Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Die aankondiging deur die kantoor van die Algemene Sinode dat leraars nou amptelik selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk kan voltrek, het behoorlik die knuppel in die hoenderhok gegooi.
Volgens die kantoor se nuutste verklaring is ander se gebrekkige kennis, onsekerhede en uitlatings in die sosiale media die eintlike probleem. Daar word geïnsinueer dat die kerklike weg en die beskikbare kanale nie gevolg word nie. Verkeerde optrede kan egter nie reggepraat of weggeswyg word nie.
In die besluite van die laaste algemene sinode kan géén aanwysing gevind word dat die kantoor die opdrag gekry het om namens die NG Kerk as enkele denominasie by Binnelandse Sake aansoek te doen nie. Hier is onder druk van buite geswig. By die laaste paar algemene sinodes het sekere voorgangers, afgevaardigdes en omstanders nogal daarin uitgeblink om die kerklike reëls te verontagsaam of te buig om die eie agenda te pas. Volgens die algemene sinode se eie ordereëls is sulke wanorde nie toelaatbaar nie. Daar staan immers geskryf: “Indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem wat opgevolg of in die praktyk uitgevoer moet word, werk die Algemene Sinode deur die samestellende sinodes.” Werk die NG Kerk nou vanuit ’n hoofkantoor en is die sinodes maar net takke en die gemeentes agentskappe van hierdie een organisasie? Het die NG Kerk nou ’n oorhoofse direksie met ’n uitvoerende direkteur?
Dit is goed dat die kantoor daarop wys dat die Huwelikswet en die Wet op Burgerlike Verbintenisse naas mekaar gelees en toegepas moet word. Maar dan moet dit tog reg gedoen word. Want al is daar twee wette, is daar net een staatsdepartement waaronder die uitvoering van beide wette val.
Die algemene sinode is ’n samestelling van kerke met elk ’n afsonderlike regspersoonlikheid. By kerkvereniging in 1962 het óf die kerke self óf die sinodes van hierdie kerke in opdrag van daardie kerke tot die algemene sinode toegetree. Geen nuwe kerk het tot stand gekom nie. Nie een van die kerke of sinodes het opgehou bestaan nie. Daar is selfs vooraf ’n spesiale klousule 7 in die Huwelikswet van 1961 opgeneem om uitdrukking te gee aan die feit dat daar meer as een kerk is wat die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk dra en dat huweliksbevestigers vir hierdie kerke saam aangestel word. Later is die ander lidkerke van die Familie van NG Kerke by aanstellings bygevoeg.
Die aanwysing van die NG Kerk as enkele denominasie om huwelike te bevestig is ’n komplekse aangeleentheid. Die NG Kerk is histories, kerkregtelik en juridies die samestelling van ’n aantal kerke of denominasies en die NG Kerk in algemene sinodale verband kan en mag nie die NG Kerk sonder meer as enkele denominasie by die owerheid aanbied nie.
Die ooreenkoms tussen die kerke by kerkvereniging in 1962 was dat in die meerdere vergadering alleen die sake behandel word wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur die mindere vergaderinge, of wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie. Dit is in Artikel 22 van die Kerkorde vervat. Die aansoek om aanstelling as huweliksbevestiger, wat kerkordelik met die ordening as leraar in ’n gemeente saamhang, het by kerkvereniging ’n werksaamheid van die samestellende kerke en sinodes gebly en is op geen wyse en op geen stadium aan die algemene sinode oorgedra nie. So sal dit met enige aanverwante saak ook die geval wees. Géén sinode, ook nie Wes-Kaapland nie, het die Algemene Sinode gevra om namens al die samestellende sinodes goed te keur dat die kantoor by die minister aansoek doen vir die NG Kerk om aangewys te word as denominasie wat burgerlike verbintenisse bevestig nie. Indien die aanstelling van leraars om burgerlike verbintenisse te bevestig slegs kan geskied na aanwysing van die NG Kerk as denominasie, kan die besluit van die algemene sinode nie langs hierdie weg uitgevoer word nie. Dan moet daar na ’n ander manier gesoek word om dit te laat gebeur. Die NG Kerk het nie besluit om as kerk of denominasie die bevestiging van burgerlike verbintenisse in die algemeen goed te keur nie. Daar is slegs erken dat daar kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig nie, maar dat daar ook kerkrade en predikante is wat wel bereid is om dit te doen. Om ruimte te skep vir laasgenoemde kan tog nie behels dat die NG Kerk nou as denominasie daarvoor aangewys moet word nie. Anders moet daar by die minister vir diegene wat nie hulle weg daartoe oopsien nie, terselfdertyd gevra word dat die NG Kerk nie as denominasie aangewys word om burgerlike verbintenisse te bevestig nie.
Tans kan nóg die kantoor van die Algemene Sinode nóg die sinodale kantore ingevolge die besluite van Algemene Sinode 2019 namens leraars en kerkrade by die minister aansoek doen om aanstelling as bevestigers van burgerlike verbintenisse. Dit is ’n saak wat leraars met hulle eie kerkrade moet opneem en self met die Departement van Binnelandse Sake moet reël. Die optrede van die kantoor is buite orde en nietig. Die minister moet deur die kantoor daarvan in kennis gestel word sonder om ’n enkele aansoek deur te stuur.
- Dr Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
