Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die model Katryn Kruger is by haar gewilde vrouekuiers, “Koffie met Katryn”, besig om haar lewensverhaal met haar gaste te deel. Kruger wil met dié platform ook haar gaste bemagtig en inspireer om die waardigheid van hulle eie stories te ontdek. Foto’s: Jean Rossouw

‘Ek moes reis met my eie verhaal’

Sy het as tiener reeds haar skoolskoene vir hoëhakskoene verruil om vir bekende handelsname soos Givenchy, Prada, Calvin Klein en Dior modelwerk te doen. In Parys, New York, Londen en Milaan …

Nou, op 25, gebruik Katryn Kruger, van Welgemoed in Kaapstad, haar lewensverhaal om ander vroue te bemagtig en te inspireer. Sy skram weg van die tradisionele motiverings­praatjie-model waar een persoon van ’n verhoog af hulle storie ten aanskoue van ’n gehoor deel. Sy wil dit anders doen: “Dit is só belangrik vir my om die vloer altyd vir die vroue oop te maak dat ons sáám kan praat. Ek wil vroue bemagtig deur vir hulle te laat besef, nes ek moes, dat hulle verhale wáárdig is en vertel moet word omdat God die groter prentjie sien,” voeg Katryn by.

“Ek is op 15 gescout en het op 16 voltyds modelwerk begin doen. Ek moes skielik skool én die veilige ruimte van my ondersteuningsnetwerk en ‘normale’ lewe prysgee. Ek het vir ’n baie lang tyd met die Here geworstel en gestry. Ek het vir God gevra: ‘Hoekom ek?’ Dit is nie iets wat ek gaan soek het nie. Dit is nie iets waaroor ek gedroom het nie. Skielik is ek totaal en al in die diepkant gegooi en moes ek op 16 ’n grootmens word,” vertel Kruger oor haar pad.

Deesdae gebruik sy haar sosiale media-platform om vir ander vroue die geleentheid te bied om húlle stories te vertel en die waardigheid van hulle eie stem te ontdek. “Ek het begin 2019 op Instagram aangekondig dat ek 10 vroue vir koffie by my huis wil nooi. Ek het my eie lewensverhaal gedeel en toe die vroue ook die geleentheid gegee om hulle stories te deel. Ná die oggend het ek emosioneel op die bank gesit. Skie­lik het mý storie begin sin maak. Ek het meteens besef dat ek my eie storie moes leef om hierdie platform vir vroue te kan bied. By ‘Koffie met Katryn’ het hier al 14-jarige en 77-jarige vroue as vreemdelinge ingestap en as vriendinne uitgestap!” vertel Kruger onlangs opgewonde aan LiG via ’n Zoom-onderhoud.

Sy moes met haar eie lewensverhaal “journey” en vrede maak. “Deur ‘Koffie met Katryn’ het God vir my die waarde van my eie verhaal opnuut laat besef.”

  • Dié artikel het oorspronklik op LiG, Kerkbode se susterpublikasie, se web­werf verskyn.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top