument is indrukwekkend. ’n Kerk wat eeue lank gevestigde ordes gestut het, vertel deemoedig aan die wêreld dat hy verkeerd was.

Dit is ’n dokument wat nie sonder betekenis vir Suid-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk kan wees nie. Sonder om Hitler se Nazi’s vir ’n enkele oomblik met die destydse Nasionale Party (NP) gelyk te stel – die verskille is aansienlik groter as die ooreenkomste – feit is dat ook die NG Kerk jare lank bekend gestaan het as die “Nasionale Party in gebed”.

Afgesien van wat die gereformeerde teologie van die kerk in teorie verkondig het, die kerk het in die praktyk ’n stutorganisasie van die NP geword. En, al het die kerk sy eie organisatoriese onafhanklikheid jaloers bewaak, in die praktyk het hy die Bybelse regverdiging vir die Afrikanernasionalisme en apartheid verskaf.

Natuurlik kan geen kerk ooit volkome vry wees van die vooroordele wat in die gemeenskap wat hy bedien vaardig is nie. Maar, soos die Bekennende Kirche onder die leiding van Martin Niemöller, Dietrich Bonhoeffer en Karl Barth dit in die Belydenis van Barmen (1934) gestel het:

“Ons verwerp die valse leer dat die kerk die vorm van sy boodskap en sy ordening aan die wil of willekeur van die tans heersende wêreldbeskoulike en politieke oortuigings moet oorlaat.” Daarom word dit ook verwerp dat die kerk hom aan ’n “besondere, met heerskapsbevoegdhede toegeruste Führer gee en laat gee”.

Overgezet zijnde: Die kerk moet ín die wêreld wees, want hy moet relevant wees vir diegene wat hy bedien. Maar hy moet nie ván die wêreld wees nie.

Sowel die Protestantse as Katolieke kerke in Duitsland het in die Nazi-tyd hulle onafhanklikheid prysgegee en het deel van die Hitler-diktatuur se totalitêre onregstaat geword. Op ’n aansienlik swakker noot het die NG Kerk (en die ander Afrikaanse kerke) iets soortgelyk in die tyd van apartheid gedoen.

’n Egte kerk is organisatories en wat sy verkondiging betref onafhanklik van die regering van die dag. Dit beteken dat die kerk ook polities volledig magteloos moet wees. Dáárin lê sy krag.

  • Dr Leopold Scholtz is ’n historikus en onafhanklike joernalis.

One thought on “Lesse weerklink tot in SA toe kerk bely oor Nazi-tyd

  1. Daar is nou bewys dat die NG kerk en Rooms Katolieke kerk hulle geraamtes uit die kas gehaal en hul skuld aan Nazisme en/of Apartheid in verskillende kerkvergaderings voldoende bely het. Word daar nog iets verder verwag?

Comments are closed.