Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verhale verklap: Jy’s ‘plekdeler’, nie net prediker

Ja, dis preke, vergaderings en uitreike. Maar daar is ook goed waarvoor teologiese opleiding jou glad nie voorberei nie. Soms is mense se stories ongemaklik en weerloos en dit is juis dáár waar dominees so gereeld ingenooi word, skryf MARILEEN STEYN en MELANIE THIRION.


Die vraag was eenvoudig: Wat doen dominees nou eintlik? Ná ’n informele rondvra-sessie kon ons vinnig bou aan ’n lys van die meer onverwagse en ongewone dinge wat kollegas en vriende al in die naam van dominee-wees moes doen.

Sommer vinnig het ons agtergekom dat dominees dikwels dáár is waar die grensoomblikke is – lewe en dood. Interessante (en soms snaakse) stories rondom begrafnisse het selfs gaan draai by ’n predikant wat moes ingryp en die lykswa self bestuur. Nog ’n predikant moes noodgedwonge by twee bevallings help.

Ook sake wat bevallings voorafgaan bring vrae. Daar is dominees wat saam na ginekoloogafsprake gegaan het en verskeie predikante vertel dat hulle plek-plek meer van hulle gemeentelede se sekslewe uitgevind het as wat hulle beplan het. Moenie vergeet van diegene wat die bytjies en blommetjies aan oud en jonk moes verduidelik nie.

Ons vraag het ander geïnspireer om van hulle flaters te vertel. Soos die do­mi­nee wat in sy derde taal mense aangemoedig het om hulle hart vir die Here te gee, net om uit te vind dat hy van bors­voeding gepraat het. Of die dominee wat ’n egpaar se huwelik in gebed ge­seën het met die woorde: “God, please bless these elephants …” Selfs in jou eer­ste taal kan dinge skeefloop, soos in die geval van die dominee wat, in plaas daar­van om vir voorbidding vir die oom te vra, vir voorbehoeding gevra het.

Daar is natuurlik talle stories wat met ons gedeel is wat nie gepubliseer kan word nie. Hierdie stories oor die lewe en dood en alles tussen-in is die nugtere herinnering dat die sogenaamde “inte­ressante stories” wat deel van die predikant se week uitmaak, nie net gesinsvermaak is nie.

Die bereidwilligheid van predikante om op hierdie Heilige Grond te staan en nie weg te skram van gebreekte lyks­waens of geboortepyne nie, gebeur omdat ons plekdelers (place-sharers) is. ’n Plekdeler, volgens teoloog Andrew Root, is iemand wat die volheid van men­se en die kompleksiteit van gebrokenheid erken; wat saam met mense daarin deel en Christus in hierdie verhoudings herken en erken. ’n Plekdeler se verhoudings met mense hang nie af van die grootte van hulle maandelikse dankoffer of hulle kerkbywoning nie. ’n Plekdeler weet dat Christus teenwoordig is in elke verhouding, hoe vreemd of verregaande die verhouding en situasie ookal voorkom!

Met die komende Kersgety vier ons immers dat Jesus Christus ons Plekdeler geword het en deur sy bediening en ly­ding nooi Hy ons om deel te wees van ander se lewe en lyding. Plekdelers ken dit al te goed. Soos die jong dominee wat deur ’n gemeentelid gevra is om saam te gaan na die polisiekantoor om haar oorlede man se sakkie besittings te gaan afhaal na ’n noodlottige motorfiets­ongeluk. Hy het saam met haar seker gemaak dat haar man se trouring en beursie nie weggeraak het nie, en saam met haar gestaar na die bebloede T-hemp waarin dit alles toegedraai was. Christus se bloedige lyding en dood, skryf Root, openbaar vir ons God wat nie eenkant toe staan nie, maar wat ook ly.

Om die plek van vreemde versoeke, hartseer en vreugde met mense te deel, skep ook geleentheid om voorsmake te gee van die toekoms waarna ons almal uitsien. Christus se opstanding gee hoop en toekomsverwagting. Deur deel te wees van mense se Heilige Grond, getuig ons van hierdie hoop en toekomsverwagting. Om die nagmaal te bedien, al het die koster vergeet om wyn in die nagmaalbeker te gooi en jy, met ’n straight face, wind moet sluk, gee vir mense ’n voorsmaak van die toekoms saam met God, ’n toekoms sonder enige gebrokenheid, isolasie of lyding.

Plekdelers help mense om tuis te kom saam met God Drie-enig.

“As we share each other’s place, through the power of God’s own action in the incarnation, crucifixion, and re­surrection, we’re participating in God’s own person,” skryf Root in Relationships unfiltered: Help for youth workers, volunteers, and parents on creating authentic relationships.

Baie van die stories wat met ons gedeel is, getuig van die volheid van God Drie-enig se teenwoordigheid: die Skepper wat nuwe moontlikhede geskep het, Christus se verlossing wat tasbaar kon raak, die Gees wat op vele maniere getroos en gelei het. Die koinonia (gemeenskaplikheid) van die Drie-eenheid nooi ons na koinonia met ons medemens.

Dít is wat dominees doen.

  • Marileen Steyn is verbonde aan die NG gemeente Saldanha en Melanie Thirion aan die NG gemeente Kenridge.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top