Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Laingsburg-vloed: 40 jaar en ander simbole van hoop

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Hierdie maand is dit presies 40 jaar gelede wat die natuur haar volle mag kom uitoefen het op die dorp en gemeenskap van Laingsburg. Op hierdie dag het die grootste natuurlike ramp van Suid-Afrika se geskiedenis geskied, mens en dier was weerloos vir die Buffels- en Baviaansrivier se magdom water, wat die dorp van Laingsburg laat opdam het en sy siel laat wegspoel het. Hierdie tragedie het almal en alles geraak.

Ek sal myself nie beskou as ’n ‘simboloog’ of kenner op die gebied van simboliek nie. Maar Laingsburg is ’n gemeenskap wat vol simbole is. So leef die inwoners van hierdie dorp en distrik. Hulle hou die natuur dop vir enige teken van hoop wat dalk op pad is. Hier leer ’n mens om opnuut op God te vertrou en te soek na tekens van hoop. Hier word ’n gelowige se geloof getoets tot die uiterste toe, maar ook beloon aan die einde van die smeltkroes.

Van die begin van my bediening af op Laingsburg is ek toegespoel deur ‘vloedstories’. ’n Hele paar van die ouer geslag inwoners van Laingsburg kan tot vandag toe nog, met baie angswekkende detail, vertel waar hulle was op die dag van 25 Januarie 1981. Sommige het op daardie dag geliefdes verloor, sommige het hulle aardse besittings verloor en sommige het ’n stukkie van hulleself verloor. Met die vertel van hierdie verhale, is daar nie meer altyd trane oor nie, maar die herinneringe van daardie vreeslike dag het diepe letsels gelaat. Daar is egter ’n hele nuwe geslag wat nog nie geleef het toe die vloed plaasgevind het nie, en elkeen ervaar die aanhoor van die ‘vloedstories’ verskillend.

Maar dit is nou 40 jaar later en die wêreld gaan ook aan. Dit is egter ondenkbaar dat Laingsburg tans die teenoorgestelde ramp deurgaan, ’n sewejaar-lange droogte. Weereens ’n simboliese getal. Januarie 2014 het dit laas voldoende gereën in die distrik, genoeg dat die Buffels- en Baviaansrivier weer voluit kon loop en lewe bring na die dorre aarde. Maar tog is daar tekens van die hoop wat op pad is: Op 5 Januarie vanjaar het die Buffels- en Baviaansrivier weer begin loop. Nog nie genoeg nie, maar die tekens is daar.

Volgende keer as jy deur Laingsburg ry op die N1-snelweg, moet jy hier stop en kom deel in hulle verhale van hoop.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top