Covid-19: ‘As gebedsversoeke met 400 persent styg …’

Die pandemie se impak sal nog lank met ons wees, berig Marietjie Warrington.


Die impak van Covid-19 gaan beslis vir baie jare nog met ons wees. Sommige kundiges vergelyk dit selfs met ’n kernontploffing waarvan die langtermyn- emosionele en geestesgesondheidsuitwerking onbekend is.

Die vooruitsig word vir lande wêreldwyd gestel en daar word bespiegel dat die pad na herstel nie ’n kitsonderneming gaan wees nie.

Dr Johan Ferreira, ’n sielkundige van Johannesburg en hoof van sielkundige en terapeutiese dienste by wholeness@mosaiek meen in die tyd van globale onsekerheid, is daar min wat mense kan gebruik om geldig te kan voorspel wat die langtermynomvang en -impak op mense se geestesgesondheid gaan wees.

“Wat ons wel reeds sien, is dat daar ’n breë en betekenisvolle impak op die meeste mense se psige is. Sommige individue het diep en ryk tot waardevolle insigte oor hulle lewe in die tyd gekom. Ander is weer diep sosiaal verwond deur die afsonderingsregulasies.”

Almal moes deelneem aan eksperiment

Sonder toestemming en onder groot druk moes alle landsburgers aan dié globale sielkundige eksperiment deelneem. Omrede daar so min data beskikbaar was oor die uitwerking van die wêreldwye pandemie op die psige van die mens, is dié vooruitskatting en hipotese nog nie getoets nie.

“Ons sal werklik moet wag en sien wat gaan gebeur. Ek dink ons gaan verras word met die mens se uitstaande aanpasbaarheid, maar dat daar gewis groot emosionele uitvalle by enkelinge sal wees, is verseker,” sê hy.

Ferreira meen in die tyd wat voorlê sal ons almal moet uitkyk vir mekaar se welstand en die moeite moet doen om te praat as jy sien iemand kry swaar.

“Dit sou naïef wees om te dink dat die uitwerking van die pandemie verby is en dat ons die impak verstaan. Dit sal ’n leerproses bly wat nog lank sal voortduur.”

Jongste syfers met Amerika op voortou

Die jongste syfers oor Covid-19 toon dat meer as 10 miljoen mense die virus onder lede het. Amerika is die land wat die ergste geraak word, met meer as 125 000 sterftes en meer as 2,5 miljoen bevestigde gevalle.

Dr Dawid Pieterse, teoloog en hoof van gebedsbediening by The Bridge Church geaffilieer met die tradisionele Baptiste Kerk gesetel in Houston in die deelstaat Texas, sê die pandemie-impak in die VSA het talle mense hier soos in meeste lande ontwortel, ontneem van ekonomiese stabiliteit en emosioneel en geestelik afgetakel. Dit het dikwels gelei tot aanrandings, botsings met die gereg, egskeidings en selfmoord.

“As leier van ons gebedsbediening by die kerk het ek gevind dat veral die verpligte grendelregulasies aansienlike struikelblokke vir gesinne geskep het. In baie gevalle het dit die weg gebaan vir gesinsgeweld, verbrokkeling van huwelike en ’n amperse ontploffing van wrywing tussen individue. Gebedsversoeke het in die periode met nagenoeg 400 persent by ons toegeneem,” sê hy.

Geestelike en emosionele impak enorm

Pieterse sê die emosionele en geestelike impak van die situasie is enorm. Dit is ’n reis wat predikante ook stap vir stap saam met hulle gemeentes en elke lidmaat onderneem. Hulle moet soveel meer probleme van die gemeente nou aanhoor – baie meer as wat ooit in ’n leeftyd sou kon verwag word.

“As jou gebedsversoeke met 400 persent styg, kan jy aanvaar dat gesinne onder baie stres verkeer. Die werklikheid skep vir predikante en pastore geestelik en emosioneel meer uitdagings op ’n amperse deurlopende grondslag,” sê hy.

“Die berading van egpare het ook nou gestyg tot vier en vyf per week waar dit voorheen tot slegs twee beperk was. Dit is emosioneel uitdagend om met soveel gebrokenheid te werk te midde van ’n pandemie waartydens lyding en dood aanmekaar op die voorgrond tree.”

Huidige tydgleuf en predikante se belewenisse

Volgens Pieterse is Covid-19 ’n onbekende tog waartydens geestelike en emosionele ondersteuning van kardinale belang is. Leraars moet verder raad en duidelikheid uit die Woord gee vir ’n situasie wat in die leeftyd nog nie ervaar is nie.

“Dit verg van ’n predikant om die Woord verder te gaan bestudeer vir nuwe insigte en om die Heilige Gees beter te kan hoor. Dit alles om praktiese raad te kan gee, mense geestelik te kan onderskraag sodat hulle kan oorleef.”

Geestelike leiers en uitdagings

Anders as voorheen kan geestelike leiers nie staatmaak op eie ervaring nie, want daar bestaan nêrens in die wêreld ’n verwysingsmodel nie. Op vele terreine word uitdagings geskep wat veral predikante loshande moet aanvaar.

“Dit is nie net ’n uitdaging om ’n boodskap vir jou gemeente te gee nie, maar ook ’n uitdaging vir jouself om van die keerpunt sin te maak. Waar ’n leraar voorheen objektief kon raad gee en ondersteun, staan hy nou self in die krisis,” meen Pieterse.

Plaaslik is bevind dat predikante ook deurgaans aan groot emosionele druk blootgestel is. Feitlik sonder uitsondering het leraars hulle eie behoeftes eenkant geskuif om ondersteuning in die uitdagende tydgleuf te bied.

Ferreira sê die pandemie met al sy uitvloeisels het veral groot druk op predikante se emosionele en geestesgesondheid geplaas.

“Sonder twyfel was hulle onder geweldige emosionele spanning gedurende die tyd. As geestelike leiers van hulle gemeenskappe sien mense na hulle op vir begrip van komplekse lewensituasies, leierskap tydens trauma en wysheid tydens tye van nuwe uitdagings,” sê hy.

Leraars self in die war

Hy meen gedurende die proses was leraars self ook besig om te probeer verstaan hoe om die gebeure te ontsyfer en verwerk. Die manier waarvolgens sommiges hulle eie behoeftes opsy kon skuif om op hoogte te bly met inligting tydens die krisis, is vir hom ’n inspirasie.

“Daar is lang ure gewerk om funksionele maniere te skep waarvolgens gemeentes bedien kon word met opbouende en realiteitsgebaseerde inligting.”

“Binne die konteks van hulle reeds diep stresvolle beroep het sommige predikante in die tyd soos bakens geskyn om lig te bring in dié chaos en duisternis. Maar hulle het ook ’n persoonlike prys betaal en gemeentes sal mooi moet omsien na dié herders.”

Dr André Bartlett, ’n predikant van die NG Kerk in Johannesburg, sê spanning rondom die langtermynuitwerking van die pandemiesituasie op gemeentes se voortbestaan, het ook tot ’n groot mate op predikante neergekom en verdere stres veroorsaak.

“Die voortbestaan van gemeentes sal eers met die verloop van tyd duidelik word en gaan ook vra vir oplossings wat oor ’n lang tyd uitgewerk sal moet word.”

“Dit is nou reeds tasbaar dat ons nie sommer net so gaan terugkeer na die situasie soos voor die pandemie nie. Die nuwe normaal gaan in baie opsigte baie anders lyk as waaraan ons in die verlede gewoond was. Dit gaan waarskynlik vir baie lank ook nie stabiliseer tot ’n nuwe gevestigde normale patroon nie.”

Die kerk se grootste uitdaging tans is om die grootskaalse toename in emosionele en geestesgesondheidsprobleme van gemeentes aan te spreek.

“Predikante is nie altyd opgewasse om dié werklikheid te hanteer nie. Hulle ervaar groot druk om ondersteuning te bied te midde van al die ander eise wat nou deur die nuwe situasie aan hulle en hulle gemeentes gestel word. Emosionele en geestesgesondheidsprobleme vra langtermynaandag en in baie gevalle intensiewe terapie,” sê Bartlett.

Hy sê predikante se emosionele en geestelike ondersteuning van lidmate is altyd van groot belang en vorm ’n belangrike deel van hulle werk.

“Dit word van nog groter belang in ’n krisistyd soos dié rondom Covid-19 met al die trauma wat dit in mense se lewe veroorsaak. Dié aspek van predikante se werk het nie net belangrik geword nie, maar is bemoeilik deur die beperkinge wat geplaas is op persoonlike kontak met mense.”