Leer rym-rym van aanbidding, gehoorsaamheid

Gediggies vir vrolike gesiggies deur Aletté-Johanni Winckler, met illustrasies deur Wess-lee de Klerk.
Uitgewer: Lux Verbi, 2020


Gediggies vir vrolike gesiggies is verskuilde lesse wat rympies gebruik “om lewenswaarhede speel-speel en op ’n ligte trant” oor te dra.

Die hele boek is prettig en kleurvol. Kinders sal dit geniet om deur die kleurvolle bladsye en vrolike illustrasies te blaai. So rym-rym leer kinders van aanbidding, hulle waarde, ge­hoor­saamheid, en nog baie meer.

Die manier waarop daar met deer­nis gepraat word oor boelies se pyn, is treffend (“’n Boelie is ’n maatjie wat baie goed kan skuil / van sy eie trane, maar eintlik wil hy huil. / Sy hartjie is vol pyn en vrees. / Nou wil hy hê dat jy ook bang moet wees.”) Ook die gediggie van ’n skaam kind is besonders in ons ekstrovert-gefokusde wêreld. Die lof-gediggies is beslis ’n prettige sterkpunt van die boek. Ek het gehou van die speelse “Skeppende hande”: “Dinosourus, Dinosourus / waarom brul jy as jy sing? / Liewe seuntjie, lie­we dogter, dis hoe ek ’n liedjie bring … Dinosourus, Dinosourus / God het my net só gemaak. / Liewe seuntjie, liewe dogter, wat dan anders maak nou saak?”

By elke gediggie is daar ook ’n teksvers, spesiaal uit ’n kindervriendelike Bybelvertaling. Dit beteken dat ouers natuurlik ook die gediggies op ’n speel­se manier tydens huisgodsdiens kan gebruik. Of die Bybel speel-speel in die gewone verloop van die dag intrek.

Die boek kom met ’n CD met toonsettings van 20 van die gediggies. Weens die inperking kon hierdie resensent ongelukkig (nog!) nie na die CD luister nie.