Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Blancogemeente se kerktoring-uiltjies in hulle nuwe uilboks-huisie. Foto verskaf

Kerktoringbewoners bied leraar teken van hoop

Die 50 dae vanaf Opstandingson­dag op 12 April 2020 tot en met Pinkstersondag op 31 Mei 2020, het vir hom nuwe betekenis gekry in die dophou van ’n klompie Nonnetjie-uiltjies in Blancogemeente, George se kerkto­ring, vertel ­FRANCOIS MULDER.


Die grendelstaat het natuurlik gemaak dat die meeste van ons in hierdie vreemde tyd met nuwe oë na mekaar en die natuur om ons kyk. Dáárom was die ontdekking van ’n Nonnetjie-uil met haar vyf eiers in die kerktoring op Paasfees vir my ’n besondere teken van hoop en nuwe lewe in ’n tyd van wêreldwye vrees en dood as gevolg van die pandemie.

Ons deel op sosiale media die nuus van die kerktoring-uiltjies en op 3 Mei roep ons ’n doopname-kompetisie in die gemeente uit. Ons ontvang terugvoer van meer as 50 mense. My ma­triek­dogter, ’n uilliefhebber, dring aan op Hedwig vir die ma-uil na aanleiding van die Harry Potter-boeke. Ouboet-uil word vernoem na Winston Churchill en heet Winston Churchowl.

As “peetpa” van die uiltjies besoek ek hulle elke Sondagoggend net voordat ek die kerkklokke om 10:00 lui. Op Pinkstersondag word die uile deur die Garden Route Birds of Prey Rehab Centre op ons versoek uit die kerkto­ring na ’n uilboks teen ’n boom op die kerkgronde verskuif. Soos die uile ge­dwonge die veiligheid van die kerktoring en later vrywillig dié van die uilboks gaan verlaat, verlaat gelowiges (onder normale omstandighede) week na week die voorheen veilige ruimte van ’n kerkgebou om met die krag van die Heilige Gees die vreemde en uitdagende wêreld daar buite te trotseer. Dit is tyd vir die kerk van Jesus Christus om haar vlerke te sprei, die nes te verlaat en te vlieg met die wete: Die graf is leeg, die oorwinning is deur Jesus Christus behaal en die Gees van Pinkstersondag bekragtig ons om in hierdie tyd die boodskap van hoop en nuwe lewe te bring.

Ds Francois Mulder is een van drie le­raars by NG Kerk Blanco op George.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top