Hierdie lesse is nie net laf

Diereplesiere deur Stefaans Burden, illustrasies deur Johann P Venter
Uitgewer: Bybel-Media, 2020
Resensente: Rethie van Niekerk en Peter van Niekerk


Diereplesiere is ’n plesierige reeks kinderstories met groot, kleurvolle illustrasies. Die illustrasies is volgepak met speelse detail wat kinders lekker kan bekyk en bewonder.

Elke prettige storie dra ’n morele lessie. Tussen die pret, plesier en hoog-drama deur, leer kinders dat ons verskil, maar dat elkeen kosbaar is. Daar is diere wat leer dat hulle nie hoef te verander om liefde te kry nie; diere wat raakgesien word, mekaar leer waardeer en ander leer respekteer. ’n Rugbywed­stryd tussen die Bosveld Leeus en Kalahari Gems­bokke help die diere om te be­sef dat God almal verskillend gemaak het, met verskillende talente. Kinders kan selfs lees hoe olie-be­soe­deling pikkewyne se lewe versuur.

Manie Mol maak doef-doef musiek en leer almal die Manie-Mol-ruk-en-rol. Iewers in ’n vlei speel ’n liefdesverhaal af (en daar gee ek die einde weg!). Wanneer Miekie Meerkat met Ou Krokodil begin skoorsoek, weet jy hier kom moeilikheid.

Weggesteek tussen die pretmanewales wat jy van die diere kan verwag, is daar soms diep juwele. So leer ons byvoorbeeld dat dit goed is om baie vrae te hê, al is daar nie altyd antwoorde nie.

Ek (Rethie) is versot op kinderboeke en het ’n groot versameling, maar is natuurlik nie die teikenmark op wie hierdie boek gemik is nie. Daarom het ek my driejarige broers­kind, Peter, gevra om ook die boek te resenseer. Sy kommentaar: “Ek hou baie van Diereplesiere se boek. Ek het vir Mamma gesê sy moet weer Diereplesiere lees.” Ek skat die res van hierdie resensie is oorbodig.

Die boek kom met ’n gratis CD, wat Kerkbode nie onder oë/ore gehad het nie.

  • Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant in Port Elizabeth en Peter van Niekerk is ’n storieliefhebber van Sidvokodvo in eSwatini.