Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

God skep geleenthede

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Laatmiddag, op die koudste dag van die winter, stap ek na die agterste deel van ons erf om ’n paar stukke hout te gaan kloof vir ’n kaggelvuur. In die oomblikke toe ek op die Wendy-huis se stoepie staan om die byl te kry, hoor ek ’n stem van die sy­paadjie af. Iemand roep na my: “Asseblief Morena, die koue maak my dood. Kan jy my nie help met geld om terug te gaan na Hammanskraal, na my huis toe nie?” Ek loer oor die tuinmuur en sien sy grys hare bo die masker. “Ek het net R20 in my beursie,” sê ek. “Enige bietjie sal help,” sê hy.

Ek soek rond vir genoeg geld om die ou man te help, bietjie geïrriteerd oor hoe lank dit vat terwyl die son vinnig sak en die hout nog gekap moet word. Maar, na ek uiteindelik geld uit my seun se beursie kon leen, dink ek hieroor. Dit is eenvoudig nie reg dat ’n ou man in die strate loop en hoop dat iemand hom sal help met ’n bietjie geld om by sy huis te kom nie. Sy oordadige dankies en sy groet “God sal jou seën” laat my nogal ongemaklik voel.

’n Klomp dinge oor ’n gestuurde lewe word in daardie klein gebeure vir my duidelik. Jy kan nie vir almal sorg nie, maar sorg vir diegene wat die Here oor jou pad bring. Marinda van Niekerk van PEN en Winterhoop, het dit mooi gesê: Sorg vir mense wat jy sien, in jou onmiddellike omgewing, op die hoek van jou straat, in jou wêreld.

Ons moenie onderskat hoe die Here gebeure laat saamval nie. Net vóór ek geloop het om te gaan hout kap, het ek die Nid-Cram verslag oor honger in die tyd van Covid-19 gelees. Ek is attent gemaak op die omvang van die nood. En op die oomblik toe my kop bo die tuinmuur uitsteek, loop iemand in nood verby. Dit is nie toeval nie, skrywers oor spiritualiteit noem dit sinchronisiteit, die manier hoe God oënskynlik gebeure laat saamval en juis daarin op die toneel verskyn.

God skep vir ons geleenthede om sy gestuurdes te wees. Ons moet toelaat dat die Gees ons hart aanraak en ons oë daarvoor oopmaak. Ons hart moet aangeraak word, anders beleef ’n mens dit as ’n las. Onthou wat Rassie Erasmus na die Wêreldbeker-oorwinning gesê het: “Om hoop te gee, is ’n voorreg”. God skep geleenthede waar ons sy liefde en hoop in die wêreld kan indra.

Dit is goed om oor sistemiese pro­bleme te dink en oplossings daarvoor te soek. Ons kan nie onreg in die samelewing ignoreer nie. Maar dit is ook goed om op klein plaaslike vlak in die lewe van een mens ’n verskil te maak.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top