Kerk oor die muur of oor die rubicon? (Naledi, 2020) het pas uit die pen van Frits Gaum verskyn. In hierdie boek skryf hy oor geloof, onreg en die veelbesproke hofsaak teen die NG Kerk. RETHIE VAN NIEKERK het hom gevra:
KERKBODE (KB): Baie geluk met die publikasie van Kerk oor die muur of oor die rubicon? Waaroor gaan die boek en hoekom het jy dit geskryf?
FRITS GAUM (FG): Die titelonderskrif van die boek lui: “Oor geloof, onreg en ’n hofsaak”. Ek dink in die boek na oor my geloof 20 jaar nadat Geloofsverklaring 2000 destyds met die oorgang na ’n nuwe millennium op inisiatief van Kerkbode, waarvan ek toe die redakteur was, opgestel en gepubliseer is. Glo ek (en ons) nog so? ’n Tweede saak wat ter sprake kom, is onreg in die kerk. Die NG Kerk het in die laaste dekade van die vorige eeu met groot beslistheid afskeid geneem van die onreg van apartheid, maar tog toegelaat dat kerklike onreg teen gay lidmate tot in die 21ste eeu voortduur. Hoe het dit gebeur? Twintig lidmate van die NG Kerk het die kerk ná ’n jarelange stryd oor dié kwessie hof toe geneem. Die boek vertel die verhaal van die hofsaak en gee ook aandag aan die vraag of dit reg is dat Christene mekaar hof toe neem.
KB: Johan Buitendag beskryf die boek as ’n “geloofspelgrimstog”. Brei asseblief ’n bietjie uit daarop.
FG: Ja, ’n mens dink jou lewe lank oor jou geloof na. In daardie sin is ons almal besig met ’n geloofspelgrimstog. Die heel eerste kursus van Bybelkor (deesdae Bybel-Media) het as titel gehad So glo ek. Ek het daarin oor die Twaalf Artikels geskryf, die geloofsbelydenis wat ons met die meeste kerke wêreldwyd deel. Dit is nou amper 50 jaar gelede dat daardie kursus die lig gesien het en baie dinge het intussen verander. Ek sal nie ’n kursus of boek oor die Twaalf Artikels presies soos destyds skryf as ek dit nou moet doen nie … soos ook nie Geloofsverklaring 2000 in elke opsig soos 20 jaar gelede nie. Gelukkig ook so, want as ’n mens nie verander en ook in jou geloof groei nie, is dit tragies … dan is jy geestelik dood. So ja, dis ’n “geloofspelgrimstog” wat oor baie jare strek.
KB: Hierdie “tog” waarvan Buitendag praat, is volgens hom ook ’n tog van selfontdekking. Wat het Frits Gaum self geleer uit die refleksie wat kom met die neerpen van so ’n verhaal?
FG: Bart Nel, die hoofkarakter in Jan van Melle se bekende gelyknamige roman, het deur die storms van die lewe anderkant uitgekom en gesê: “Ek is nog hy.”
Ek is “basies” nog die mens wat destyds So glo ek geskryf het, maar gelukkig nie in alle opsigte nie. My pad, soos ons almal s’n, het deur baie dale en oor baie heuwels geloop, en dit laat baie spore. Wat wel waar is, en daarvoor dank ek die Here, is dat ek die geloof behou het, al is my geloof soepeler en ruimhartiger as in my dae as jong dominee wat die antwoorde op die meeste vrae “geken” het!
KB: Jy is ’n kranige en gerekende skrywer. Wat wou jy veral in jou jongste boek dokumenteer?
FG: Ek reken dit is baie belangrik dat die gegewens rondom die homoseksuele (of LGBTIQA+) lidmate se stryd in die NG Kerk gedokumenteer word. Dr André Bartlett vertel die verhaal tot op ’n punt in sy belangrike boek, Weerlose weerstand. In my boek lê ek die klem op die hofsaak en die gevolge daarvan. Dit was nie vir die 12 lidmate, waarvan ek een was, ’n maklike en eenvoudige saak om met die kerk hof toe te gaan nie.
Die hantering van die “gay saak” deur die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode van 2016 het ons egter op die ou end geen keuse gelaat nie. Dié sinode het nie hulle eie reëls nagekom nie en onreg ook teen gay lidmate laat voortduur deur hulle in bepaalde opsigte as tweedeklas-lidmate te behandel. Die hof moes regsekerheid gee en onregverdige kerklike diskriminasie ondubbelsinnig afwys. Dit het toe ook gebeur. In my boek dokumenteer ek die aanloop, verloop en afloop van dié saak.
KB: Om op 80 so ’n werk die lig te laat sien, is nie te versmaai nie! Wat beoog jy vir die toekoms?
FG: Vir my is die groot vraag nou wat die NG Kerk gaan doen om reg te maak wat verkeerd gedoen is. Die NG Kerk het hard gewerk om die bagasie van apartheid in woord en, veral, daad af te gooi. Ek het destyds die NG Kerk se belydenis en getuienis oor apartheid geskryf. Dit het ook op die tafel van die Waarheids-en-Versoeningskommissie beland, en in die jare sedertdien het die NG Kerk haar daarop toegespits om van haar apartheidsverlede ontslae te raak. Nou, met die Covid-19-pandemie, speel die kerk ook ’n belangrike rol om diens te lewer. Maar wat die gay lidmate betref, is daar nog baie wat gedoen moet word. Die kerk het wel al dikwels “jammer” gesê vir wat gay lidmate en hulle families aangedoen is, maar die jammer-sê het nog nie dade van herstellende geregtigheid geword nie. Die kerk moet daadwerklik uitreik na gay lidmate en hulle in alle opsigte in die hart van die kerk verwelkom sodat hulle hulle onmisbare bydrae kan lewer. Daarvoor, vir herstellende geregtigheid, wil ek my graag beywer in die paar jaar wat, as die Here wil, nog vir my voorlê. Al is dit van die kantlyn af synde ’n afgetrede dominee wat in sommige skoene steeds ’n duwweltjie is!
- Kerk oor die muur of oor die rubicon? word deur Naledi uitgegee en kan bestel word by Naledi: Tertia Swart 078 648 8616 / tertiaswart@naledi.onlne