Geliefde leraar (wat voorblad gehaal het oor boeie-sage!), tree af

Dr Francois Hanekom, stigtersleraar van die NG gemeente Melkbosstrand, wat ná 38 jaar vrugbare diens in dié gemeente finaal die kansel vaarwel toegeroep het, was geen ortodokse, doodgewone herder nie – nes die sjarmante / elegante / pikante (kies jou eie woord) Riana geen bloudruk van ’n tradisionele Mev Dominee was nie. HENNIE VAN DEVENTER vertel meer.


Hulle was altyd en is steeds … wel … net Francois en Riana (of “Pop”, soos hy haar noem).

Oor pastoriepare se verdienste kan nogal in gemeentes uiteenlopende oordele voorkom. Waaroor Melkbossers dit bankvas eens sal wees, glo ek, is oor dié twee se warme menswees. Die Hanekoms het jou laat voel die wêreld is ’n gawe plek wat bewoon word deur goeie, wellewende medemense op wie jy altyd sal kan staatmaak, al raak dinge rof.

Veral ouer mense en platgeslaandes het Francois intens só beleef. Bejaardes het aan sy lippe gehang as hy vir hulle een van sy geliefde psalms lees. Gebrokenes het graag onder sy vlerk skuiling gesoek. Geen wonder nie dat gedenkdienste een van sy fortés was. Hy het die kuns bemeester om – voor die laaste kluitklap op die kis as ’t ware – met ’n unieke mengsel van deernis en humor die hartseer naasbestaandes so op te beur dat hulle selfs glimlaggend die kerk verlaat vir die tradisionele toebroodjies ná die diens.

Francois en Riana Hanekom in New York. In die VSA het die Melkbosleraar al stringe Imago-kwalifikasies in verhoudingsterapie verwerf.

Gemeentelede sal seker ook saamstem dat Francois buitengewoon kreatief is. In woord en daad. Hy is lief vir alliterasie, byvoorbeeld “klinkergeloof” teenoor “kluitgeloof”. By hom het die gemeente gehoor van “kat-teologie” en “honde-teologie”, van God se “ICU” (I see you), van “ballon-Christene” (wat van doer bo op ander neerkyk) en van manne se “meno-Porsche”.

In ’n stadium was die gereelde FvH op die skerm ewe bekend as sy rooi Shopritesak met lekkertjies vir die kinders. FvH staan vir “faks van die hemel”. Hy was ook die vader van die begrip “preek in ’n woefkardoes” (ietsie op skrif om saam huis toe te vat).

Hulpmiddels soos ballonne wat bars, inspuitnaalde, vermommings en allerlei uit “Pop” se kombuiskas het sy prediking opgehelder – soms tot “Pop” se konsternasie. Sy is nie een wat haar onbetuig laat nie. Francois kon net verleë glimlag wanneer sy van die orrel, in die beginjare nog op die galery, se kant af raas.

“Ek sal hom ‘vrek’ maak,” het die verontwaardige “pastoriemoeder” een oggend oor haar skouer van haar orrelstoeltjie af gedreig toe hy een van haar duur Pyrexbakke op die kansel uithaal om ’n punt tuis te bring. So ver het sy darem nie gegaan nie. Waaraan sy wel skuldig was, was om stilletjies ’n plakker met die woorde “slow cooker” op die agterkant van sy baadjie te plak. Oral waar hy daardie aand huisbesoek gedoen het, was die glimlagte buitengewoon breed!

Kreatief wees, is natuurlik alles goed en wel. Maar wee die kreatiewe een as die “onvoorsiene” insluip. Een Sondag wou die leraar die houvas van die sonde demonstreer. Vir dié doel het hy by die polisie boeie gaan leen. ’n Tienjarige gemeentemeisie, Sharleen Brider, kom toe dapper as vrywilliger vorentoe. Sy hou haar hande uit en die boeie klik.

Francois Hanekom en Sharleen Brider (10) wat deur die polisie van haar boeie bevry moes word.

Toe die moles. Die sleutel wil nie werk nie. Die gemeente hou gespanne die gesukkel dop. Een of twee begin proes. Die geproes word lagbuie wat deur die kerk spoel. Die boeie bly egter hardnekkig verseg om oop te gaan.

Die koster gaan skakel later die polisiehoof. ’n Geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil – natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel verbete. Die gemeente lag al hoe harder terwyl hulle dominee en die verskrikte Brider-dogter geboei weggebring word polisiekantoor toe. Daar word die regte sleutel darem gevind.

Die volgende môre het Francois Die Burger se voorblad gehaal!

Later kon hy maar net saamlag. Een van sy talente is immers sy verfrissende humor, wat soos ’n fonteintjie uitborrel. Dit het hom soms avontuurlik en ondeund gemaak. Van sy preke het die gemeente laat regop sit. Ons het nog regopper as gewoonlik gesit toe ons een oggend sy preektema verneem: “Hou jy van striptease?” Natuurlik laat so ’n verrassende tema lidmate wonder: Wat voer onse leraar dié keer in die skild?

Aan die orde was die storie van Noag, die wynboer, wat te diep in die wynsak gekyk het. In Genesis lees ons hoe hy kaal in sy tent sy roes gaan afslaap het, en van sy seuns Sem, Gam en Jafet, se verskillende reaksies op hulle pa se verleentheid. Gaan lees gerus in Genesis 9:20-29 oor Gam se onverskilligheid. Dit het hom duur te staan gekom, en goed so.

Dr Francois Hanekom. ’n Mens vergeet maklik hoeveel honde dominees op huisbesoek moet trotseer. Dr Hanekom is in sy 38 jaar deur 13 honde gebyt.

Francois het daardie oggend nog ’n “verrassinkie” vir sy gemeente gehad. Terwyl almal nog wonder wat die striptease-preek kan oplewer, toor hy as dalk sy sonderlingste hulpmiddels ooit ’n rooi bra en wit mansonderbroek onder die kansel uit. Njannies. Jy kon as ’t ware hoor hoe na asems gesnak word.

Maar, natuurlik, was alles sommer net oëverblindery. Die Noag-preek het ’n geheel ander wending geneem. Die gemeente het aandagtig geluister na ’n oproep om nie mense verbaal kaal te stroop deur hulle oomblikke van swakhede vir openbare sensasie te ontbloot nie.

Hy haak toe aan by 1 Korintiërs 13 oor die liefde wat alles bedek, en moedig ons aan om in liefde ook so ’n bedekkende “dak” op te sit oor ander se skades en skandes. ’n Mooi, positiewe, opbouende en verrykende preek.

Francois en Riana in hulle jonger dae.

Oor die amperse misverstand wat die aankondiging van die preektema in die Nuusbrief en elders gewek het, het ek ’n speelse versie geskryf wat ek, tot sy plesier, vir Francois gestuur het:

Doomnie stel ’n stoute wip / Vra vir ons: Hou jy van ‘strip’? / Ek dink: O wee, hoe sê mens nee? / Toe lei hy ons op reiner weë.

Anders as verskeie Melkbos-kollegas deur die jare was Francois, helaas, geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente van die kansel af ingelig – hy sing darem self ook. Dan nie met backtracks nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy falsetto ’n opgeruimde solo: Jesus roep my vir ’n sonstraal, ’n sonstraal …

’n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. Net so met Riana, die “Pop” wat hy altyd so hartroerend van die kansel af kon bedank vir haar mooi orrelspel.

  • Hennie van Deventer is ’n voormalige redakteur van Volksblad.

One thought on “Geliefde leraar (wat voorblad gehaal het oor boeie-sage!), tree af

  1. Alwyn du Plessis says:

    Wat ‘n mooi adres wat Hennie Van Deventer hier aan die leraar oorhandig. Mooi getuigskrif in tye wat ons net negatiewe stories hoor oor korona, VBS bank, en soveel moord en doodslag.
    Laat jou lig steeds skyn dominee.

Comments are closed.