Aanvaarding van sondaars sonder om sondige optredes te aanvaar

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris Smith van Westonaria skryf:

Die meeste persone betrokke met kommunikasie sal erken: Die beste manier om iemand te oortuig is nie deur statistiek of om feite te deel nie, maar eerder om jou persoonlike verhaal te deel. In ’n wêreld wat oorlaai is met kennis en inligting het daar ’n honger ontstaan vir ’n persoonlike band – die Engelse noem dit “connectedness”. Selfs al is dit met ’n vreemdeling.

Ons wil iemand anders se lewe en emosies hoor en beleef. Daarom die gewildheid van sepies en veral realiteits­programme. Logika is nie meer die groot besluitnemer nie. Emosionele ervaring en meelewing word die vormer van die samelewing.

Natuurlik moet ons onthou dat die grootste verhaal natuurlik God se pad met ons is. Die Bybel vertel sy verhaal en deel met ons sy hart en begeerte vir ons. Dit vertel van sy hart wat gebroke was oor ongeregtigheid en liefdeloosheid. Die verhaal oor sy bereidheid om die diepste lyding deur te gaan ter wille van my. Sy verhaal herskep my, vorm my en bind my aan Hom.

Die probleem met stories en verhale is dat dit dikwels net soos ’n grappie is. Die tweede of twaalfde keer lag ek nie meer nie en raak dit my ook nie meer nie. Die hartseer is dat God se verhaal ons dikwels ook nie meer raak nie – ons ken dit tog van lankal af. Die uitdaging is om opnuut die Skepperhart te hoor elke keer as ek lees. ’n Doelbewuste soeke en versugting na Hom, selfs nog voor ek begin lees. God se verhaal, anders as mense se stories, bevat egter die waarheid.

Natuurlik is daar niks mee verkeerd om emosioneel geraak te word deur ander se stories nie. Die probleem is egter dat ons dikwels belangrike besluite maak bloot op emosies. En emosies kan ver­ander. Dink maar aan daardie week waarin die mense een oomblik uitgeroep het: “Loof Hom!” en ’n paar dae later: “Kruisig Hom!” Hoeveel keer was ons nie al spyt oor emosionele besluite nie?

Die groot uitdaging kom wanneer ons as kerk oor belangrike sake moet besluit wat langtermyn-implikasies het. Die vraag is: Word ons besluite as kerk beïnvloed deur mense se verhale wat ons emosioneel raak of luister ons nog na God se verhaal, wat dalk oorbekend geraak het. Soms word ’n mens emosioneel geraak deur ’n persoon se verhaal en tog keur jy sy optrede af. Dit beteken nie dat ek die persoon as mens verwerp nie. Al het ek simpatie met hulle worsteling, beteken dit nie ek is liefdeloos nie. Dalk is ek net dieper geraak deur Iemand anders se ou bekende liefdesverhaal wat ’n groter waarheid bevat. ’n Verhaal van soeke na en aanvaarding van sondaars sonder om ooit die sondige optredes te aanvaar.

Ek lees hierdie raak: “When your story connects to God’s story, it leads to a greater story. It’s only by connecting to God’s story that your story will come alive. It’s only then that your story will become” (Sam Collier).

Luister na stories en geniet hulle, maar onthou altyd die lang verhaal van ons Skepper. Dit is die groot verhaal agter alle verhale.