Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Statistiek Suid-Afrika het op 29 September 2020 aangekondig dat 2,2 miljoen meer mense in die tweede kwartaal van 2020 nie werk gehad het nie en dat die mense wat ekonomies onaktief is, met 5,2 miljoen toegeneem het.
Wat is die doel van werk? Werk is fundamenteel tot die emosionele en finansiële welwees van ’n persoon. Dit is die grondslag waarop ons ons lewe definieer.
Werk voorsien die werker van ’n persoonlike identiteit in terme van burger van die land, as gesinslid, as bydraer tot die samelewing en ook binne die ekonomie. Werk stel die werker in staat om ’n verbruiker te wees asook erkenning en agting te geniet. Werkgebaseerde identiteit is ’n dinamiese interpreterende aktiwiteit wat help om selfidentiteit te transformeer.
Werkgebaseerde identiteit word as vorm van identifikasie gesien wat individue met hulle werk, werksplek, kollegas en werkgewer ontwikkel. Indien die persoon sy/haar werk verloor, verloor hy/sy ook die identiteit insake sy/haar rol by die werk. Individue ontwikkel op ’n bewustelike vlak in hulle werkidentiteit deur te fokus op hoe hulle hulle sosiale status en hulle individualiteit kan verbeter. Dit is dus duidelik dat binne werkgebaseerde identiteit die volgende vraag gevra word: “Hoe sien ons onsself by die werk?” Daar is ook ’n duidelike verbintenis tussen die sosiale en persoonlike werkgebaseerde identiteit.
Algemeen menslike behoeftes van werk
Francisco-La Grange (1991) wys daarop dat werk die persoon help om orde te skep en mense help om hulle tyd te beplan, te struktureer en te organiseer. Dit voorsien ook in die behoefte aan sosiale geleenthede en netwerke buite die gesin. Werk skep die belewing dat hulle van waarde vir hulle medewerkers en hulle gesin is asook ander verhoudinge waarin hulle staan.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/10/martin-s.w.jpg” caption=”Dr Martin Barnard het in 2018 ’n PhD voltooi oor verpligte aflegging en is tans predikant by NG gemeente Vishoek asook ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Werk skep ook geleenthede, hetsy nasionaal of internasionaal, om sodoende die werker se leefwêreld te verruim en dit skep ook die behoefte wat die werker het aan kontak met die werklikheid, die eise en die voorregte daaraan verbonde.
Dit gee ook aan die werker die geleentheid om leiding te neem en te ontvang, om ander te beïnvloed of ander tevrede te stel. Werk skep ’n sekere rol en status by die werker en skep die geleentheid om kennis, tegnieke en vaardighede te beoefen en te ontwikkel. As ’n werker in sy werksituasie presteer, bou dit ook die persoon se selfagting.
Daar is dus baie meer aan “werk” as bloot ’n finansiële gewin en persone wat hulle werk verloor word hiervan ontneem.
▶ Dr Martin Barnard het in 2018 ’n PhD voltooi oor verpligte aflegging en is tans predikant by NG gemeente Vishoek asook ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat.