God se insluitende liefde vat die bediening van Jesus saam

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is nie altyd maklik om gestalte aan die kerk te gee te midde van ’n diverse wêreld nie. Dit vra van gelowiges om verskillende teologiese aksente en uiteenlopende sosiale identiteite met mekaar te versoen. So moes die insluiting van heidene (Hand 10:34-35) met die na­streef van heiligheid (1 Pet 1:14-16) deur die vroeë kerk gebalanseer word. Dit was nie altyd vir hulle maklik nie, soos blyk uit die berig dat Petrus in Antiogië deur Paulus tereggewys is toe hy geweier het om saam met heidene te eet (Gal 2:11-21).

Die kerk het egter telkens in navol­ging van Jesus gehandel. So is die erkenning van God se insluitende liefde in Handelinge 10:36-43 begrond in ’n samevatting van die bediening van Jesus. Wat die aanvaarding van onderlinge verskille betref doen Paulus in Romeine 14:1-23 ’n beroep op die Christene in Rome om hulle verskille te aanvaar ten opsigte van dieetbeperkings en feestye deur te verwys na die dood van Jesus. Wanneer die vroeë kerk dus gekonfronteer is met uiters uitdagende vrae oor hoe hulle gemeenskappe ingerig moes word het hulle nie op die verskille of partye gefokus nie. Hulle het eerder op Jesus gefokus.

In die hantering van uiteenlopende aksente en diepgaande sosiale verskille, wat dikwels ’n kettingreaksie van kon­flik in gemeenskappe ontlok, het die woorde en dade van Jesus soos diatomiet gefunksioneer. Diatomiet is die sagte, kalkagtige sedimentêre gesteente wat Albert Nobel by nitrogliserien gevoeg het om dit as dinamiet te stabiliseer.

Terwyl ’n fokus op Jesus nie tot maklike antwoorde aanleiding gegee het nie, het dit die dinamika van die gesprek ver­ander van ’n debat waarin die een die ander wou oortuig om soos hulle te dink en te handel, na ’n gesamentlike soeke om soos Christus te word. Nog man nog vrou, nog Griek of Jood was die norm waarby ander moes inval. Christus was. So is dit in Efesiërs 5:21 – 6:9 die ontsag vir Christus wat die wederkerige onderdanigheid onderliggend aan huishoudelike verhoudings bepaal.

Waar dit dikwels moeilik is om geskille tussen twee pole te besleg het ’n fokus op Jesus nuwe moontlikhede vir eenheid geskep. Die kerk moet daarom haar nadenke oor die hantering van die verskille, wat dikwels tot verdeeldheid lei as die fokus is op wie watter standpunt huldig, eerder begrond in ’n diepgaande refleksie oor wat dit beteken om onderdanig aan Christus te wees.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.