Die meeste gemeentes het aanlyn voortgegaan met een of ander vorm van tienerbediening in grendeltyd, volgens die informele navorsing wat gedoen is deur DinkJeug (’n inisiatief van die Taakspan Jeug- en Familiebediening van Wes-Kaapland). Ses-en-sewentig gemeentes uit verskillende kontekste het aan die steekproef deelgeneem en van hierdie gemeentes het slegs 14% geen vorm van tienerbediening tydens grendeltyd gedoen nie. Naas predikante en kategete, het gemeentes veral staatgemaak op ouers (46%) om verantwoordelikheid te neem vir tienerbediening.
Gemeentes het verskeie platforms ingespan
Van die gemeentes in die steekproef het 67% ervaar dat WhatsApp die heel geskikte platform vir aanlyntienerbediening is. Hulle span WA-groepe, WA-video-oproepe en direkte WA-boodskappe in om met tieners te kommunikeer. YouTube is die gewildste manier om preke of boodskappe mee uit te saai, Instagram is die gewildste platform vir “posting” en Zoom die gewildste platform, naas WhatsApp, om aanlyn in groepe te ontmoet. Tieners wat nie toegang tot data het nie, word bereik deur boodskappe aan hulle ouers te stuur via WhatsApp of e-posse, maar 40% van die gemeentes het erken dat hulle minder effektief met hierdie tieners kommunikeer of nie weet hoe om hulle te bereik nie.
Ontwrigting en ’n geleentheid
In die DinkJeug-webinaar oor tegnologie en jeugbediening gehou op 13 Mei 2020 het een van die sprekers, Christo Venter van kerksondermure in Centurion, aangedui dat aanlynbediening ’n geval van probeer, aanpas, en weer probeer is. “Wat aan die begin (van grendeltyd) gewerk het, werk later nie meer nie, en ons moet maar gedurig ons aanlynstrategie vir jeugbediening aanpas,” het hy verduidelik. Hy het verder verduidelik dat dit belangrik is om te beweeg van content na connection. Dit beteken dat ’n mens nie net bloot inhoud moet deurgee nie, maar veral moet nadink oor hoe om tieners se interaksie met leiers en mekaar te verhoog.
LEES OOK: Tieners kan in spervuur beland tydens Covid-19
Nog ’n spreker, Adriaan Adams van New Norm Thinking, het verwys na die gathered church wat die scattered church geword het en hoe hierdie ontwrigtende tyd nou ’n geleentheid bied om ook tieners van buite jou tradisionele gemeentegrense te bereik en in te trek. Jeugbediening kry ’n sterk missionale fokus en beweeg weg van ’n weeklikse fisiese byeenkoms na ’n weeklange digitale ontmoeting, het Adams verduidelik.
Tertius Nieuwoudt van Oase-gemeente in Klerksdorp was ook ’n spreker by dié webinaar en het hierdie raad gegee: “Fail fast, fail forward, fail often.” Hy het hiermee bedoel dat ’n mens risiko’s moet neem om aanlyn te begin bedien en dan daaruit leer. “Sit jou hande in die verf en begin skilder,” was Nieuwoudt se raad. Gebruik die verskillende platforms intensioneel, want nie almal is op alle platforms nie.
“Betrek tieners by die skep van inhoud en die kommunikasie daarvan,” was ds Theunis de Ridder van Mosaïek-gemeente in Johannesburg se raad. “Maak tyd vir een-tot-een gesprekke om verhoudings te bou en moedig mentors aan om dieselfde te doen. Gebruik ook humor, sosiale media challenges en tieners se eie video’s en plasings om ’n sin van gemeenskap te skep,” het hy bygevoeg.
Die aanlynwêreld is deel van die nuwe norm, en ons moet dit aangryp as ’n geleentheid om met tieners in hulle leefwêreld te konnekteer. Dit kan nie die plek inneem van fisies bymekaar wees nie, maar kan ons help om meer gereeld, meer gefokus en meer geïntegreerd te dink oor tienerbediening.
▶ Ds Anriëtte de Ridder is PSD Jeug- en Familiebegeleiding in Sinode Wes-Kaapland.
