Reconciliation, forgiveness and violence in Africa
Redakteurs: Marius J Nel, Dion A Forster en Christo H Thesnaar
Uitgewer: African Sun Media, 2020
Laat ek sommer met die intrapslag sê: Hierdie boek lees nie noodwendig maklik nie. Dit is ’n akademiese werk wat vir sommige uitdagend kan wees om te lees.
Tog is ek baie opgewonde oor die boek. In ’n tyd waarin rassespanning tot op die maksimum gedraai is en geweld aan die orde van die dag is, bied hierdie boek broodnodige perspektiewe en insae rondom versoening en vergifnis.
Dit is die produk van ’n interdissiplinêre gesprek tussen Nuwe-Testamentici, sistematiese en praktiese teoloë van die Universiteit Stellenbosch oor die temas van versoening, vergifnis en geweld. Die gesprek word gevoer vanuit ’n spesifiek Afrika-perspektief. Die skrywers streef daarna om te ontdek wat versoening en vergifnis beteken op ’n vasteland deurdrenk van kollektiewe, geïnstitusionaliseerde en sistemiese geweld.
Een van die gawes van die boek is die wyd uiteenlopende en diverse stemme van die verskillende skrywers, wat ervaring van regoor Afrika saambring. Dit het ’n ryk en uitdagende gesprek rondom geweld, vergifnis en versoening tot gevolg, wat na my mening die kerk kan help om haar belangrike rol in hierdie proses te ontdek en te vestig.
Wilhelm Verwoerd sluit die bundel meesterlik af met ’n baie persoonlike beeld van oop biddende hande met sagte palms teen mekaar wat versoening, vrede en heling simboliseer, teenoor gebalde vuiste wat vrees, mag en geweld simboliseer. Hy moedig die leser aan om te beweeg vanaf ’n onaantasbare, verharde en gebalde vuis, na ’n plek van biddende kwesbaarheid. Volgens hom sal dit ons kan help om nie blind of doof te wees vir die pleidooi van die armes en diegene wat polities uitgebuit word nie.
Ek is geraak deur elke skrywer se bydrae. Ek, as ’n wit NG predikant in ’n hoofsaaklik wit Afrikaanse voorstedelike gemeente, besef ook net weereens hoe anders my storie is as dié van baie ander Suid-Afrikaners, soos onder andere Mgcineni Noki, die 30-jarige man wat die Marikana-staking gelei het. Daarom het ek baie waardering vir die uiteenlopende ervaring en deeglik gegronde teologiese perspektiewe rondom versoening, vergifnis en geweld wat hierdie boek bring.
Ek dink dit is een van daardie boeke wat elke predikant maar op haar boekrak moet hê. Die saak van versoening en vergifnis is immers een waartoe die kerk geroep word.
- Ds Ghisnene Müller is predikant by die NG gemeente Verwoerdpark.