Almatine Leene is die eerste vrou om ’n beroep te ontvang in die Gereformeerde Kerk Vrijgemaakt in Nederland.
Dr Leene beskryf daardie denominasie as haar geboortekerk, so die afskeid is ook ’n terugkeer vir die leraar wat die afgelope paar jaar as dominee by NG gemeente Stellenbosch-Wes werk.
Leene en haar gesin sal inval by ’n gemeente met sowat 900 lidmate, waarvan ongeveer 70% van lidmate jonger as 50 jaar is en ’n kwart onder 14. “(Die gemeente) groei baie in getalle en het ’n diep hongerte vir die Woord,” vertel sy opgewonde.
Leene het 16 jaar in Suid-Afrika gewoon en gewerk en die besluit was nie maklik nie. “Ek het al groot trane gehuil en ek dink ek gaan nog baie trane huil,” vertel sy. “Die NG Kerk sal vir my altyd baie spesiaal wees omdat dit die kerk is waar ek ’n leraar geword het. Ek mag dalk in Nederland die eerste vrou wees wat in my denominasie bevestig word, maar ek is al ’n leraar. En dít is die geskenk wat die NG Kerk vir my gegee het. Die NG Kerk het my eerste die erkenning as leraar gegee wat ek toe nog nie in Nederland kon kry nie. Dit is vir my ongelooflik en spesiaal. Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê Leene.
En wat neem dié Nederlander van Suid-Afrika terug na haar geboorteland? “’n Bewustheid van jou konteks en gasvryheid,” sê Leene vinnig en verduidelik verder: “In Suid-Afrika voel dit of jy baie meer met jou konteks, noodgedwonge ook, te doen het. Dit spruit uit die fokus om missionaal te wees en kerk te wees. Jy het kontak met jou konteks. Jy is kerk waar jy is. In jou dorp. Ek dink die Nederlandse kerk kan nog baie hieroor leer.”
