Sterfgevalle: ‘Piet Kommunis’

Met die dood van ds Pieter de Wet (89) op 18 Januarie 2021, sak die kerklike gordyn en ’n eiesoortige hoofstuk word afgesluit in die NG Kerk, skryf GERDRIE VAN DER MERWE.

Skielik onthou ons met ’n glimlag hierdie interessante en le­gendariese mens, wie se seggings­krag en doen van dinge ons vandag met heimwee in herinnering roep. Ds “Piet Kommunis” verwerf hierdie titel, omdat hy van 1975 tot 1996 die Algemene Sinode van die NG Kerk se sekretaris vir sending onder kommuniste is. Hy het dit nie net doodgeleef nie, maar ook oorleef. Hy het diep spore getrap in die harte en lewens van leraars en kerkmense, ’n oujongkêrel wat altyd ’n welkome gas was in meer as een pastorie oor die hele Suid-Afrika. Ds Pieter was ’n belese heer met ’n skerp intellek en geheue, iemand wat in opregtheid geleef het en wie se menslikheid en droë humorsin groot vreugde en warmte gebring het in die soms starre en vervelige kerklike milieu. Hierdie kaalkop dominee, met sy soms verleë skalkse glimlag, het ’n dinamiese, menslike vonk gebring in meer as een konsistorie, kerklike vergaderings en ook vir die kerkvolk op voetsoolvlak.

Pieter Wouter de Wet is op 7 Junie 1931 gebore op Wolmaransstad. Hy is die oudste van drie kinders, die eens sieklike seuntjie van Hendrik en Nora de Wet, wat geboer het op die plaas Doornfontein in die distrik Ottosdal. Hy word in die plaashuis gedoop deur ds SF Weich tydens huisbesoek, want almal was bang die seuntjie gaan ongedoop sterf. Die jong Pieter bly leef en word groot op Makwassie, waar hy in die begin van 1939 leerling word aan die Laerskool Makwassie en in 1948 matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad. Hy is Dux-leerling van die skool en stel belang in seëls en is tot sy oudag toe ’n kra­nige seëlversamelaar. Hy voel geroe­pe vir die evangeliebediening en begin in 1949 studeer aan Tukkies, waar hy einde 1955 as proponent gelegitimeer word. Hy word sendeling in Noord-Nigerië (1956-1959) en Barberton (1959-1961), NG leraar van die gemeente Bremersdorp in Swaziland (1961-1965), die gemeente Lusaka in Midde-Afrika (1965-1971) en die gemeente Delportshoop (1971-1973). In 1973 word hy Algemene Sekretaris van die Sinode van Midde-Afrika en in 1975 betree hy die Algemene Sinode se pos vir Sending onder Kommuniste, met standplaas Pretoria, waar hy in 1996 emeriteer.

Ds Pieter de Wet het altyd met ’n tong in die kies gepraat van rysmiere wat hom pla, want hy was ’n wêreldreisiger wat verslaaf was aan reise buite die landsgrense. Hy het in sy leeftyd meer as 50 lande besoek, ’n pelgrim en kerklike pleitbesorger vir die evangelie van Jesus Christus oor die wêreld heen. Sy taalaanleg het deure oopgemaak vir die blye evangelie, hy was baie tale magtig en kon Russies lees en skryf. Hy was nooit getroud nie en het altyd gesê watter vrou sal by so ’n uithuisige man kan uithou?

Ds Pieter de Wet keer na sy aftrede in 1996 terug na Makwassie en omstreke, sy hartland. Met sy afsterwe is hy ’n inwoner van die ouetehuis op Wolmaransstad. Ons wat Pieter de Wet goed geken het, onthou sy gewoonte om na ’n klein hoesie altyd te sê: “Dit sal nie meer lank wees nie!”. En tog was dit lank genoeg, want hy leef byna nege dekades lank, maar uiteindelik het sy lank kort geword toe hy op Maandagmiddag 18 Janua­rie 2021 sterf op Wolmaransstad. Dit is sy geboorte- en sterfplek, waar die sirkel vir hom voltooi is hemelwaarts! Sy vriend, prof Fanie Snyman, hou ’n herinneringsdiens op Vrydag 22 Ja­nuarie 2021 in die NG Kerk Makwassie, die gemeente waar Pieter belydenis van geloof afgelê het, waar hy georden is as bedienaar van die Goddelike Woord en waar sy moeder 35 jaar lank die Here gedien het as orrelis.

Word 'n vriend van Kerkbode