Korrupsie: Kerk kan nie langer swyg, meen moderator

“Daar is nou geleenthede vir die kerk om leiding te neem en op te staan en te sê: ‘Ons is moeg vir integriteitsloosheid. Ons is moeg vir korrupsie.’”

Só het ds Nelis Janse van Rensburg in ’n onderhoud met Lizelle de Bruin op Sondag 6 September tydens die Sondagjoernaalprogram op RSG gesê.

LEES OOK: Die NG Kerk spreek haar uit oor korrupsie

Die burgerlike samelewing moenie net van ’n afstand af skree nie, het die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk gesê.

De Bruin het met Janse van Rensburg oor die NG Kerk se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) gesels. Die SARK het ’n lang geskiedenis van protes teen magsmisbruik, het Janse van Rensburg verduidelik. “In 2017 met die staatskapingveldtog het die SARK ’n baie sterk rol gespreel. Die SARK se verklaring het ’n geweldige impak op die situasie met die staatskaping gehad en die SARK is nou weer daar. Kerkleiers voel dat dit nou weer tyd is vir aksie. Op 29 Julie vanjaar het die SARK ’n baie sterk bewoorde verkla­ring uitgereik en gesê dat dit nie langer so kan aangaan nie en ’n be­roep op president Cyril Ramaphosa gedoen om aksie te neem,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy het vertel dat die SARK op 24 Augustus verder leiding geneem het en saam met nie-regeringsorganisasies soos die Ahmed Kathrada-stig­ting, Desmond en Leah Tutu-er­fe­nis­stig­ting, Nelson Man­dela-stigting ’n aantal ANC-leiers gaan sien het en ty­dens die gesprek baie druk op die party geplaas het om tot aksie oor te gaan.

“Die kerk in ons land moet sterk leiding neem deur op te staan en die kwessie van integriteit op elke agenda te plaas.