Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gids help met pad na kansel en reis daarna

Ons toekomsverhaal deur Pieter J Visser
Uitgewer: Bybel-Media, 202


Ons wag nog dat 2020 behoorlik begin, dan trek ons al weer byna by Desember. Covid-19 ten spyt, wil ek my verstout om te raai dat dit nie die tradisionele “trou-seisoen” gaan stop nie. Dominees kan hulle gereedmaak hiervoor met Pieter Visser se baie handige, praktiese gids vir huweliksvoorbereiding.

Ons toekomsverhaal is uiters gebrui­kersvriendelik en kom selfs met tydinde­lings vir gesprekke. Die toeganklike materiaal vra die minimum voor­bereiding van die begeleier. Daar is selfs aanvullende video’s gratis beskikbaar. Bybel-Media verkoop ook gesprekskaarte, wat lekker kreatief tydens hierdie sessies gebruik kan word (hoewel dit nog etlike ander gebruike ook het en ’n uitstekende aankoop vir enige predikant is). Verder is daar ’n werkboek vir elke paartjie, waarin hulle kan notas maak en selfs die liturgie kan beplan.

Visser gebruik die metafoor van ’n reis om voornemende egpare te laat dink oor hulle verhouding en hulle toekoms saam. Vanuit die beginsels van narratiewe terapie word daar gefokus op verhoudingswaardes. Elke paartjie word gehelp om hulle verhouding se waardes te identifiseer deur na hulle lewensverhale te kyk, hulle verhouding te eksternaliseer en stories van hulle verhouding te ontgin – deurlopend met behulp van kreatiewe oefeninge. Die paartjie bly die kundiges oor hulle eie verhouding en word begelei om hulle eie stem – en die “stem” van hulle verhouding – te laat hoor. Die uniekheid van elke verhouding word erken, terwyl paartjies gehelp word om hulle sterkpunte uit te bou.

Hierdie praktiese gids kan met individuele paartjies of vir ’n groter groep gebruik word. Daar is selfs volledig uitgewerkte programme, met begroting en al! ’n Handige voorbeeld van die huweliksregister vergemaklik die administrasie. Dan is daar ook nog verskeie liturgiese idees en voorstelle, wat die prediker kan gebruik om die diens saam met die voornemende paartjie te beplan.

’n Uiters toeganklike, sinvolle hulpbron vir predikante.

  • Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant in Port Elizabeth.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top