Hartseer, vrees en protokol

Ek sorg dat ek vroeg by die kapel is, want ek weet nie wat om te verwag nie. Ons sou die gedenkdiens al ’n maand gelede gehou het in ’n kerkgebou waarmee ek vertroud is. Dáár sou ek geweet het waar om te parkeer, waar ek kon staan, waaraan ek kon vat of nie hoef te vat nie. Hier is alles onbekend.

Nie dat iets regtig meer bekend is nie. Dit is maar die 3de keer in 45 dae wat ek “ordentlike” klere aantrek en grimering aansit. Die ander twee kere was toe ons my preek moes opneem vir YouTube.

Ek is gewapen met my masker en ontsmettingsmiddel, maar ek is nie eens seker hoe ek dit gaan gebruik nie …

My hart bloei vir die familie, want niks is ook vir hulle normaal nie. Hulle geliefde ma en ouma is al op 4 April oorlede. Dit het 10 dae geneem om net die doodsertifikaat te kry. Die gedenkdiens is al twee keer uitgestel. Vandag is die derde datum.

Ek doen nie graag ’n begrafnis of gedenkdiens as ek nie eers die familie kon ontmoet en met hulle gesels nie. Hierdie keer moes ons alles via e-pos en telefoon doen. Ek het die tannie geken, maar nie haar geliefdes nie. Vandag sal ek hulle vir die eerste keer ontmoet alhoewel dit gelukkig voel of ek ’n paar van hulle al persoonlik ken. Vanweë die uitgerekte tydperk en veranderings in datums en onsekerheid oor die lokaal het ons verskeie kere kontak gemaak. Dit was ook in hierdie tyd die herdenking van die tannie se 100ste verjaarsdag. Glad nie ’n maklike tyd vir die familie nie.

Een van die seuns en sy vrou daag by die kapel op. Hy klim uit sonder ’n masker en ek hou dus myne in my hand en sit dit nie op nie. Nuwe vorm van hoflikheid? Hy hou gelukkig sy afstand. Ons gesels ’n rukkie. Sy vrou bly in die motor sit.

Die volgende familie daag op. Hulle het ook nie maskers aan nie, so ek hou maar myne af. Die man kom aangestap na my toe met sy hand uitgestrek. Ek weet regtig nie wat om te doen nie. Hierdie was my grootste vrees. Of nee, my tweede grootste vrees. Die eerste was dat ek moet onthou ek mag nie die mense druk nie – my natuurlik reaksie wanneer iemand pyn of hartseer ervaar. Die tweede dan, hoe sê ek moet asseblief nie aan my raak nie? Ek kry dit nie oor my hart nie en skud maar sy hand. Bid in die stilligheid vir bewaring en beskerming.

Nog familie daag op. Heelwat met maskers aan en ek sit myne ook aan. Dit is bedompig en ek praat moeilik. My bril wasem aan. Dit is aakliger as wat ek gedink het dit sal wees. Nog iemand groet my met die hand, dan nog een. Ek glip stilletjies weg en gaan spuit gou ’n bietjie handreiniger aan. Ek voel soos ’n skurk!

Dan is dit tyd vir die diens om te begin. Daar is nie ’n mikrofoon nie en op ’n manier is ek verlig. Ek het gewonder hoe veilig dit sal wees om ’n mikrofoon om jou oor en naby jou mond te hê wat om iemand anders se oor en naby sy/haar mond was. Iets wat my nog nooit vantevore gepla het nie.

Ek haal my masker af. Skielik verstaan ek hoekom die president en ander ministers tydens hulle onderhoude op televisie sonder hulle maskers aan praat. Ek voel sleg dat ons hulle daaroor geoordeel het. Hemel, is daar iets waaroor ’n mens nie gaan sleg voel nie?

Ek het altyd op die vliegtuig gelag as ’n mens die Asiatiese mense sien met hulle maskers aan. Wat is die gesegde? Met jou spot gaan jy na bed … Hier sit ’n saal vol mense voor my, almal met maskers aan. Almal uitgesprei, net man en vrou langs mekaar, die res met stoele tussenin. En dit is nie eens ver genoeg nie. My man het net gister vir ons ’n eksperiment met die maatband gedoen om te wys hoe ver 2 meter regtig uitmekaar is. Ons slaag nie vandag die toets nie, maar ek is vir seker nie die een wat gaan vra sit asseblief verder uitmekaar nie. Hier is genoeg trauma en abnormaliteit!

Ek begin praat met hierdie mense agter die maskers. Dit word van tyd tot tyd afgehaal om ’n traan af te vee. My hart bloei vir hulle. Hier en daar druk die een die ander se hand. Ek wens skielik ons kon almal baie naby aan mekaar wees en mekaar een groot groepsdruk gee. Dit kan egter nie gebeur nie en ek gaan voort onder hierdie vreemde omstandighede. Genadiglik dankie vir oë wat die vensters van ons siel is. Ek raak rustiger in my gemoed en kry dit reg om kontak te maak met die mense agter die maskers. Net so moeilik as wat dit die eerste paar minute was om met mense sonder gesigsuitdrukkings te praat, so spesiaal raak dit om die rou emosies in hulle sielvolle oë raak te lees.

Dit was een van my vreemdste en tog spesiaalste gedenkdienste ooit. Ek dink vanweë die vreemdheid en uniekheid van die omstandighede het ons almal op ’n ander vlak interaksie met mekaar gehad.

Na die tyd is daar nie die gebruiklike tee en “begrafnisbroodjies” nie. Almal probeer onthou om afstand te hou en gesels so ’n vinnige geselsie voor ons weer moet groet. Ek hoor baie beloftes van kuiers na die isolasietyd. Ook ’n belofte van ’n groot herdenking van die tannie se 100ste verjaarsdag sodra dit kan.

Daar is definitief die seer van rou sonder die fisieke ondersteuning van geliefdes. Die verwyt en vrede maak dat hulle nie by hulle geliefde ma en ouma kon wees in haar laaste dae nie.

Maskers en ontsmettingsmiddels en afstand gaan nog ’n ruk lank deel van ons lewe wees. En na dit alles gaan ons die wonde wat in hierdie tyd ontstaan het moet probeer beter maak. Om nie van al die nuwe skuldgevoelens te praat nie …

Wanneer gaan iets ooit weer “normaal” voel?

  • Dr Daléne Flynn is ’n teoloog, berader en konsultant.