Kerk groet gerespekteerde ds Kobus Potgieter

Met die afsterwe van ds Kobus Potgieter (99) op 18 Augustus 2020, verloor die NG Kerk nie net sy oudste leraar nie, maar groet ons ’n geslag predikante wat met ’n eiesoortige vroomheid en outentieke bedieningstyl die Here se kerk op voetsoolvlak gedien het. Jacobus Ernst Potgieter is op 21 Mei 1921 gebore in Benoni, standplaas van sy vader ds ST Potgieter, toe spoorwegleraar van die NG Kerk in Transvaal. Kobus se oupa was Koos Potgieter, ’n boer by Calitzdorp en Buffeljagsrivier naby Swellendam. Drie van sy vier seuns boer, terwyl ST Potgieter predikant word en ’n leeftyd lank leraar is van die NG Gemeente Delareyville.

Ds ST en Johanna Potgieter is kerklike baanbrekers in die streek en hulle het sewe seuns. Kobus Potgieter volg in die voetspore van sy vader en word predikant van die NG Kerk. Hy is net soos sy vader ’n goeie prediker, ’n ware evangelis, ’n nederige en ’n minsame mens, wat vreugde gevind het om mense by Jesus te bring.

Die jong Kobus begin sy skoolopleiding in 1927 aan Laerskool Delareyville en matrikuleer in 1939 op Heidelberg (Tvl). Hy voel geroepe om soos sy vader predikant te word en studeer van 1940 tot 1945 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA- en BD-grade verwerf. Hy is ’n inwoner van Sonop-koshuis en is in 1945 lid van Tukkies se studenteraad.

Na sy legitimasie aan die einde van 1946, bedien hy tot met sy aftrede die volgende gemeentes: Dalunie naby Brits, studenteleraar in Pretoria-Oos en Universiteitsoord, ook Suidoos-Pretoria en Krokodilrivier (Brits) tot in 1988 met sy emeritaat. Hy trou in 1952 met Mercia van der Merwe en twee kinders, ST en Marthinet word gebore.

As lojale kerkman dien hy die NG Kerk op wye sinodale akkers, ook as moderator van die Algemene Sinode (1982-1986). Na die aanvaarding van “Kerk en samelewing”, volg ’n stroomversnelling in die NG Kerk, waarmee ds Kobus Potgieter in sy fynbesnaarde gemoed by tye worstel. Maar nooit kon iemand twyfel aan ds Kobus se integriteit en eerlike lojaliteit aan die NG Kerk nie. Ons eer hom as fort van vrede in kerklike storms.

Ds Kobus Potgieter was lief vir mense; sy opregte belangstelling en warm menslikheid maak van hom ’n ware pastor. Dit word gevoed met omgee diep uit sy hart. Hy kon spontaan ’n geselsie aanknoop, mense se diepste pyn en hartseer aanraak en help op pad na genesing. Hy was altyd hoflik en sy deernisvolle kyk het die storie vertel van iemand wat op ’n nederige en innige manier verhoudings bou.

Iets van sy liefde vir die kerk van die Here bly aansteeklik. Met sy dood word die NG Kerk se aflosstokkie aangegee na sy seun dr ST Potgieter, skoonseun prof Nelus Niemandt, kleinseun ds Andries Dewald Niemandt met sy vrou ds Doret (Müller) Niemandt, ook aan ds Marco Koch, eggenoot van sy kleindogter Doret (Niemandt) Koch.

Oom Kobus, geniet die hemelstad waarna jy so reikhalsend uitgesien het. Die Here het jou gebede verhoor.