Oor God se grootsheid ook in kleinste dinge

God in die gewone – gewaarwor­dinge van dinge wat ons nie kan sien nie deur Karen Swart
Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2020


“As mense godsdiens pleeg, is hulle altyd op soek na die asemrowende. Hulle wil snak na hulle asem en iets groter as groot ervaar. Die waarheid, die sin van die lewe, die kennis van goed en kwaad moet altyd met luide tromme en trompetgeskal aangekondig word. Dit kan nie net rustig na jou toe aan rimpel, oor jou spoel en jou net saggies amper onsigbaar daarvan deel maak nie.”

So skryf Karen Swart in God in die gewone. Hiermee verwoord sy haar frustrasie met wat sy dikwels tussen gelowi­ges beleef. Soos die titel van die boek sê, gaan sy met haar skrywes op ’n reis deur die lewe, soekend na God in die gewone, alledaagse dinge. Nie in die asemrowende asemsnak-oomblikke nie, maar in die byna onsigbare ervarings van gewone mense in die gewone lewe. Sy beskryf wat sy deur haar lewenserva­ringe van God raakgesien en geleer het.

Byna enige iets kan onder haar pen ’n gelykenis word, selfs vlieënde kakker­lakke. Spesifiek haar vertellings oor haar eie ervaring van kanker is verfrissend eerlik. Die skrywer se moed om haar emosie rondom slegte ervarings eerlik te verwoord, kan moontlik vir ander wat ook deur moeilike omstandighede gaan, bemoedig om eerlik te wees oor hulle emosies.

God in die gewone pas nie maklik in ’n tradisionele genre in nie. Dalk kan dit beskryf word as memoires, hoewel dit meestal lees soos ’n blog. Ander kere lees dit weer soos ’n dagboek wat die skrywer met haar vriende en familie deel. As jy lus is vir kuier met ’n vriendin wat onopgesmuk lekker stories oor haar lewe vertel, trek God in die gewone nader.