Kerk oor die muur of oor die rubicon? Oor geloof, onreg en ’n hofsaak deur Frits Gaum
Uitgewer: Naledi, 2020
Frits Gaum, wat diep spore in die NG Kerk getrap het, vra of ons woedend moet wees of moet goed voel oor die NG Kerk. As Skrifgesag die olifant in die vertrek is, kan ons die gesag van die Skrif aanvaar en terselfdertyd ’n duursame, monogame verhouding tussen mense van dieselfde geslag goedkeur? Op hierdie vrae word antwoorde gegee. Dit kulmineer in sy vertelling in hoofstuk 4 – “Met die kerk hof toe?” – oor die nou beroemde hofsaak van die “12” oor die “gay-kwessie”. Gaum skryf objektief oor die gebeure. Plek-plek tel jy egter sy pyn en teleurstelling oor hoe die saak en die “12” hanteer is, op. Gaum huiwer nie om die name van die betrokke partye te noem nie.
Die boek begin (Hfst 2 – “Kerk op die afgrond?”) deur onder andere die breër agtergrond van die eerste hofsake teen die NG Kerk kursories uit te lig (Loedolff vs Kaapse Kerk, Du Plessis vs NG Kerk en dan die “12” teen die NG Kerk). Hy staan ook kortliks stil by die Woordfees-debakel en Moreletapark.
Die ander hoogtepunt (Hfst 3 – “Glo ons nog so?”) is Geloofsverklaring 2000 wat Gaum herbesoek. Hoewel Gaum nuut dink oor die verklaring, kon hy hier meer waagmoedig gewees het. Gaum het steeds ’n eng verstaan van God, ten opsigte van ander gelowe en die rol van Christus. Van die ander sake wat hy uitlig, is vandag nog relevant: Hy skryf verhelderend oor die mens en die waarde van lewe wat insluit “genadedood / bystandsdood”, na alle waarskynlikheid die volgende etiese vraagstuk op die kerk se agenda. Gaum dink nou anders oor die huwelik as in 2000 (Veertiende verklaring). Wanneer hy egter oor kinders praat, klink dit vir my te geyk, veral in die lig van oorbevolking: “Wie kinders kan hê, maar doelbewus daartéén besluit, sal wel goed moet nadink oor hulle motiewe.” “Seksualiteit” (Vyftiende verklaring) kan lidmate, en predikante, werklik help met die verstaan van die gay-tekste [my woord] in die Bybel.
Oor sy eie pad met ’n gay seun in die huis, skryf hy hoe dit op ’n dag aan sy eie deur kom klop het. Jy hoor ’n ouer se hartseer van ontkenning, maar ook die nuwe insig oor tyd heen. Hoofstuk 5 sluit met ’n toekomsblik oor hoe die NG Kerk sou kon lyk. Ek beveel die boek graag aan vir lidmate en leraars. Dit is in ’n gemaklike trant geskryf, bykans verhalend. Lidmate behoort tot ’n nuwe verstaan te kan kom, nie net van die “gay-kwessie” nie, maar ook ander sake wat tans uiters relevant is.
▶ Dr Johan van den Heever is predikant by die NG Kerk Rondebosch in Kaapstad.
