Middernagdiens is om die draai

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Al weer Desember. Kersfees. Oujaar. Nuwejaar. Feestyd. Vrolikheid.

Hoewel, Oujaarsdag was vir my nog nooit juis ’n vrolike dag nie, van my kindertyd af al.

Pa het ook die aand vleis gebraai, ja. En Oupa en Ouma was miskien daar. En oom Kerneels het dalk ’n bietjie op die kitaar getokkel. En tant Pop het haar hoë laggie gelag. Maar hier teen tienuur se kant het almal stil geraak en hulle kerkklere gaan aantrek. Op Oujaarsdag het ons na die middernagdiens toe gegaan.

Pa, die dorp se predikant, het uiteraard die diens gelei.

Baie van die dorpsmense was op Hartenbos of Margate of iewers met vakansie, maar die middernagdiens is steeds baie goed bygewoon. Die mense wat jy deur die jaar byna nooit in ’n ­diens gesien het nie, het op Oujaarsdag­aand kerk toe gekom. Ook oom Johnny wie se bakkie knaend voor die hotel ge­staan het, was altyd daar. Oom Johnny, die wewenaar, wat glo ’n ateïs geword het nadat sy vrou jare gelede, hulle was beide toe nog jonk, aan bloeding-op-die-brein dood is.

Dit was ook die enigste diens wat die Prinsloos die hele jaar bygewoon het – die Prinsloos wat hulle honde in hulle sat, ou Ranger se wieldoppe kosgegee het.

Hier teen kwart-oor-elf se kant het Ma ons die kerk in gelei, tot by die pastoriebank heel voor. Ou tannie Berdina het dan reeds in die bank agter ons gesit, omgeef deur die reuk van Four-Seven-Eleven-parfuum.

Op die galery het Mervyn van ant Bekkie skugter voor die orrel ingeskuif. Tant Nan, ons orrelis, was met Oujaar altyd by haar kinders, en Mervyn, ’n maer seun wat boeke oor blommerangskikking uit die dorpsbiblioteek geleen het, het altyd waargeneem as orrelis, wat beteken het oom Andries het die sang gelei.

En dan het hulle ingestap, die ooms en die tannies, die boere en die myners – almal op die dorp wat nie op Hartenbos of Margate was nie. Die klein Prins­lootjies het gewoonlik hulle japonne aangehad. En oom Johnny se gestreepte das was so losserig om sy nek geknoop. Dit was asof oom Johnny die das gedra het net ter wille van ons, nie van homself nie.

Dan het Pa by die konsistoriedeur uitgekom en op die preekstoel geklim.

En as jy omgekyk het, sou jy oom Lourens Enslin op sy hurke agter in die portaal sien sit het in sy vaal jas. Hy was ’n kluisenaar wat alleen in ’n sinkhuisie naby die skouterrein gewoon het, oom Lourens. Die mense het gesê dit is van slimgeid lat hy so kênserig is.

Pa se preek was meer gedemp as gewoonlik op ’n Oujaarsdagaand, vol nabetragting en fonteine van genade. Dan, ná ’n gebed vol berou oor nog ’n jaar se sonde en verspilde geleenthede, het die gedeelte aangebreek waarvoor party gekom het: die uitlees van die name van dié wat in die loop van die jaar oorlede is. Of hoe het Pa dit nou weer gestel? “Dié wat ons in die jaar ontval het.”

Pa sou eers stil oor ons uitkyk na wie waar sit. “Frederik Lodewyk van Ton­der,” sou hy dan oom Freek, wat een og­gend skielik by die wasbak in sy badkamer aan ’n hartaanval dood is, se naam in ’n singerige stem lees. Dan sou tannie Breggie, oom Freek se weduwee, vir ’n paar oomblikke opstaan. “Sara Johanna Josina Klue … Bernardus Lambertus Nel …” terwyl oom Johnny in die agterste bank ’n traan met sy wysvinger van sy wang vee en rondkyk of iemand dit nie gesien het nie.

Op sulke aande, met die torre en besies wat bokant ons kop om die ligte teen die dak draai en draai, het dit gevoel asof die doodsengel iewers tussen ons in die kerk sit, onsigbaar, besig om ons klomp deur te kyk.

Nadat Pa die name gelees het van hulle wat ons ontval het, het hy ook die lys gelees van die baba’s in die gemeente wat in die jaar gebore en gedoop is. Dit het ’n mens darem ’n bietjie beter laat voel.

Dan het Pa vir oom Hansie, die koster, gevra om die kerk se ligte af te skakel. Totdat die klok twaalf keer slaan, was daar tyd vir ’n stilgebed en stil nadink oor die jaar wat verby is. Dan het jy daar in die donker gesit met jou sonde en jou twyfel en jou vrese: Gaan jy aanstaande jaar nog leef? Wie se name gaan Pa dán lees?

Nadat die klok twaalf keer geslaan het, het oom Hansie die klok vir ’n rukkie gelui asof hy die doodsengel wou verjaag en ons siele wou verkwik. Dan het hy die kerk se ligte weer aangeskakel en het Pa almal ’n voorspoedige nuwe jaar toegewens.

Ons het altyd afgesluit met die sing van die Onse Vader – oom Andries se basstem heel voor, dan Mervyn met die orrel, dan ons ander.

Ek weet nog nie waar ek hierdie jaar op Oujaarsaand gaan wees nie. Miskien sal ek ’n kerkdiens bywoon, saam met my geliefde. Maar waar ek ookal gaan wees, sal ek weer aan daardie aande dink: Pa op die kansel, Ma, tannie Berdina en die reuk van Four-Seven-Eleven-parfuum, oom Lourens Enslin op sy hurke in sy vaal jas, oom Johnny met sy losserige das. Sonde. Ek. Genade. Hoop.

Party dinge ontgroei jy nie.