Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

König ontsluit Psalms se wysheid vaardig en vir eie tyd

Geloofskatte uit Psalms deur Adrio König
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2020


Uit die pen van Adrio König kom hierdie klassieke popu­lêre kommentaar op die Psalms.

Getrou aan die patroon van ’n tradisionele kommentaar, word die Psalms tematies verdeel (eerder as hoofstuk-vir-hoofstuk), met hier en daar vers-vir-vers eksegetiese kommentaar. Die Psalms word verdeel as kultuspsalms, klaagliedere, wraak­psalms, boetpsalms en psalms wat met Israel se geskiedenis verband hou. ­Spesiale aandag word gegee aan Psalm 23. Daar is ook ’n hele hoofstuk oor die psalms in die Nuwe Testament.

Telkens word daar ’n kort indeling gegee, gevolg deur meer uitgebreide eksegetiese kommentaar. Die leser sal dus nie dagstukkies, toepassings of “prekies” vind nie, maar wel inte­ressante insig in die teks en die wê­reld van die teks.

Dit is byvoorbeeld treffend om te lees dat die meeste psalms in die Bybel klaagliedere, spesifiek persoonlike klaagliedere, is. Die leser kan dan self toepassings maak. In die bespreking oor die klaagpsalms sê König onder andere: “Dié wat siek is, was ook afgesonder. Siekes was nie toegelaat in die tempel nie. En omdat die hart van hulle godsdiensbeoefe­ning die tempel was, was dit ’n vreeslike afsondering.” Inderdaad ’n roe­rend treffende sin wat roep om toe­passing in 2020!

Die gesprek oor die teks gee egter ook aanleiding tot interessante besprekings, soos ’n ekskursie oor die verband tussen sonde en siekte, of bespreking oor of Jerusalem steeds die stad van God is. Ook die paragraaf oor die betekenis van God se almag roep die leser tot dieper nadenke as wat die boek self gee.

Hierdie is ’n stewige, deeglike, waardige werk vir enige leek wat graag ’n dieper studie van die Psalms wil maak. Aangesien die boek nie volgens hoofstuk gerangskik is nie, sou ’n indeks van teksverwysings baie handig gewees het.

  • Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant in Port Elizabeth.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top