Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Goeie hulp vir Skrifverstaan

Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie
Uitgewer: Lux Verbi, 2020
Resensent: Deon Strydom


Tik ’n mens die woord “Skrifverstaan” of selfs die woorde “Skrif misverstaan” in ’n soekenjin in, kry jy ellelange lyste van geskrifte. Na elke sinodebesluit, hetsy of dit oor kerk­eenheid, Belhar of die sogenaamde “gay”-debat gaan, word die woord van­uit alle windrigtings heen en weer gegooi.

Hierdie boek begin ook in die voorwoord om te verwys na die verwarring rondom hierdie saak in die vroeë 1990’s. Die skrywers het toe op daardie sta­dium Bybelkursusse in gemeentes aan­gebied oor Bybelse hermeneutiek (die teorie oor die verstaan van die Bybel). Die kursusse was so gewild dat die inhoud in boekvorm verskyn het. Hierdie uitgawe is ’n effens aangepaste weerga­we van die destydse boek. Die feit dat die resensent dit waardevol, prikkelend en op datum gevind het, wys daarop dat die tema nog net so belangrik is as in die 1990’s.

Die skrywers gebruik ’n eenvoudige formaat van vier hoofstukke:

  1. Struikelblokke
  2. Hulpmiddel 1: Die literatuursoort is belangrik
  3. Hulpmiddel 2: Hoe die Bybel ontstaan het
  4. Vastrapplekke: Hoe kan ons weer God se stem in die Bybel hoor?

Binne die hoofstukke word die belang­rike sake lekker duidelik uiteengesit, met voldoende voorbeelde uit die Bybel. Waar nodig, en net waar nodig, word na die Grieks en Hebreeus verwys, sodat die boek toeganklik is vir iemand sonder grondtaalkennis. Voorbeelde uit die hedendaagse tyd of bekende verlede word ook gebruik om die konsepte duidelik te maak.

Daar word van kort vraelyste en selfs verskillende kort preekmoontlikhede uit dieselfde teks gebruik gemaak om seker te maak die lesers bly by. Met die hulp van tydlyne word sake in perspektief gestel, soos byvoorbeeld hoe ons aan ons huidige Bybel-kanon (die boeke opgeneem in die Bybel) gekom het.

Die boek is verstaanbaar geskryf, maar ek sou aanbeveel dat ’n leser dit aanpak soos wat dit oorspronklik be­doel is, as ’n kursus. Daar is selfwerksaamheid wat aangebied word by die hoofstukke, wat sal verseker dat die l­eser die konsepte onder die knie kry.

Verstaanbaar, maar nie bedoel as ’n kop-afskakel lees nie. ’n Boek om te lees, te herkou, om oor te dink. Dalk skud dit soms jou vooropgestelde idees, maar dit is goed, want dan kan jy standpunte vorm wat deurdink en gegrond is. Jy sal jou dominee ook lekker op sy/haar tone kan hou met hierdie kennis!

Lees dit gerus!

▶ Ds Deon Strydom is predikant van NG Kerk Stutterheim.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top