Mense wat siek is of ander probleme het word aan ’n groep vrywilligers in sy gemeente toegewys en dan bring hierdie “engele” elke Saterdagaand (anoniem) ’n geskenkie aan die gelukkiges, net as gebaar om aan die mense te wys dat daar aan hulle gedink word, skryf Leopold Scholtz uit Delft in Nederland.
Kersfees 2020 in Europa is anders as Kersfees in ander jare. Korona beduiwel alles, en tog probeer mense iéts van die fees aan die gang te hou.
Dit is hartjie-winter. Buite is dit kóúd – van net bo vriespunt aan die kus tot ver onder vriespunt – in die berge gepaard met dik pakke sneeu – in die binneland.
Dis dónker. Dit word eers teen negeuur soggens skemer, en teen vyfuur smiddags is dit al weer byna pikdonker. En dikwels maak die dik wolke dit nóg donkerder.
Dit klink erger as wat dit is. In dié donker en koue tyd is daar altyd ’n tinteling in die lug.
Dit is Desember, en in byna elke straat waar mense woon, sien jy honderde liggies in die vensters, in die tuine, op die balkonne. Dis byna ’n sprokieswêreld.
Tradisioneel is dit die tyd dat families en vriende bymekaar kom. Gesellig warm binnenshuis, met sop, soms selfgemaakte pons, wyn of bier.
En op Kersaand en Kersfeesoggend gaan duisende mense wat andersins nie meer in die kerk kom nie, tog kerk toe. Die kerke is ryk versier, met Kersbome, kandelare en kerse wat van die gewelf hang, en die mense sit styf teen mekaar in die banke. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Die orrel speel, daar is meestal ’n koor wat verskeie liedere ingestudeer het, en die gemeente sing Kersliedere uit volle bors.
Self beleef ek Desembermaand – en dan veral Kersfees – as ’n absolute hoogtepunt van die jaar.
Maar dit is hoe sake ánder jare is. Nie vanjaar nie. Want vanjaar is Europa, soos die hele wêreld, vasgevang in die wrede greep van die ergste pandemie sedert die Spaanse Griep van 1918-19.
Wat beteken dat mense maskers moet dra en minstens 1,5 meter van mekaar moet bly. In alle binnenshuise ruimtes – in die winkels, die kerke – word net ’n beperkte aantal mense toegelaat.
Hier in Nederland mag kerkdienste deur ’n maksimum van 30 mense bygewoon word. Dit sluit die predikant, orrelis, koster en kerkraadslede in.
Wat beteken dat Kersfees vanjaar maar ’n vaal en bleek affêre is. Mense ly daaronder. Jy mag slegs drie gaste tuis ontvang, die tradisionele koffie ná die eredienste het verval.
Maar die kerke doen tog groot moeite om mense iéts te bied. Die kerkdienste word op die internet gebeeldsaai. Mense wat tóg self iets van die diens wil meemaak, word aangemoedig om buite die kerk te staan en die diens op ’n skerm te volg en saam te sing.
Die kerk waarheen ons gaan – die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) se gemeente in die skilderagtige dorpie Schipluiden net buite Delft – het vir die adventstyd ’n interessante projek bedink. “Engele” (dis vrywillige gemeentelede) kry elkeen bepaalde mense wat siek is of ander probleme het, toegewys. Dan bring die engele elke Saterdagaand (anoniem) ’n geskenkie aan die gelukkiges, net as gebaar om aan die mense te wys dat daar aan hulle gedink word.
Op plekke word ’n Kerswandeling georganiseer, wanneer mense met kerse of lampies deur die strate loop. Op ander plekke sorg die kerke vir ’n Kersmaaltyd op 25 Desember – dan word gaar kos by oues van dae of siekes afgelewer sodat hulle ook op ’n manier in die vreugde kan deel.
Die sentrale tema wat die PKN vir sy gemeentes vir Kersfees 2020 in gedagte het, is “Gee lig aan mekaar”. Dit gaan uiteindelik om die lig wat Christus se geboorte in ’n donker wêreld gebring het, en om daardie lig in die donker van die Koronawêreld te versprei.
Uitendelik bly die hoop dat dit aanstaande jaar beter sal wees. Soos die Jode deur eeue heen vir mekaar gesê het: “Volgende jaar in Jerusalem!”
- Dr Leopold Scholtz is ’n onafhanklike joernalis.
