‘Ons sal ook hierdeur kom’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek skryf uit die land met die oudste woestyn ter wereld. ’n Bekende skrywer van Namibië het van hier­die land gesê: “It is a harsh and arid land, but a land to be truly loved.” Ons is baie lief vir hierdie harde, maar heerlike land. Hoekom, wonder jy? Die woestyn met pragtige sonsopkomste en -ondergange, die uitgestrekte savannas, skil­der­agtige tonele en skril kontraste laat jou God van naby ervaar.

Om ware kerk te wees, beteken om hier en nou te wees. Ons is kerk in hierdie harde, maar lekker land. Ons kom uit die ergste droogte sover aangeteken, is ook nou in die greep van ’n pandemie, en gevolglik midde-in ’n bedenklike ekonomie. Hierin probeer ons om, met die Here se genade, na die beste van ons vermoëns kerk te wees.

Hoe reageer die kerk op hierdie omstandighede? ’n Gesegde lui: “We shape the buildings and then the buildings shape us.” God het hierdie land geskep en gevorm met sy hand en deur sy mense. Nou is die mense van hierdie land die produk van hierdie ongenaakbare omgewing. Hulle is geslyp en gevorm om gasvry en gehard te wees.

Dit is net verstommend om te sien met watter positiwiteit lidmate hierdeur gaan. Jy loop byna nooit iemand raak wat kla of mismoedig is nie. Inteendeel. Daar is gewoonlik ’n glimlag op die gesig, en “ons sal ook hierdeur kom”. Mense wat planne kan maak en kan aanpas.

Wat doen ons om hierdeur te kom? Gemeentes pas hulle begrotings aan en bedien lidmate deur al die verskillende media wat tot hulle beskikking is. In die boerderygemeenskappe reik mense uit met weiding en voer, help met skoolgeld en daar is soveel ander pragtige verhale. Gemeentelike insamelings word op baie kreatiewe maniere gedoen. Gemeentes en ringe reik uit na punte waar die be­die­ning gebrekkig is, of nie meer volhoubaar is nie.

Wat die sinodale aktiwiteite betref is daar baie afgeskaal aan uitgawes, en selfs poste. Noodsaaklike dienste word uitgekontrakteer. Al die strategieë wat in die “oop tyd” beplan is in opdrag van die sinode, word nou geïmplimenteer binne die mandaat wat besikbaar is, sonder dat die sinode kan vergader. Alles is daarop gemik om gemeentes beter by te staan, onderlinge verbande te versterk, ’n kerk van Namibië vir Namibië te wees, plaaslike opleiding te ontwikkel, gawes te betrek, en leierskap te ontwikkel in gemeentes.

Ons sinodale gebied het sy unieke karakter, en die groter soepelheid van die Algemene Sinode om dit toe te laat word verwelkom. Tog is ons verbondenheid met die breër kerklike verband vir ons kosbaar, en streef ons daarna om in soverre ons dit kan bekostig verteenwoordigers by algemene sinodale werksaamhede te hê. Ons hoop om daarmee ons beskeie bydraes te maak, maar ons sien dit veral as verrykende blootstelling vir ons kollegas.

Oor die algemeen geniet ons vrede en baie goeie verhoudinge tussen al die etniese groepe. Ons leef en werk in ’n vriendelike, oop en ontvanklike ge­meen­skap. Ten spyte van al die uitda­gings is Namibië ’n baie Christelike land, met mense wat hulle hoop op God gevestig hou, en vir wie die kerk baie belangrik is.

Dr André Olivier is moderator van die NG Kerk in Namibië.