Student sterf met droom net om die draai

’n Onselfsugtige omgee-mens, iemand wat altyd reggestaan het om sy gemeenskap te dien. ’n Man van God.

Só sal sersant Ghirshwin Reagan Muller onthou word. Die polisieman wat ’n dominee wou word.

Huldeblyke het onlangs ingestroom vir die 39-jarige wat in Augustus in Paarl Medi-Clinic oorlede is. Hy is einde Julie in die hospitaal opgeneem waar hy dapper teen Covid-19 geveg het.

Muller, die pa van vier minderjarige kinders, is oorspronklik van Porterville, maar woon die laaste aantal jare in Piketberg saam met sy vrou Maritza. Hy het op Voorberg grootgeword en aan Roodezandt Sekondêr in Saron gema­trikuleer. Hy het by die polisie aan­ge­sluit omdat hy sy gemeenskap wou dien, maar sy eintlike droom was om ’n do­mi­nee te word.

Muller het in 2015 met sy studies in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch begin. In sy vrye tyd het hy gewerk om sy studies te befonds en om ’n geldjie aan sy gesin te stuur. Hy het enige werk gedoen wat hy kon kry. Hy het ondere andere as veiligheidswag gewerk en ook by die nagskuiling op Stellenbosch. Maritza vertel hoe hy dwarsdeur die nag sou werk om geld te verdien en dan bedags sou klas loop – vasbeslote om sy droom te bewaarheid. Hy het later ook weer by die polisie aangesluit.

Ghirshwin en sy vrou Maritza.

In Desember 2018 het Muller ’n BTh-graad behaal en hy was besig met ’n nagraadse diploma in Teologie terwyl hy vier skofte per week as polisiebeampte op Piketberg gewerk het.

Op daardie punt was sy plan om ’n leraar in die VGK te word “binne bereik, ondanks jare se akademiese en finansiële uitdagings en vele opofferings deur sy familie,” luidens ’n verklaring deur Universiteit Stellenbosch se Fa­kul­teit Teologie.

Ray van Rooy, raadsheer van die Berg­rivier-munisipaliteit, en jarelange vriend van Muller, sê Muller se dood is ’n groot skok vir die gemeenskap waar hy op talle plekke betrokke was. “By gemeenskapsgeleenthede was hy seremoniemeester, of by ons Kersete vir senior burgers en ook vir kinders, was hy selfs ons Kersvader. Hy was ook betrokke by ’n skoolskoene-projek, waar hy besig­hede genader het vir donasies, en dan skoolskoene aan kinders van die plaaslike skole geskenk het,” vertel Van Rooy.

Generaal-majoor Jeremy Vearey, hoof van die speurders in die Wes-Kaap, het Muller ’n ware dienskneg van die mense genoem. “Hamba kahle, Ghirshwin Reagan Muller, ’n waardige vegter in blou wat elke dag pligsgetrou teen die dood van die lig geveg het,” het Vearey op Facebook geskryf.

Ghirshwin en Maritza het mekaar destyds ontmoet toe Maritza as ’n student-konstabel by Piketberg se polisie­stasie aangesluit het. “Ghirshwin was werk­lik ’n besonderse man. Hy het ’n inspirerende en merkwaardige lewe gelei,” vertel Maritsa.

“Ek het deur ’n rowwe tyd gegaan en hy is die enigste een wat iets opgetel het. Dis waar ons vriendskap begin het. Ons het saam Bybelstudie gedoen en op ons knieë gegaan en saam gebid. Hy het my in my geloof laat groei.

“Hy wou sien hoe mense hulle potensiaal bereik. Hy is gereeld gevra om mense aan te moedig en te motiveer. Dít is wat vir my uitstaan. Een van sy goeie vriende op die dorp, André Somers, het hom eendag gevra om sy krieketspan moed in te praat omdat hulle in wed­stryde gesukkel het. André sê toe: ‘Meneer jy sal moet kom praat, my krieketspan verloor wedstryd na wedstryd, daar is fout, jy sal moet kom motiveer.’ Ghirshwin vra hulle toe om hom by die begraafplaas te ontmoet. André was maar skepties, want wat soek hulle nou hier?

“Daar gekom vra Ghirshwin toe die span wat hulle op die grafstene sien. Almal antwoord maar die naam en van van die oorledene, die datum wat hy gebore is en gesterf het, en dalk ’n kort boodskappie. ‘Dis reg,’ het Ghirshwin gesê, ‘en wat is die belangrikste gedeelte wat uitstaan op daai steen? Al wat be­langrik is op daai steen, is daai klein dash, daai klein strepie tussen die geboortedatum en sterftedatum, want dít verteenwoordig jou lewe. Dit is die kleinste merkie op die grafsteen, maar dit dra die meeste gewig. Wat jy doen van die dag wat jy gebore is tot die dag wat jy sterf is wat sáák maak. Al kry daai strepie nie baie erkenning op ’n graf­steen nie, dis al wat tel.”

En dit was Ghirshwin, iemand wat sy lewe voluit en met betekenis geleef het.

“Daar het een nag ’n mamma met ’n dogtertjie by ons deur kom klop,” vertel Maritza bewoë. “Sy wou net ’n brood gehad het. Hulle was honger, dit was winter en koud. Die volgende oggend toe ek by die huis kom na ek nagskof gewerk het, het Ghirshwin vir my gesê: ‘My vrou, ek wil vir jou iets vertel, maar jy moet nou nie kwaad wees nie.’ En hy vertel van die dame en hoe hy vir haar sê: ‘My suster kom in, vanaand seën ek jou.’ Hy het toe vir haar ’n pak suiker, melk, pap, rys, pasta en dies meer gegee. Ons spens was leeg en ek moes die koskas weer aanvul,” lag sy.

“Dís Ghirshwin, hy het nooit ge­skroom om te help nie. Hy het geglo wat jy vir ander doen kom dubbel terug na jouself. Môre sorg vir homself.”

3 thoughts on “Student sterf met droom net om die draai

  1. Ds Danie Grove says:

    More Maritza, Mag jou pad van droefheid by die pad van berusting en vrede iutkom om te weet ons Hemelse Vader is altyd in beheer ook in die lewe en voorsienigheid wat Hy vir jou en jou jou kinders beplan soos Hy beloof in Jeremia 29.
    Sy lewensgeskiedenis korrespondeer bykans amper dieselfde met my en my vrou Hanna en ons 5 kinders toe ek ook op 40 jarige ouderdom beroep is na die NG Kerk in Afrika op Al;wxandria in die Oos Kaap waar ek 9 jaar predikant vir die Xhosa gemeente was. en nou emiritus leraar van die NG Kerk is ek het vrede gevind en daarmee leef ek saam tot Hy my ook eendag kom haal soos Hy jou man kom haal het. Sterkte wn senwense jou toegebid. Groetnis

  2. Elize de Villiers says:

    Wat ‘n wondelike mens wat in sy kort lewe so baie vir ander gedoen het. ‘n Omgee mens en ander se behoeftes bo sy eie gestel het. Innige simpatie aan sy familie!

  3. Madelyn Ende says:

    Liefste Maritza, ek onthou jou as n klein dogtertjie wat by ons huis was en altyd lekker gespeel het.
    Jy het liefde so Girshwin verdien want jy was altyd spesiaal. Ek is so jammer om te hoor van jou verlies.

    Ek dra jou en jou kinders op ingebed want ek weet Girshwin is altyd met julle!!
    Liefde
    Madelyn Swanepoel

Comments are closed.