Verlies – tyd om te rou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Verlies is ’n woord wat sinoniem geraak het met die Covid-19-inperkingstyd. Baie mense het hulle geliefdes aan die dood afgestaan of self die virus onder lede gehad. Min men­se besef egter dat die langdurige inperking en ekonomiese gevolge daarvan ook by baie mense ’n tipe “post-traumatiese stres” veroorsaak het. Volgens ds Theunis Botha, PSD vir predikanteversorging in Sinode Wes-Kaapland, word daar tans in die terapeutiese wêreld verwys na “aanpassingsversteuring” of na die “PCSD” of “Post-Covid Stress Disorder”.

Botha verduidelik dat dit die rede is waarom Communitas in die maand van Augustus drie webinare gehou het oor die tema van verlies en rou. “Verlies verwys nie net na fisiese verlies soos werkloosheid, siekte of verlies aan inkomste nie. Mense het ook in hierdie tyd emosionele verlies ervaar soos die verlies aan vryheid, geleenthede, konneksie, fisiese aanraking, roetine en toekomssekerheid.”

Een van die sprekers by die webinare, ds Jalize Uys (predikant en menslike hulpbronbestuurder in Kaapstad), het na Elizabeth Kübler-Ross se bekende vyf fases van rou verwys as ’n handige model om te verstaan hoekom mense tans byvoorbeeld meer angstig, geïrriteerd of terneergedruk voel. “Die woede en polarisasie wat ’n mens veral in sosiale media sien, is ook ’n tipiese emosionele reaksie op trauma. Langdurige stres en ontwrigting kan lei tot uitbranding,” het Uys gewaarsku.

Nog ’n spreker, maatskaplike werker Elmari Hoffman-van Rooyen van Brackenfell, het genoem dat die ont­wrigting van Covid-19 vir kinders en tieners met vorige onverwerkte bele­wenisse, trauma opnuut kan laat herleef. “Skielik is ’n kind weer van voor af emosioneel oor ’n onverwante saak, soos ’n egskeiding van sy/haar ouers. Trauma op trauma veroorsaak dat sekere kinders hierdie Covid-tydperk meer intens beleef – hulle is dalk byvoorbeeld meer angstig of hulle sukkel om te konsentreer,” verduidelik sy.

Nog ’n spreker, Lianca Fourie (spel­terapeut van George), het verduidelik hoe kinders se ontwikkelingsfases en temperamente ’n invloed het op hoe hulle reageer op die ontwrigting van Covid-19 en watter tipe ondersteuning hulle benodig om daardeur te kom. “’n Tiener se selfbeeld kan aangetas word as hy/sy vir lank nie goeie kontak met sy/haar vriende het nie, juis omdat hulle in ’n ontwikkelingsfase is waar hulle iden­titeit gevorm word,” vertel Fourie.

Rudolph van Schoor, lewensafrigter en berader van die Stellenberg Ondersteuningsentrum, het by die laaste van dié drie webinare verduidelik dat gemeentes nou die geleentheid moet aangryp om mense se emosies te ontlont en te begelei, deur veilige ruimtes te skep waar mense hulle stories van die afgelope paar maande kan deel. Gemeentes kan dit byvoorbeeld tydens eredienste doen deur die diens spesifiek daarvoor in te rig.

Prof Cas Wepener, dosent in Praktiese Teologie by die Universiteit Stellenbosch, sien ook die erediens as ’n geleentheid waar trauma en verlies gedeel en verwerk kan word. Hy verduidelik: “Klag was nog altyd deel van ’n gelowige se opregte geloofservaring en dit moet in hierdie tyd herontdek word as ’n belangrike element van die liturgie. Dit is ook nou ’n goeie tyd vir die kerk om sekere liturgiese handelinge, soos doop, nagmaal en gebed teologies te herbedink sodat dit ook sin maak in ’n aanlynwêreld.”

Wenke uit webinare

Hier is ’n paar praktiese wenke om verlies te hanteer, opgestel vanuit die verlies-webinare wat plaasgevind het:

1. Gee vir mekaar ruimte om verskillende gevoelens te ervaar
Mense ervaar ’n hele reeks emosies wanneer hulle trauma of verlies verwerk soos skok, ontkenning, irritasie, ongeloof, hartseer, woede, of selfs aggressie. Sommiges sal daaroor wil praat, ander sal dalk onttrek. Elkeen se emosies is egter geldig en eg. Maak ruimte vir mekaar en luister na mekaar se ervarings. Verwys mense wat ekstra ondersteuning nodig het na kundiges soos ’n dokter, sielkundige of predikant.

2. Hou vas aan God se teenwoordigheid
God verstaan hoe ons voel, ook as ons in hierdie tyd sy liefde of trou betwyfel of selfs wonder of ons nog glo. In die Bybel sien ons voorbeelde van twyfel en klag in krisistye. Gemeentes kan ’n veilige ruimte bied vir eerlike vrae en worstelinge met God. Ons kan vashou aan die belofte dat God vir ons krag, wysheid en troos gee. Hy gee ook vir ons mense om ons hand te neem en saam met ons te stap deur die donkerste tye.

3. Wees in hierdie tyd daar vir mekaar
Verlies en trauma kom in verskillende vorms – dit is soms ’n skielike skok soos ’n ongeluk, skielike siekte of dood en soms is dit ’n uitgerekte ervaring van ontwrigting soos die Covid-19-tyd, egskeiding of droogte. Dit raak nie net dié wat direk verlies gely het nie, maar ook ’n uitgebreide gemeenskap. In tye van verlies of swaarkry kan ’n gemeenskap mekaar dra en mekaar help om daardeur te kom. Dit is die tyd vir gelowiges om God se liefde vir mekaar en ander te bewys deur na mekaar te luister, geduldig te wees met mekaar en praktiese, diensbare dinge vir mekaar te doen.

Wenke vir tye van trauma

  1. Gee mekaar ruimte om verskillende emosies te verwerk.
  2. Ondersteun mekaar en wees geduldig met mekaar.
  3. Wees eerlik met kinders (maar deel inligting ouderdomsgepas).
  4. Gee vir almal (veral kinders) geleentheid om vrae te vra, al is daar nie altyd antwoorde nie.
  5. Vermy clichés en soetsappige verduidelikings.
  6. Onthou dat almal nie maklik emosies kan verwoord nie, maar ander maniere gebruik om emosies te ontlont soos oefening, musiek of om te teken.
  7. Skep intensioneel geleenthede vir samesyn om só God se nabyheid te beleef.
  8. Bid eerlik, deel jou emosies met die Here en bid vir mekaar – God weet hoe jy voel.
  9. Doen iets simbolies saam soos om ’n boom te plant of ’n kers aan te steek.
  10. Koördineer praktiese ondersteuning sodat dit langer kan aanhou en sinvol kan help.

Ds Anriëtte de Ridder is PSD Jeug- en Familiebegeleiding in Sinode Wes-Kaapland.