Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wie dra die kroon? God of Corona?

Zeus, die hoofman, lei die godevergadering.
Hy is die oppergod van die lugruim waar sterre dwaal,
hy laat storms broei en lande oorstroom en daarna
laat hy die son en die sterre weer glinster.

Afrodite, godin wat die liefde aanwakker,
die dogter van Zeus en Dione, vlei na haar pa
om op sy skoot te sit en liefdesgeure af te skei,
maar hy sit haar op haar plek, dis nie nou tyd
vir liefdespeletjies nie, die wêreld is in rep en roer.
Dit is ’n noodvergadering, al die gode word opgeroep.

Die gode sal graag van die aardse toneel
wil verdwyn, maar die aarde kan nie sonder
hulle oor die weg kom nie, die mense doen
in noodtye op hulle ’n beroep om hulp te verleen,
in donkertye wil die kwesbare mens op hulle steun.
Die aarde is vervuil van stom gode wat septers swaai
en op elke ashoop en in elke huis koning kraai.

Die gode daag bewend en druipstert by Olimpus op.
Op die aarde voer haat en oorloë hoogty, die aarde
bedek haar kinders se bloed met ’n roukleed.
Die moeder skud onder die gewig van vernielsug,
kwaadwilligheid, jaloesie, diefstal en moord.
Armoede begrens mense tot sinkkrotte, brood
is skraps, rotte snuffel met honger-harte rond.
Rassisme vlam onstuitbaar met mening op,
wysheid word deur dwaasheid onderdruk.
Van al die wandade en mensonterings moet Ares,
die oorlogsgod, en Athena, die godin van wysheid,
verslag doen, hulle is verslae en is hul aanspraak kwyt.
Die ander gode skud hulle koppe en sug moedverlore.
Almal hou asem op toe Asklepios, die god van genesing
opstaan en al hakkelend en verleë van ’n dodelike virus
berig: Corona het met mag en mening toegeslaan,
viroloë kan die klein verwoester nie opspoor nie,
die ganse wêreld is in Corona se noodgreep.
Een na die ander word ten spyte van mediese sorg
onder ’n doodskleed tot lyke en geraamtes verdoem.

Die rouste en donkerste emosies van mense breek los,
met woede en haat word daar op mense toegeslaan.
Woedend word alles vernietig, vlamme lek aan die hemel.
In wanhoop skreeu mense na die hemel en roep gode aan.

Mense wat hulle op afgode verlaat,
bly sonder uitsig in Ellendestraat.1

Nee, duisendmaal nie. Die gode is magteloos. By die doodstyding van ’n geliefde kan ons ons hart leeg huil. Soos Maria buite Jesus se leë graf. Ons mag maar twyfel soos Maria Magdalena, Petrus en Johannes. Jesus is weg.

Ons mag in die tyd van Corona huil en twyfel. Dit voel of al die deure gesluit is. Ons is ingegrendel. Maar ons mag ook daarmee ophou. Want Corona dra nie die kroon nie. Maar God wel. Jesus het opgestaan. Hy het die dood oorwin. Hy is die waarborg dat ons geliefdes onder wie Corona maai, eendag in heerlikheid sal opstaan en vir ewig sal leef. Intussen het Jesus aan ons die Trooster (Joh 14:26) nagelaat. Hy droog ons trane af, neem ons twyfel weg. Hy maak die deure vir ons oop. Hy verseker ons dat Jesus leef. Die Trooster verseker ons: Geen dood of lewe of engele of bose magte kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Nie Corona nie, maar God dra die kroon.

1 Die gedig kom uit Cas Vos se bundel, Beskut teen vrese, wat binnekort by Naledi verskyn.

  • Prof Cas Vos is emeritus-dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top